Seniors klim op Alladin se tapyt Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 25 March 2020 06:30
Untitled Document

Die Seniors van Tierpoort het op 4 Maart 2020 hulle reis om die wêreld voortgesit, met Marokko as eindbestemming.

Die Marokkaanse atmosfeer by Shokran in Taustraat was die ideale keuse vir dié byeenkoms. Charmaine Lourens en haar span het uit hulle pad gegaan om die 70 seniors gul te ontvang. Hulle is met ‘n warm ment tee en voorgeregte van verskillende broodjies, olywe en doopsouse verwelkom.


Buikdanslesse

Hanelie Jaumme het almal uitgenooi om op Alladin se tapyt saam met haar deur Marokko te reis. Met eerstehandse kennis van dié land, kon sy die gaste met idilliese beskrywings van die toeristeaantreklikhede betower.

Die verbeeldingsreis het by die bloustad, Essaouira, geëindig waar pret, kos en vermaak deur buikdanseres, Zelmia, op die gaste gewag het. Zelmia, van Danse Da Ventre Belly Dance Studio, het die seniors gratis geleer om buikdanse te doen.


Buikdanseres Zelmia in aksie

Die Marokkaanse disse in tagines op die bont gedekte tafels was treffers: Fillo pasteie met hoender en eiers, aangevul met koeskoes en gebakte groente. Die ete is met dadelpoeding, room en lemoenbloeiselvla afgesluit.

 

© 2020 Die/The Bronberger