Só het 1918 se ‘Spaanse Griep’ verwoesting gesaai Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 23 April 2020 08:00
Untitled Document

Mense kan deesdae nie help om terug te dink aan die Groot Griep van 1918 nie en te wonder of ons enige lesse uit die geskiedenis kan leer. Dié griep het ook as Spaanse Griep of die Driedaggriep bekend gestaan, omdat baie mense binne drie dae dood is.

Toentertyd het die mense nie geweet dat die siekte deur ’n virus veroorsaak is nie. Die griepvirus is eers in die vroeë 1930’s ontdek. Navorsers het die virus wat griep in varke veroorsaak in 1931 geïsoleer en dié wat griep in mense veroorsaak in 1933.


DC Boonzaaier se spotprent wat in ‘De Burger’ van 16 Oktober 1918 verskyn het

Die griep het ook glad nie in Spanje ontstaan nie, maar is só genoem omdat dit in die tyd van die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het en Europese koerante onder streng sensuur was. Spanje was egter neutraal en kon berig wat hulle wou; daarom het die eerste berigte oor die griep van daar af gekom.

Dit is juis ook oor die oorlog dat die griep so vinnig na Suid-Afrika versprei het. Die hawens in Durban en Kaapstad is druk deur skepe besoek en verskeie troepeskepe met soldate wat die griep gehad het, het by die hawens aangedoen.

Die eerste golf van die griep was van Maart tot Mei 1918 in die Noordelike Halfrond. Dit was matig, maar hoogs aansteeklik en die virus het die vermoë ontwikkel om vinnig oorgedra te word. Met die tweede golf van September tot Oktober 1918 het die virus reeds mutasies gevorm en was dodelik.


Daar is reklame gemaak dat ‘Menthol’ snuif teen die ‘Spaansche’ Griep gebruik kan word
Foto: Pluto Water company.

Skepe
In September 1918 het die troepeskepe Jaroslav en Veroney vanaf Sierra Leone in Tafelbaai aangekom en die skip Salamis vanaf die ooskus van Afrika in Durban. Die Portugese posboot, Lourenço Marques, het van die Kaapse hawe na Lissabon, Portugal vertrek en in daardie vaart het 200 mense op see aan die griep gesterf.

Professor Howard Phillips, ’n historikus aan die Universiteit van Kaapstad, vertel dat daar 2 000 swart Suid-Afrikaanse Arbeidskorps-soldate aan boord van die Jaroslav en Veroney was. Hulle is gerepatrieer ná hulle langer as ‘n jaar op die slagvelde van Frankryk en België as nie-vegtendes spandeer het om hulpondersteuning aan die wit soldate aan die front te lewer.


Pasiënte saam met mediese personeel by ’n tydelike tenthospitaal buite Ladysmith in die ou Natal
Bron: H. Phillips, ‘In a Time of Plague: Memories of the Spanish Flu Epidemic of 1918 in South Africa’, deur die Van Riebeeck
Vereniging, Kaapstad, 2018

Hulle skeepvaart het ‘n tussenstop in Freetown, Sierra Leone ingesluit en dit is daar waar hulle die griep aangesteek het. Binne dae ná hulle vertrek het dié soldate begin siek word. Die korps se mediese beampte het gesê dat hulle gewone griep het, maar 13 siek troepe is as voorsorgmaatreël by 7 Militêre Hospitaal in Woodstock in isolasie geplaas. Die res van die troepe is onder kwarantyn geplaas by ‘n militêre kamp in Rosebank. Daar is hulle drie keer in 72 uur vir tekens van griep ondersoek voor hulle gedemobiliseer is.

Dié ondersoeke was glo redelik oppervlakkig en drie dae later het hulle toestemming gekry om treine na bestemmings dwarsoor die land te neem. Blykbaar was die kwarantynmaatreëls ook nie streng toegepas nie en die ‘Cape Argus’ het op 9 Oktober 1918 berig dat baie van dié troepe oral rondgeloop het.


n Militêre begrafnis op 18 Oktober 1918 vir ’n verpleegster, suster Edmeades, in Potchefstroom
Bron: H. Phillips, ‘In a Time of Plague: Memories of the Spanish Flu Epidemic of 1918 in South Africa’, deur die Van Riebeeck Vereniging, Kaapstad, 2018

Uitbraak
Griep het slegs een dag ná die troepe die kamp verlaat het onder die personeel van die militêre kamp begin uitbreek, asook by 7 Militêre Hospitaal en onder lede van die vervoereenheid wat die troepe vanaf die hawe vervoer het. Selfs vissermanne en dokwerkers het siek geword.

Teen daardie tyd was die treine goed onderweg en later het mense ook op dorpe waar die trein gestop het, begin siek word. Siek troepe is dwarsoor die land afgelaai. Prof Phillips skryf dat selfs mense in afgeleë distrikte soos Tsolo in Transkei siek geword het. Die plaaslike landdros het destyds berig dat siekte dié distrik getref het ná die troepe daar aangekom het.


Burggraaf Sydney Buxton (met kuil), goewerneur-generaal, by die Milnerparkskool in Johannesburg waar kinders wag om sop en melk te kry in 1918 se Groot Griep
Bron: H. Phillips, ‘In a Time of Plague: Memories of the Spanish Flu Epidemic of 1918 in South Africa’, deur die Van Riebeeck
Vereniging, Kaapstad, 2018

Vir die pasgevormde Unie van Suid-Afrika het die griep op ’n baie ongunstige tyd gekom: Daar was ‘n ekonomiese insinking weens die Eerste Wêreldoorlog, wat gevolg het op die hakke van die 1914–1916 droogte, gevolg deur die 1916–1917 vloede. Boonop was daar minder dokters en gesondheidswerkers in die land, omdat hulle nog nie van die oorlog af terug gekeer het nie.

Daar was nog baie bittere gevoelens ná die 1914 Rebellie, wat aan die begin van die oorlog uitgebreek het, en die armblanke-probleem ná die konsentrasiekampe van die Engelse Oorlog. Die ongesonde toestande in die mynskagte en mynkampongs was nog nie opgelos nie.


Kinders van Vrededorp in Johannesburg staan tou om kos en medisyne van die Boy Scouts te kry. Baie het hulle eie bottels en kannetjies saamgeneem
Bron: H. Phillips, ‘In a Time of Plague: Memories of the Spanish Flu Epidemic of 1918 in South Africa’, deur die Van Riebeeck
Vereniging, Kaapstad, 2018

Sterftes
In die eerste ses weke van September – Oktober 1918 het sowat 350 000 mense gesterf, en tot vier miljoen van die land se (toe) sewe miljoen mense het siek geword. Vyf persent van die bevolking het doodgegaan en na raming was omtrent 60% siek, sê prof Phillips.

Statistieke oor die Groot Griep verskil, want dit was destyds baie moeilik om die presiese sterftesyfers te bepaal. Suid-Afrikaanse wetgewing het toe nog nie voorsiening gemaak vir die opname van die dodetal onder groot dele van die swart bevolking nie, veral in die landelike gebiede.


Die oorspronklike Barnard-opstal van die plaas Boschkop se begraafplaas wys dat mense hier ook aan die griep dood is. Petrus Johannes van der Merwe is op 14 Junie 1919 aan die Groot Griep dood. Die grafsteen lees: “Met liefdevolle aandenking van de treurende ouders, CJ en JJA van der Merwe, gebore Barnard”

Petrus Stefanus van der Merwe van die plaas Boschkop is tien dae voor sy broer, op
4 Junie 1919 aan griep dood. Hy was nog ‘n kind van CJ en JJA van der Merwe, gebore Barnard
.
.
.
.

Susanna Katrina van der Merwe, gebore van Vuuren, word ook betreur deur die Boschkopse ouerpaar, CJ en JJA van der Merwe, gebore Barnard. Sy is op 22 Junie 1919 dood
.
.
.
.

Die kenners neem ook aan dat die omvang van die krisis in die laaste deel van 1918 van so ‘n aard was dat die aantekening van sterftesyfers, selfs in stede en dorpe, agter geraak het.

Hoe het historici dan bepaal wat die amptelike sterftesyfer in die land was? Prof Phillips sê dat hulle moes staatmaak op ‘n goed-ingeligte skatting afgelei uit getalle voorsien deur die regerings-aangestelde Griep Epidemie Kommissie en die vrystelling van getalle vir die Mei 1921 sensus-opname.


Selfs Pluto Water is as teenvoeter vir die Spaanse Griep geadverteer
Foto: Pluto Water company.

Dié opname het gevind dat, gebaseer op verwagte bevolkingsgroeistatistieke, die totaal vir die swart, gekleurde en Indiese bevolkings omtrent ‘n miljoen te min was. Die Unie-regering het beslis dat dié tekort aan sterftes in die griep-epidemie toegeskryf kan word. Dit het amper presies ooreengekom met die geskatte aantal sterftes.

Omtrent 50 miljoen mense het wêreldwyd in die Groot Griep beswyk. Suid-Afrika is die land wat die vyfde hardste in die wêreld getref is en die dodetal was amper so hoog soos dié in Amerika.


‘n Militêre noodhospitaal in die 1918-epidemie in die VSA
Foto: Nasionale Museum van Gesondheid en Medisyne in Washington, VSA

Virus
Vreemd vir griep, was die meeste mense wat doodgegaan het tussen 16 en 40 jaar oud. Dié raaisel is eers in 2005 opgelos toe die virus se genoom gekarteer is. Daardie jaar het ‘n span navorsers van Amerikaanse universiteite en die regering ‘n aankondiging oor ‘n virologiese deurbraak gemaak. Hulle het gesê dat die Groot Griep voëlgriep was.

Dit het dié Amerikaanse wetenskaplikes tien jaar geneem om dié 1918 voëlgriepvirus te identifiseer. Hulle het longweefsel van mense wat weens die virus beswyk het, gebruik: ‘n vrou in Alaska en twee Amerikaanse soldate.


Die St Louis Rooikruis motorkorps waar masker-draende vroue draagbare in Oktober 1918 in St Louis, Missouri gereed hou
Foto: Underwood Archives/Getty Images

Die Alaska-vrou se lyk is uit ‘n massagraf in bevrore grond opgediep en die twee soldate se weefsel is in ‘n patologiese laboratorium van die weermag opgespoor. Dit was amper 100 jaar lank in formalien bewaar.

Die kenners het berig dat jonger mense se sterker immuniteitstelsel fataal oorreageer het op die virus en veroorsaak het dat hulle immuniteitselle hulle organe aangetas het.

Suid-Afrika is met omtrent 900 000 weeskinders gelaat wat albei of een ouer verloor het. Dit is mense wie se stories vergete geraak het in die nadraai van die Eerste Wêreldoorlog.


Die Unie Departement van Openbare Gesondheid, Pretoria het op 22 Oktober 1918 hierdie kennisgewing (GD528) uitgereik met riglyne oor die simptome van die siekte, voorsorgmaatreëls en stappe vir herstel. Onder die afdeling ‘Vermy die siekte’ was daar maatreëls soos: Leef so veel as moontlik in die buitelug en sonskyn; vermy skares en baie mense in ‘n vertrek; gee aandag aan jou algemene gesondheid; bly fiks; eet baie eenvoudige, gesonde kos; en sorg vir ‘n gereelde stoelgang
Bron: Dokument versameling, Nasionale Museum

Stories
Veertig jaar gelede het prof Phillips vir sy doktorsgraad in geskiedenis onderhoude gevoer met 170 Suid-Afrikaners van alle bevolkingsgroepe wat dié pandemie oorleef het. Dit was die laaste plaaslike generasie wat die pandemie oorleef het en wie se verhale, saam met 40 briewe wat hy ontvang het, bewaar en opgeteken is.

Dié stories is deur die Van Riebeeck-stigting uitgegee in ’n boek getiteld ‘In a Time of Plague: Memories of the “Spanish” Flu Epidemic of 1918 in South Africa’.


Kinientablette was een van die rate teen Spaanse Griep
Foto: Historisch Nieuwsblad

Prof Phillips vertel dat die swart en bruin mense meestal die weeskinders in hulle eie families ingeneem het, maar dat die wit mense se kerke en die regering ’n magdom weeshuise gebou het.

“Ons het nog nooit voor of ná dit soveel weeshuise gebou nie . . . Daar is kinders wat van hul sibbe geskei is en hulle nooit weer gesien het nie.”


“Spaansche Ziekte – Menthaform-Tabletten, een voorbehoedmiddel”
Foto: WO1-BE

Dit was in baie gevalle ook kinders wat na die sopkombuise en depots moes gaan om sop, melk en ander voorraad vir hulle siek gesinne te gaan haal. In prof Phillips se boek is daar stories van kinders so jonk as sewe jaar wat tot drie keer ’n dag met kannetjies sop heen en weer gehardloop het.

Omtrent al die mense het in hulle vertellings verwys na die waens met lyke wat daagliks verbygekom het. Hospitale het ineengestort en mense is in tentedorpe of tuis versorg of glad nie. Kerke, winkels, poskantore, banke, skole en howe het gesluit; boerderye het tot stilstand gekom en treine en trems het gestaan.


Met geen medisyne vir die griep nie, het mense alles probeer – selfs bier – om hulle immuunstelsels
op te bou
Foto: The Friend, 5 Oktober 1918

Medikasie
Destyds was daar verskeie gerugte oor die griep se oorsprong. Sommige het gesê dit is longpes en ander het beweer dat die oorsprong gelê het in kieme wat deur die Duitsers se gifgas versprei is.

Prof Phillips vertel dat mense nie net die Duitsers nie, maar ook die Engelse, mekaar, God, sonde en hekse blameer het en dat party voorspel het dat die oordeelsdag naby is.

Allerlei middels is aangegryp om die griep te beheer, soos kinien, knoffel, kaneel, suurlemoen, brandewyn, aspirien, hoesmiddels, strignientonikum, kanferolie, lynolie en Engelse sout. Eers later is ’n serum ontwikkel wat die griep glo effens versag het.


‘SAR Ambulance Depot’ lees die bordjie. Dié was ‘n tydelike hospitaal wat in Braamfontein ingerig is. Die foto is in Januarie 1919 geneem
Bron: Brits, E. “Groot Griep het SA se landskap vir ewig verander”, 27 January 2018

Kruie en veldplante is ook as selfmedikasie gebruik, soos wynruit en ‘lengana’, ’n vaalgroen plant met klein fyn blare. Die plante is gekook en soos tee getrek en gedrink om te help vir die koors.

Daar was ook verskeie onkonvensionele rate, soos dat die warm, vars pensmis van ’n pas geslagte bok in ’n stuk lap toegedraai en op die pasiënt se bors gesit moet word om die inflammasie uit te trek. Ander mense het selfs bokmis gekook en getrek en pasiënte moes dié treksel drink.


Ondersteun die Bronnie
Die gevolge van die inperkingstyd noop ons om ‘n beroep op lesers te doen. As onafhanklike gemeenskapspublikasie bring Die Bronberger die afgelope 18 jaar jou gemeenskapsnuus gratis na jou toe. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en as jy ‘n vrywillige bydrae lewer, help jy ons om dit wat jy graag wil lees, te skryf. Hoe klein of groot ook al, help jou finansiële bydrae ons om ‘n eiesoortige gemeenskap aan te hou dien.
Elektroniese oorplasing:
Naam: 
Bronberg Uitgewers                          
Bank: 
First National Bank
Tak: 
Olympus Plaza                          
Takkode: 
258155
Rekening: 
62446997407
Soort: Tjek   
Verwysing: 
Donasie (jou naam)
E-pos: 
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger April weergawe in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger