Verbeelding en ywer nie in dié tyd ingeperk Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 20 May 2020 20:31
Untitled Document

Stilsit en niksdoen is nou eenmaal nie in die aard van ons kontrei se mense nie. Vrye keuse en beweging mog wel nou ‘ingeperk’ wees, maar beslis nie die verbeelding en raakvat nie. Ons het ‘n aantal lesers genader en berig hier oor die kunswerke, handewerk en buitengewone take wat in dié toesluit-tyd gestalte gekry het.

Iets wat ons duidelik kon sien is dat baie meer mense as gewoonlik gebak het en dat ‘n groot persentasie van lesers hulle hand aan bierbrouery en wynmaak geslaan het. Die antwoord aan al die manne wat tong-in-die-kies berig het dat grassny die ‘ongewone ding’ is wat hulle aangepak het, is nee – dit tel nie.

Baie mense het gesê dat hulle niks buitengewoon aangepak het nie, maar gesukkel het om sonder werkers voor te bly met huishoudelike takies. Martie Kraamwinkel van Elandshoek sê dat sy goed uitsorteer en binne en buite probeer kop bo water hou. “’n Plot het nie altyd baie genade nie,” sê sy.

Terry Behrens van Vaalbank het ‘n stoor en kerk uit afval-materiaal gebou om “sy gesonde verstand te probeer behou” het hy gesê.


Terry se stoor en kerk

Francois Breytenbach van Boskazi op Bashewa dat hy sy beeld, ‘The Joker’, toevallig op ‘n beeldhou Facebook-groep gesit het toe Donald Trump die ding oor die inname van reinigingsmiddels kwytgeraak het.


Francois se kunswerk, ‘The Joker’

Baie op die groep het gedink dat dit is wat die beeld weerspieël. Francois sê dat ‘The Joker’ egter ‘n inskrywing is vir ’n internasionale kunskompetisie, genaamd ‘The Banality of Evil’, en dat dit voor die virus voltooi is.


Wat Francois eintlik besig is om te doen

Waarmee Francois eintlik in die inperkingstyd besig is, het niks met kuns te doen nie. Hy restoureer sy 1962 Alfa Romeo Giulietta Spider.

Die Van Zyls van Zwavelpoort het ‘n plotprojek by Berg en Dal in grendeltyd aangepak. Groot skade is met Desember se reën aangerig en daar was nooit tyd om op te ruim nie. Die grendeltyd het ‘n goeie geleentheid daarvoor gebied. Wieske, Antoinette en Johan van Zyl vertel dat hulle ook hawer gesaai het as voer vir die perde. Dit groei te pragtig, sê hulle.


Die skade wat Desember se groot reën
aangerig het
.

Die regmaak-proses was ‘n grendeltydprojek saam met Stefan Jordaan. Die werker wat help is
John Mcsoldier

Vivienne van Dyk van Cullinan sê dat hulle in die inperkingstyd aanlyn veilings bygewoon het om voorraad vir hulle winkel, wat antieke ware verkoop, bymekaar te maak. “Ek hoop net dat die grendeltyd nou klaar kry, want ek gaan van die Kaap tot Kaïro moet ry om alles te gaan kry,” sê sy. Vivienne het ook haar kleindogter, Vivica Naudé, leer koekbak. Hulle het ‘n wortelkoek uit oom Willie se ‘Daar is ’n Engel in my koskas’ gemaak, en Vivica moes ná die tyd help skottelgoed was.  


Vivica by die wortelkoek wat sy en haar ouma Vivienne gebak het. Sy het haar lippe self so geverf

Sy het nie meer so ’n groot glimlag teen skottelgoedwastyd nie

Magda Fowlds van Mooiplaats het tuisgegroeide, organiese pietersielie (geen geneties gemanipuleerde produkte nie) wat nooit aan plaagdoders blootgestel is nie, gemaak. Sy het die pietersielie vir een week laat droog word en toe in haar koffiemeul gemaal.


Magda se organiese pietersielie

Dina Greyling van Zwavelpoort het ‘n nostalgiese wit lappie-projek in die inperkingstyd aangepak. Die verhaal begin met Marian Faithful se liedjie, ‘Ballad of Lucy Jordan’: “At the age of thirty-seven She realised she’d never ride Through Paris in a sports car With the warm wind in her hair . . .”

Wel, 10 jaar gelede, in haar 37ste jaar, het Greyling vir Dina Parys toe geneem waar sy op die mooiste markte in stegies wit linnelappies gekoop het.


Dina se wit lappie-projek

Met ’n ander uittog na Cullinan het sy op ’n witgewaste (regtig van was, nie van verf nie) tafeltjie met ’n ou wit katoen tafeldoek met klomp wit lappies op gelap afgekom “en vandag, tien jaar later in hierdie vreemdste tyd . . . toe stik ek my Parys-lappies en ander wit fondse op ’n ander ou wit lap, vier meter lank.

“Hierdie week gaan ek blaartee trek in ’n regte ouwêreldse pot, ’n melktert bak op my ma se resep en saam met my mense tee drink op Parys en Avignon en Cullinan en al my hartsplekke se lappies.”

Peter Norton van Mooiplaats se buurvrou het dié foto ingestuur van die inperkingstydprojek wat hy aangepak het. Peter, wat langs die Boschkoppad woon, het haar houttafeltjie pragtig gerestoureer.


Die opgeknapte houttafeltjie

Amanda Taljaard van ‘n gemmerwinkel op Cullinan het behoorlik tekere gegaan in dié afsonderingstydperk. Sy het een van haar rokke en ’n denim opgesny om maskers te maak, het pynappelbier gemaak (met baie skop!) en het verskillende soorte wyn gemaak. Haar laaste proeflopie was rosynewyn, wat sy in die honde se emmer gemaak het.


Amanda se masker-projek
.

Rosynewyn in die honde se emmer. AxleRose is nie baie beïndruk nie

Inwoners van die Zwavelpoortse Kungwini Welsynsorganisasie se Paul Jungnickelhuis het allerhande projekte in hulle beskermde werkswinkel aangepak. Grendeltyd het dié inwoners glad nie daarvan weerhou om nuwe vaardighede aan te leer en hulle kreatiwiteit uit te leef nie.


Borsspelde van kraletjies

Kunstige sakkies

Hulle het onder andere borsspelde van kraletjies gemaak, papierblomme, opvoubare inkopiesakke wat in jou handsak pas, potlood-versierings en handgemaakte maskers. Teen die Bronnie se saktyd was dié inwoners besig om teater-oorjasse en voetbedekkings vir verpleegpersoneel in die Covid-19 pandemie-tyd te maak.


Teater-oorjasse vir verpleegpersoneel

Maskers

Heila Lochner van Tiegerpoort het self ‘n suurdeegplantjie begin en toe losgetrek met ‘n klomp suurdeegbrode. Sy het foto’s van die hele proses gestuur.


Die begin van die suurdeegbrood

Die gebakte brood

Ilse Richter van Faerie Glen sê dit was vir haar heerlik om haar man tuis te hê, al moes hy steeds werk. “Ons eet daagliks ontbyt saam op die stoep terwyl ons na die voëlgesang luister,” sê sy.


Die kunstige kaartjies wat Ilse gemaak het

Ilse het ‘n paar skeppende projekte aangepak, soos olieverf, kralejuwele en groetekaartjies. Sy het ook aandag gegee aan haar tuin, veral haar groente- en kruietuin. Sy het sop gevries vir die komende winter en koekies gebak vir haar volwasse kinders.


Ilse by haar plante

“Ek het vriende en familie gekontak, foto’s uitgeruil en ons Colyn-stamboom (my nooiensvan) oor ‘n paar geslagte aangeteken.”


Ilse se maskers

Ilse het ook kos en lapmaskers aan behoeftiges uitgedeel en het uiteindelik genoeg Bybelstudietyd gehad.

Die Van Hoepens van Zwavelpoort het verskeie projekte aangepak. Lorette sê sy het baie koekies gebak. “Hou in gedagte dat ek nie eers kan kosmaak nie, so dit was ’n prestasie,” sê sy. Haar sussie Liana het boeke laat blom. Sy het ou bladsye in blomvorm gevou en saamgevoeg en hulle ma, Denyse, het baie beskuit en vleispasteie gebak.


Lorette se koekies

Denyse se vleispasteitjies

Liana maak blomme uit ou boeke

Willie Strauss van Cullinan se opvoerings van ‘Daar is ’n Engel in my Koskas’ (ook die naam van Willie se kookboek) is ’n kombinasie van kabaret en kookdemonstrasies en is een van dié veelsydige kunstenaar se bedrywighede wat weens die inperking in die slag gebly het.

Willie het kopgekrap om ‘ten brode’ besig te raak met iets wat ook troos vir ander in dié treurige omstandighede kan bring. En die idee van ‘troosengels’ het posgevat. Hy sou troosengels in die vorm van lappoppe maak. Net een probleem: Van naaldwerk en naaldwerkmasjiene het hy dadels geweet.


Een van Willie se troosengels

Hy het homself stadig, stik-stik, kan jy maar sê, geleer hoe om met ’n antieke ou Singer-masjien (eintlik ’n ornament in die huis) oor die weg kom. Willie sê hy is ’n beginner. Hy probeer. Stadig maar seker het sy troosengels gestalte gekry.

“Elke troosengel is uniek. Iets wat ek self gemaak het. Elke engel het haar eie naam. Dit vat tyd. My troosengels is nie perfek nie. Ek ook nie. Al wat ek hoop is dat elke troosengel sal hoop en troos bring. Dit is al,” sê Willie.

Jy kan meer oor Willie se troosengels en ander ‘inperkingsprojekte’ op sy Facebook-blad te wete kom. 


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Mei weergawe in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger