Gemeenskap omgekrap oor ‘magsvertoon’ met voedselhulp Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 20 May 2020 20:03
Untitled Document

Baie maatskaplike en liefdadigheidsorganisasies is ontstoke oor die regering se plan om dié organisasies só te reguleer dat die regering self in beheer is van die verspreiding van kos aan behoeftiges in verskeie afsonderingsfases.

Vroeg in Mei het die direkteur vir die koördinering van kos en voedingsversekering, wat deel van die departement van beplanning, monitering en evaluasie vorm, ‘n beleidsriglyn uitgereik waarvolgens alle kosverspreiding deur die departement van maatskaplike ontwikkeling gekoördineer moet word. Dit beteken dat kos by provinsiale verspreidingsentrums afgelaai moet word en van daar af deur amptenare versprei moet word.

Volgens Ian Cameron, AfriForum se gemeenskapsveiligheidshoof, is daar geen regsbasis vir die departement se pogings om die verspreiding van kos onder regeringsbeheer te sentraliseer nie. Hy het gesê dat dié burgerregte-organisasie voortgaan met die verspreiding van kos aan behoeftiges in die inperkingstyd.

Die familieboerenetwerk Saai, wat saam met AfriForum en Solidariteit Helpende Hand se Josef Silo’s-projek ‘n taakmag gestig het vir kosverspreiding, se regspan ondersoek die wetlikheid van dié beleidsriglyn.

Saai se uitvoerende hoof, Francois Rossouw, het gesê hulle gaan nie toelaat dat die skenkings wat boere aan hulle toevertrou om aan die mees kwesbare mense te versprei, deur die regering gereguleer word nie.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê dat dié sakegroep se skenking van R200 000 aan Solidariteit Helpende Hand slegs vir private welwillendheid is en nie aan die staat oorgedra mag word nie.


Vinlat Family Farm het drie sakke vol sagte groenmielies vir die NG Kerk Welbekend se kospakkiesprojek geskenk
Foto’s: Verskaf

Toelaat
Gemagtigde instansies het gevra dat hulle in terme van bestaande regulasies toegelaat word om kosverspreiding vinnig aan hulpbehoewendes te verleen.

Die woordvoerder vir die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling, Thabiso Hlongwane, het later gesê dat die departement slegs bekommerd was oor die gehalte van die produkte wat versprei word en die hantering van verspreiding veral as dit by die handhawing van sosiale afstand kom.

Hulle eis dat daar aan alle gesondheidswetgewing voldoen moet word en dat organisasies die nodige permitte moet hê. Organisasies moet 48 uur voor verspreiding vir elke skenking ‘n permit aanvra.

Volgens Marisa Engelbrecht, sektorhoof van Solidariteit se Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers, skep die departement verwarring en vervreem organisasies, wat jare lank al noodverligting doen.

Instansies soos LIFT Gemeenskapsontwikkeling, bestuur deur die Moreletapark-gemeente, en Brave to Love, bestuur deur Lewende Woord Pretoria-Oos agter Woodlands Boulevard, het die nodige permitte, uitgereik deur die departement van maatskaplike werk.

Garsfontein  se polisiewoordvoerder, Duane Lightfoot,  het gevra dat mense wat hulp aan inwoners van Plastic View en Cemetery View plakkerskampe wil verleen, hulle skenkings eerder aan dié organisasies moet oorhandig.

Vir meer inligting bel NG Moreleta gemeente se woordvoerder, Retha Erasmus: 079-730-5985.


Daar is gemerkte supermarktrollies vir skenkings by die ingange van Cullinan Spar, Wadrift OK en Rayton Pick n Pay

Plakkers
Duane het gesê dat individuele skenkings aan die plakkerskampe die afgelope ruk rampspoedig afgeloop het. Die kos was nie genoeg vir almal nie en het gelei na dreigemente aan skenkers, diefstal en ‘n bakleiery.

Hy het gesê dat dit nie veilige omstandighede is vir individue om naby aan dié kampe te kom nie.

Gevalle is ook aangemeld waar kampinwoners op die hoek van Wekker en Brabhamstrate in Moreletapark bedel. French Jooste, woordvoerder vir Bull Security, sê hulle wil die gemeenskap aanmoedig om nie kos op die strate te gee nie, maar om eerder deur instansies te werk.

‘n Ander sekuriteitsgroep in dié gebied het berig dat mense op hulle hoede moet wees as hulle in Garstfonteinweg, De Ville Bois Mareuil-rylaan en Wekkerstraat ry. Daar is baie klagtes van intimidasie en vandalisme aan voertuie ontvang. Dit is glo van plakkerskampinwoners wat kos bedel.


Nie-bederfbare skenkings wat bymekaar gemaak word

Cullinan
Die Cullinan en Rayton gemeenskapspolisiëringsforum het ‘n skenkingsveldtog in die gebied begin om die gemeenskap in die inperkingstyd te help. Mense is gevra om nie-bederfbare items in gemerkte supermarktrollies te sit by die ingange van Cullinan Spar, Wadrift OK en Rayton Pick n Pay. Vir meer inligting skakel die GPF: 082-575-0222.

Bashewa Saverite Supermark het ‘n gemeenskapsuitreikaksie begin en lewer kospakkies aan gesinne in dié gemeenskap. As jy ‘n bydrae wil lewer, bel Henriëtte: 072-349-5270. As jy vir hulp wil registreer, stuur vir haar ‘n boodskap met die woorde ‘Food help’, die aantal mense en plek waar jy woon.

NG Kerk Welbekend versprei kospakkies wat deur die gemeenskap ingesamel word. Teen die Bronnie se saktyd het dié kerk reeds aan 96 gesinne gereelde kospakkies gelewer. Vir meer inligting, bel Sunette Alers: 082-385-2737.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Mei weergawe in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger