Vasbyters swig voor aanvalle op geplunderde Pienaarspoort Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 20 May 2020 20:32
Untitled Document

Petro en Pieter Lemmer, wat van die laaste Pienaarspoorters was om in dié hoewegebied vas te byt, moes ná ‘n roof en aanval hulle eiendom verlaat. Die dubbelverdiepinghuis waarin hulle dekades lank gewoon het, is binne ‘n paar weke ná hulle vertrek in puin gelê.

In Junie 2014 het ons vertel dat huise en winkels wat leeg gestaan het, binne ‘n oogwink gestroop is tot net puin oorgebly het en dat bekommerde inwoners toe al gesien het dat dit al hoe moeiliker raak om eiendom op Pienaarspoort te verkoop.

Petro Lemmer, ‘n omgewingskundige wat jare reeds haar kennis met Die Bronberger se lesers deel, het destyds vir ons die puinhope gaan wys, min wetende dat sy en haar man Pieter ‘n paar jaar daarna die volgende slagoffers sou word.

Sy vertel dat indringers in 2019 op hulle plot begin toeslaan het. Hulle het eers alles wat van metaal gemaak is – soos stoeptralies – begin wegdra. Pieter het ná ‘n konfrontasie begin om sy rewolwer by hom te dra. ‘n Indringer het Pieter se rewolwer by hom afgeneem en sedert Julie 2019 het hy Petro se rewolwer by hom gedra.

In nog ‘n insident was twee indringers by die Lemmers se agterdeur. Petro was binne in die huis en Pieter buite en twee skote is op Pieter afgevuur. Die polisie het later gesê hulle kan nie verstaan hoe die indringer, wat reg langs Pieter gestaan het, hom mis geskiet het nie. Die indringers is met Petro se rewolwer daar weg.


Petro Lemmer

Aanval
In September 2019 het Petro en Pieter geslaap toe die veiligheidshek by hulle slaapkamer met ‘n koevoet oopgebreek is. Vier indringers met balaklawas aan het hulle in die kamer oorrompel. Petro vertel dat Pieter vir ‘n vale baklei het en in die gesig geslaan is.

Hulle het die egpaar met geroeste drade vasgebind en Pieter is so styf vasgemaak dat die drade in sy vlees ingesny het. Petro sê sy het gedink dat Pieter besig is om dood te gaan. Hy is ‘n asmalyer en ná hy vasgebind is, het hulle hom langs die bed laat lê en ‘n lap in sy mond gesit. Sy neus was opgeswel soos hulle hom geslaan het en hy kon nie asem kry nie.

Petro sê dat sy altyd gebid het dat sy geen vrees moet hê as so iets met hulle gebeur nie. Sy sê dat sy aanhou baklei het en vir die aanvallers gesê het hulle moet die lap uit Pieter se mond haal en hom laat regop sit. Die aanvallers het na haar geluister.

Sy het ook met hulle geraas en gesê hulle maak haar seer. Een van die aanvallers het gesê: “Sorry, Mamma.” Later het adjudant-offisier Kobus Ras vir Petro, wat jare lank op ‘n weeklikse basis opheffingswerk in die plaaslike plakkerskampe gedoen het, gesê hy dink dat die aanvallers haar geken het en hulle daarom nie doodgemaak het nie.

Petro sê dat die aanvallers die huis gestroop het. Hulle het alles weggedra, van juwele, selfone, skootrekenaars en alles in die kluis, insluitende ‘n haelgeweer. Sy sê al wat oorgebly het was linne en hulle klere.

Ná die aanvallers weg is, moes Petro ‘n tang vat en in Pieter se vlees indruk om die drade los te sny.

Sy vertel dat hulle die radio aanvanklik gevat het, maar op die boekrak langs die kluis neergesit het.

Toe die alarm afgaan, het hulle weggehardloop en die radio daar vergeet. Petro kon die buurtwag met die radio kontak en hulle was binne vyf minute daar.


Die dubbelverdiepinghuis soos hy eens gelyk het

Fanie
Petro was altyd die Pienaarspoorter wat haar oor ander ontferm het. In Junie 2014 het ons vertel dat die 84-jarige Fanie Gericke van plot 30, Pienaarspoort vir jare lank geteister is. Hy is op 17 Mei 2014 lelik deur die stropers beseer en die gemeenskapsveiligheidsgroep het aanbeveel dat Fanie onmiddellik daar moes weggaan.

Die probleem was dat Fanie nêrens gehad het om heen te gaan nie. Petro kon inderhaas vir hom plek kry by Shammah-huis, net buite Cullinan, maar daar was nie vir hom ‘n bed beskikbaar nie. Gelukkig het die stropers in daardie stadium net een bed in die huis agtergelaat en Petro het dié bed na Shammah-huis geneem. Fanie se huis is binne 12 dae vandat hy uitgetrek het, in puin gelê.

Ons het toe ook berig dat plot 31, wat eers aan die Towsens behoort het, in puin gelê is. Dit is die plot waar Annemarie Towsen ‘n perdryskool gehad het, poniekampe gehou het en Angels with Hooves, ’n nie-winsgewende maatskappy wat perd-geassisteerde sielkunde en perdeterapie vir kinderhuis-kinders gedoen het, bedryf het.

Van die stalle was daar in 2014 reeds niks oor nie. Al wat van die klubhuis oor was, was ‘n paar halwe bakstene en stukke pleister, en die huis is gestroop.

Petro het ons ook gewys hoe plot 33, Pienaarspoort, wat aan Dawie en Zelda van Heerden behoort het gelyk het. Die huis het rondom 2011 afgebrand, maar die mure het nog min of meer staande gebly omdat daar drie gesinne in die buitegeboue gewoon het.


Plot 30 tot 44 Pienaarspoort 339 JR is bokant die spoorlyn. Pienaarspoort 338 JR is ‘n klein gedeelte oorkant die treinspoor waar die plotte lankal ontruim is en nou net plakkerskampe is. Van die Donkerhoekplotte onder aan die kaart word nog bewoon

In November 2018 het ons ‘n anonieme brief geplaas van iemand wat ‘n lys gestuur het van mense wat in Pienaarspoort aangeval word en ten minste 14 kleinhoewes wat geteister word.

In Desember 2018 het ons berig dat ‘n Pienaarspoortse hoewe-eienaar, wat anoniem wou bly, vertel het dat hulle nie net rot en kaal besteel is nie, maar dat hulle huis afbreek is en dat alles wat bruikbaar is, wegdra is. Hulle is met die dood gedreig as hulle dit sou durf om voet op hulle eie eiendom te sit.

Hoeveel hoewebewoners is daar nog oor op Pienaarspoort? Petro sê hulle was die laaste van die ou inwoners wat voltyds gebly het op dié strook van 14 Pienaarspoortplotte vanaf plot 30 tot plot 44 Pienaarspoort 339 JR bokant die spoorlyn.

Sy sê dat daar glo ‘n regeringsman met ‘n agtergrond in mynwese op die plot woon wat eens Jan van Tonder se grond was. Hy wil eintlik ‘n sandmyn daar begin. Dan woon daar nog ‘n gesin met getroue werkers reg langs die plakkerskamp teen die berg.

Pienaarspoort 338 JR is ‘n klein gedeelte oorkant die treinspoor waar die plotte lankal ontruim is en nou net plakkerskampe is. Van die Donkerhoekplotte langs Pienaarspoort word nog bewoon.


Die puin van dit wat eens die Lemmers se dubbelverdieping huis op Pienaarspoort was
Foto’s: Verskaf

Die Lemmers se huis is binne weke in puin gelê
.
.

Cullinan
Ons het in 2014 berig dat eienaars probeer het om hulle plotte as ‘n blok te verkoop. Dié proses is glo nog nie gefinaliseer nie. Petro sê dat sy en Pieter geld geleen het om ‘n huis op Cullinan te koop. Sy sê dat hulle ‘n klomp geld verloor het, maar dat die ongerief en die trauma van die aanval en noodgedwonge trekkery groter is.

Sy vertel dat hulle eie honde van ouderdom dood is, maar dat baie mense, soos hulle oor die jare weggetrek het van Pienaarspoort, hulle diere agtergelaat het. Teen die tyd wat die Lemmers moes trek, het Petro nog so 10 katte gevoer. Sy kon die katte nie daar los nie; het huise gekry vir drie en het met sewe katte getrek.

Dié sewe het vir ‘n ruk by Willie Strauss se kathotel op Cullinan gewoon terwyl Linda Havenga, wat op die Lewzene-plotte buite Cullinan woon, vir Petro gehelp het om ‘n reuse hok te bou, wat deel van die nuwe huis se agterstoep insluit. “Die katte is nou veilig,” sê sy.

In ‘n vreemde draai van die noodlot het die Lemmers die huis gekoop wat voorheen behoort het aan ‘n egpaar wat ook op hulle kleinhoewe buite Cullinan aangeval is.

Drie mans het Piet en Madelein van den Berg, in hulle sestiger jare, in Julie 2009 oorval. Piet is doodgeskiet en Madelein is vasgebind en in ‘n kas toegesluit voor hulle die huis aan die brand gesteek het. Madelein het die voorval oorleef.

Twee van die mans is in Junie 2014 lewenslange tronkstraf plus 20 jaar opgelê. Die derde man, wat met die voorval 18 jaar oud was, is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Mei weergawe in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger