Corona steek kop eeue al in strokies, stasies en sopies uit Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 23 April 2020 08:00
Untitled Document

Angie Kleijn

Die jaar 2020 sal vir ewig onthou word vir die terme ‘koronavirus’ en ‘Covid-19’. In ‘n ligter luim het ons besluit om te gaan soek na plekke waar die woord ‘corona’ voor dié pandemie voorgekom het.

Dit is die naam van ‘n karakter in Asterix en Obelix, van ‘n bier, ‘n plaaslike fees, verskeie hotelle, herberge en selfs ‘n Johannesburgse Vrymesselaarslosie; die naam van motors, ‘n stasie tussen Brits en Thabazimbi, winkels en dorpe. Daar is selfs ‘n Heilige Corona wat uit die tweede eeu dateer.

Die woord ‘corona’ is die Latyns vir kroon en die virus het sy naam gekry oor die kroon-agtige punte wat onder ‘n mikroskoop op sy oppervlakte sigbaar is.


Die 1957 Corona (ST10) van Toyopet
Foto: Wikipedia

Heilige
Geleerdes stry in dié virus-tyd met mekaar of die Heilige Corona een van die Beskermheiliges van pandemies was en of sy net ‘n Beskermheilige van skattejagte was.

Vroeër vanjaar het ‘Reuters’ berig dat Corona die “Beskermheilige van epidemies” was en dat haar oorskot beskikbaar sal wees vir verering sodra die pandemie verby is. In Maart vanjaar het die Rooms Katolieke Bisdom van Raleigh voorgestel dat mense die Heilige Corona vereer in ondersteuning van die wêreld-ekonomie.


Die Heilige Corona in Denemarke se
nasionale galery
Foto: Wikipedia

Die Heilige Corona is tussen twee
palmbome vasgebind
Foto: Creative Commons

Haar oorskot is in Anzu, ‘n dorpie in noordelike Italië en een van die Europese plekke wat die ergste deur die koronavirus getref is en van die eerstes waar die Italiaanse grendeltyd ingestel is.

Die Heilige Corona se verhaal is eers eeue ná sy naby die hedendaagse Sirië gelewe het, opgeteken. Haar naam kom van haar visie van twee krone, een vir haarself en een vir die Heilige Victor, saam met wie sy gewoonlik uitgebeeld word.

In een van die eerste weergawes van die Heilige Corona se storie, geskryf deur ‘n priester wat in die vierde eeu geleef het, was Victor ‘n Romeinse soldaat en Corona was die 16-jarige vrou van ‘n ander soldaat. Sy was in die geheim ‘n Christen, maar toe Victor vir sy Christelike geloof gemartel is, het Corona hom gaan troos en haar geloof bely. Sy oë is glo uitgesteek en sy kop is daarna afgekap.


‘n Advertensie in die ‘Vaderland’ van 6 September 1966 waar die Toyota Corona vir R1 718, veiligheidsgordels ingesluit, te koop was
Foto: ‘Vaderland’

Corona is ook gemartel. Sy is tussen twee palmbome vasgebind en dié bome is grond toe gebuig sodat sy uitmekaar geskeur het toe die bome terug geskiet het na hulle volle hoogte.

Ander bronne sê dat Victor en Corona man en vrou was. Hoe dit ook al sy, vandag is daar verskeie standbeelde van haar en dorpe is na haar vernoem. Victor en Corona se gedenkdag is op
24 November (11 November in die Ortodokse kerkkalender), maar hulle feesdag is net om die draai – op 14 Mei.


‘n Motorfietsryer van Grai Motorfietsklub op 8 Maart by die waghokkie van die ou Corona-stasie naby Beestekraal, tussen Brits en Thabazimbi
Foto: Grai Motorcycle Club – South Africa

Plaaslik
In Suid-Afrika is daar verskeie plekke met die naam ‘Corona’. In Berea, Johannesburg is dit die naam van ‘n Vrymesselaarslosie wat in 1902 op erf 62 (1494) in O’Reillyweg gebou is. Vandag is dit een van die min oorspronklike geboue wat in daardie deel van die stad te siene is. Die argitek was JA Cope Christie.

In ‘n bisarre draai van die noodlot is ‘Corona’ die naam van die eerste vragskip wat op 16 Maart in Suid-Afrika in kwarantyn geplaas is. Die skip moes buite Kaapstad se hawe bly nadat ‘n matroos Covid-19 opgedoen het en ‘n ander  bemanningslid in self-afsondering was.


Corona-skemerkelkies kon by dié kroeg in Kaapstad geniet word
Foto: capetownmagazine

Met die samewerking van die hawemeester, Marine Reddingskoördineringsentrum en die Hawe Gesondheidseenheid van die Nasionale Departement van Gesondheid is die twee bemanningslede met lugmag helikopters verwyder en een is hospitaal toe geneem.

Dit is juis in Kaapstad waar die ‘Corona Sunset’ fees op 28 Maart gevier sou word. Dit sou die vyfde jaar in ‘n ry gewees het wat dié fees met internasionale en plaaslike kunstenaars gehou sou word. Die plan was om dié Kaapstadse ‘Corona Sunset’ fees op te volg met een in Durban in September en in Muldersdrif buite Johannesburg in Desember.


Die Corona Vrymesselaarslosie in Berea, Johannesburg
Foto: Wikipedia

Corona is ook die naam van ‘n plattelandse stasie naby Beestekraal-stasie tussen Brits en Thabazimbi. Die ou waghokkie staan verlate in die veld, maar pronk vandag steeds met die naam.

Dan is daar ‘n hele generasie Suid-Afrikaners wat die Toyota Corona-motors onthou en ons het selfs ‘n advertensie in die ‘Vaderland’ van 6 September 1966 opgespoor waar die Toyota Corona vir R1 718, veiligheidsgordels ingesluit, te koop was.

Die Toyota Corona is deur Japanese vervaardiger, Toyota, deur tien generasies van 1957 tot 2001 vervaardig. Die woord ‘corona’ is ‘n verwysing na die vroeëre Toyota Crown, wat net by Toyota Store-motorhandelaars beskikbaar was.


Die marteling van die Heilige Victor en Corona in ‘Book of Hours’, Frankryk, ongeveer 1480
Foto: Wikipedia

Asterix
Selfs ‘n karakter in ‘Asterix and the Chariot Race’ se naam is Coronavirus. Hy is ‘n gemaskerde strydwadrywer. Asterix en sy boesemvriend, Obelix, neem aan ‘n resies deur Italië deel en Julius Caesar wil hê dat Coronavirus moet wen.

In nog ‘n draai van die noodlot is die skepper van Asterix, Albert Uderzo, onlangs in Frankryk oorlede.


‘Corona’ is die naam van die eerste vragskip wat op 16 Maart in Suid-Afrika in kwarantyn geplaas is
Foto: Anton Petron, MarineTraffic.com

Coronavirus verskyn in die 37ste boek in die Asterix-reeks, wat op 19 Oktober 2017 gepubliseer is. Dit is deur Jean-Yves Ferri geskryf met illustrasies deur Didier Conrad, omdat Uderzo toe reeds afgetree het. Hy het egter tot sy dood in die ouderdom van 92 jaar ‘n arendsoog oor alle publikasies gehou. Hy het nie weens komplikasies van Covid-19 gesterf nie.

Ander fiksie-karakters wat die naam ‘Corona’ dra kom voor in die ‘Spider Riders’ boeke en in die speletjie, ‘Doraemon: Nobita to Mittsu no Seireiseki’. Corona is ‘n fiksie-wêreld in RA Salvatore se


Die ‘Corona Sunset’ fees wat op 28 Maart in Kaapstad gehou sou word
Foto: capetownetc.com

‘Demon Wars’ boeke, die naam van ‘n fiksie-koninkryk in die film ‘Tangled’ en die naam van ‘n berg in die laaste vlak van ‘Super Mario Sunshine’.

Dit is die naam van ‘n ‘Star Trek’-boek deur Greg Bear; van ‘n gedig deur Paul Celan en van ‘n kortverhaal deur Samuel R Delany.


Hotel Corona in Kaplice, Tsjeggiese Republiek is 10 km vanaf die Oostenrykse grens
Foto: Booking.com
.

Dié Indiese ‘Corona’-winkel in die suidelike staat van Kerala het selfie-faam bereik ten midde van die virus pandemie
Foto: Enca

Musiek
Corona is ook die naam van ‘n Italiaanse musiekgroep bekend vir hulle treffer, ‘The Rhythm of the Night’ en van ‘n Dublinse rock-groep. Dit is die naam van ‘n Hollandse drink-en-sing partytjie en die naam van ‘n sirkel priesters of sangers wat rondom ‘n altaar sing – die oorsprong van die woord ‘choir’.

The Minutemen het ‘n liedjie genaamd ‘Corona’ geskryf en Corona (Takemitsu) is ‘n komposisie deur Japanese komponis, Toru Takemitsu. Dit is ook die naam van ‘n 2008 kort film en van ‘n kaartspeletjie (solitaire).


Selfs ‘n karakter in ‘Asterix and the Chariot Race’ se naam is Coronavirus,
‘n gemaskerde strydwadrywer
Foto: freepressjournal.in

Dorpe met dié naam kom op sewe plekke in die Verenigde State voor. Daar is ‘n stadion met dié naam in Mexiko, ‘n teaterskool in London, en ‘n antieke Maya-stad in Suid-Amerika.

Dan is daar die bekende Mexikaanse bier met die naam Corona, maar dit is ook die naam van ‘n koeldrank, ‘n Egiptiese sjokolade- en lekkergoedmaatskappy, ‘n restourant in Nederland, ‘n verskaffer van IBM-rekenaars in die 1980’s, die naam van ‘n tikmasjien wat in 1926 as Smith Corona saamgesmelt het, die naam van sagteware, en ‘n hardeware korreksie van Microsoft se Xbox 360.


Bottels Corona-bier in Mexiko-stad  
Foto: Reuters

In sterrekunde is daar ‘stellar corona’, ‘Corona Borealis’, ‘Corona Australis’ en verskeie gekleurde ringe rondom die son of maan word ‘corona’ genoem. Dit is ook die naam van ‘n 1939–72 VS satelliet-program.

Biologie, wetenskap, fisika en argitektuur spog met ‘n horde ‘corona’ name. Laastens is dit ook die naam van ‘n 1941 lettertipe, ‘n Britse Tweede Wêreldoorlogse inisiatief en ‘n soort sigaar.


Ondersteun die Bronnie
Die gevolge van die inperkingstyd noop ons om ‘n beroep op lesers te doen. As onafhanklike gemeenskapspublikasie bring Die Bronberger die afgelope 18 jaar jou gemeenskapsnuus gratis na jou toe. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en as jy ‘n vrywillige bydrae lewer, help jy ons om dit wat jy graag wil lees, te skryf. Hoe klein of groot ook al, help jou finansiële bydrae ons om ‘n eiesoortige gemeenskap aan te hou dien.
Elektroniese oorplasing:
Naam: 
Bronberg Uitgewers                          
Bank: 
First National Bank
Tak: 
Olympus Plaza                          
Takkode: 
258155
Rekening: 
62446997407
Soort: Tjek   
Verwysing: 
Donasie (jou naam)
E-pos: 
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger April weergawe in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger