Dopverbod herinner aan Amerika se droewige droë jare Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 20 May 2020 20:33
Untitled Document

Die veel bestrede verbod op die verkoop en vervoer van alkohol in fases van die koronavirus-bestrydingstyd het nie net na geweld en politieke onderonsies gelei nie; maar ook na leë winkelrakke waar jy eens gis, pynappels, rosyntjies, koring en groen appels kon kry.

Suid-Afrika se verbod word met die Amerikaanse alkoholverbod, wat van16 Januarie 1920 tot
5 Desember 1933 geduur het, vergelyk. Daar is kommer dat dié verbod die alkoholsektor in die hande van misdadigers kan plaas, soos wat in Amerika met die berugte Al Capone en ander skurkbase gebeur het.

In 1925 het joernalis HL Mencken geskryf dat die verbod die beste werk wanneer dit gerig is op sy primêre teiken – die armoedige werkersklas. Geskiedkundige Lizabeth Cohen het geskryf dat ‘n ryk familie lank kon oorleef op ‘n kelder vol alkohol sonder enige vreeslike gevolge, maar dat armes handuit ruk op een bottel tuisgebroude bier.

Anders as Suid-Afrikaners, het Amerikaners die ding sien kom. Baie mense wat dit kon bekostig, het drankwinkels of groothandelaars se voorraad opgekoop, selfs pakhuise leeg gekoop. President Woodrow Wilson het sy voorraad alkohol na sy huis geskuif toe sy ampstermyn tot ‘n einde gekom het. Sy opvolger, Warren G Harding, het sy eie voorraad na die Withuis verskuif ná sy inhuldiging as president.

Die werkersklas was glo woedend dat hulle werkgewers ‘n private voorraad alkohol kon geniet terwyl die werknemers niks gehad het nie.


Amerikaners wat buite die huis wou drink moes aan kreatiewe maniere dink om die
alkohol weg te steek
Foto: Bettmann Archive / Gerry Images

Mynwerkers
Dit is met werknemers in gedagte, veral mynwerkers, wat die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se eerste wettige alkoholdistilleerdery op die been gekom het. In 1890 was dié distilleerdery, geleë op die plaas Hatherley langs die Pienaarsrivier, die enigste voorsiener van goedkoop alkohol aan 14 000 swart mynwerkers. Dié getal het teen 1899 tot 100 000 gegroei.

Dié beskermde toegang tot die mark was ’n belangrike deel van Hatherley se suksesstorie. Dit was ook die begin van grootmaat alkoholproduksie in Suid-Afrika. Hugo Nellmapius het in ’n brief aan die ZAR, gedateer 8 September 1881, aansoek gedoen om ’n brandewynstokery, waarvoor hy alleenreg wou hê, op Hatherley te begin.

Die Volksraad het sy versoek goedgekeur en die kontrak is in Oktober 1881 onderteken. So het Nellmapius die 15 jaar konsessie verkry om die enigste vervaardiger in die Republiek te word van sterk drank, “gemaak van graan, aartappels en ander produkte, met die uitsondering van vrugte wat aan bome groei en druiwe”, asook die reg om dié alkohol in grootmaat te verpak en sonder lisensie te verkoop.


Dié linkerkant van dié 1928 foto wys ‘n vrou in ‘n jas. Die regterkantse foto wys dat die vrou twee groot blikke aan haar bene gebind het om alkohol te vervoer
Foto: George Rinhart / Corbis / Getty Images

Dié 1932 foto wys dat lampe gebruik is om drankbottels weg te steek
Foto: Keystone-France / Gamma-Keystone / Getty Images
.

Bankrot
Rondom hierdie tyd het Nellmapius deur een van sy gereelde bankrotskappe gegaan. Hy vorm toe saam met die maatskappy Lewis & Marks, bestaande uit Sammy Marks en die neefs Isaac en Barnett Lewis, beter bekend as Barney Barnato, ’n onderneming wie se registrasie in die Staatskoerant van
14 Julie 1882 as “De Eerste Fabrieken in de Zuid Afrikaansche Republiek (Bep.) geregistreer is. Die konsessie is aan dié maatskappy oorgedra en die stokery is deur president Paul Kruger geopen, wat dit na ‘Volkshoop’ herdoop het.

Hatherley se aanvanklike sukses in die produksie van goedkoop alkohol vir die goudmynbedryf se swart werkers, het vir dié industrie begin probleme skep. Toe mynboukostes begin styg het in die 1890’s, het dit onaanvaarbaar geword dat 15-20 persent van dié werkers nie kon werk nie, omdat hulle te dronk was.


Dié 1922 foto wys ‘n vrou wat by ‘n restourant in Washington sit. Sy gooi alkohol uit haar kierie in haar koppie
Foto: National Photo Company / PhotoQuest / Getty Images
.
.


Smokkelaars het kreatiewe maniere gebruik om hulle alkohol weg te steek. Dié foto is in 1926 in Los Angeles geneem en lyk op die oog af soos ‘n vrag hout. Wanneer die ‘deurtjie’ verwyder word sien ‘n mens 70 kiste whisky
Foto: Bettmann Archive / Getty Images

Met die begin van die depressie in Transvaal in 1896 het myneienaars probeer om die verkoop van alkohol aan mynwerkers onwettig te laat verklaar. Die Transvaalse Volksraad het toe ’n wet afgekondig wat dié verkope vanaf 1 Januarie 1897 verbied.

Daar was egter nie ‘n totale alkohol-verbod in die ZAR nie, anders as die een wat so 23 jaar later landswyd in Amerika onder die 18de Wysiging van die Amerikaanse Grondwet gegeld het. Vandag verbind ons dié 13-jaar-lange droë-tyd in Amerika met woorde soos ‘moonshine’, ‘rumrunners’, bendelede, ‘bootleggers’ en ‘speakeasies’.


Werkers wat vate rol voor Eerste Fabrieken-brouery is deur fotograaf HF Gros afgeneem

Onthouding
Onthoudingsbewegings was sedert die 1840’s reeds in Amerika aktief. Dié ‘droë’ veldtogte is aanvanklik deur godsdienstige denominasies op die been gebring, maar het ná die 1850’s tot stilstand gekom. Dit het in die 1880’s herleef weens ‘n vroueparty, ‘Woman's Christian Temperance Union’, wat in 1874 gestig is en die Verbodsparty, wat in 1869 gestig is.

In 1893 is die ‘Anti-Saloon League’ gestig en dié drie invloedryke groepe was die hoofrolspelers wat uiteindelike in 1920 sukses sou behaal. In 1916 was dié polities onpartydige organisasie instrumenteel in die kies van eensgesindes in albei huise van die Amerikaanse Parlement, wat aan hulle die twee-derde meerderheid gegee het wat nodig was om die 18de Wysiging in werking te stel.

Met die Eerste Wêreldoorlog was die siening dat die brouery- en distilleerderybedrywe waardevolle melasse, korrels en arbeid uit oorlogstydproduksie geneem het. Veral bier is skeef aangekyk, weens die anti-Duitse sentiment.


‘n Mediese voorskrif vir whisky
Foto: Wikipedia

Die 18de Wysiging van die Amerikaanse Grondwet is op 16 Januarie 1919 deur 36 state bekragtig. In wese het dié wysiging die sakelisensies van elke wynmaker, brouer, distilleerder, groothandelaar en handelaar van alkoholiese drank in die land weggeneem.

Alhoewel dit onwettig was om bedwelmende drankies te vervaardig of te versprei, kon mense glo tot 200 gallon wyn of appelwyn per jaar by die huis maak – net nie bier nie. Dit was nie onwettig om alkohol vir persoonlike gebruik binne jou huis te hê nie. Jy kon dit selfs met familie en gaste deel, solank dit nie versprei, verhandel of selfs weggegee is aan enigiemand buite die huis nie.


Onwettige drank word op 31 Maart 1932 in Santa Ana uitgegooi
Foto: Wikipedia

Medisinaal
Kerke is toegelaat om wyn vir nagmaal te ontvang en dokters kon drank aan pasiënte voorskryf op ’n spesiaal ontwerpte regeringsvorm wat gedurende die droë jare by enige apteek gevul kon word.

Whisky en brandewyn vir mediese doeleindes is egter in 1916 reeds uit ‘The Pharmacopeia of the United States of America’ verwyder. Die volgende jaar het die Amerikaanse Mediese Vereniging verklaar dat alkoholgebruik in terapie as ’n tonikum of stimulant vir aptyt geen wetenskaplike waarde het nie.


Die Bier-vir-Belasting of ‘We Want Beer’-parade in Mei 1932, New York
Foto: beeriety

Die Amerikaanse Parlement het in 1921 verhore oor die medisinale waarde van bier gehou. Dokters reg oor Amerika het die herroeping van die alkoholverbod op medisinale alkohol bepleit. Ná slegs ses maande van die alkoholverbod het meer as 15 000 dokters en 57 000 aptekers lisensies gekry om medisinale alkohol voor te skryf of te verkoop. Van 1921 tot 1930 het dokters omtrent $40 miljoen (‘n baie groot fortuin destyds) slegs uit whisky-voorskrifte verdien.

Geskiedkundiges bespiegel dat Charles R Walgreen van Walgreen-faam, uitgebrei het van slegs 20 winkels tot 525 in die 1920’s danksy medisinale alkoholverkope. Natuurlik het smokkelaars gou ingespring. In 1931 is 400 aptekers en 1 000 dokters in ‘n bedrieëry gevang waar dokters getekende voorskrifvorms aan smokkelaars verkoop het.


Vrolike tye ná die alkoholverbod in 1933 tot ‘n einde gekom het
Foto: monstersandcritics.com
.
.


Lede van die ‘American Liberties League’ protesteer op 4 Julie 1921 teen die alkoholverbod met ‘n aanhaling uit die Bybel, 1 Timoteus 5:23: “Gebruik ‘n bietjie wyn vir die maag”
Foto: Underwood & Underwood. Ephemera Collection

Brou
Dié era het nie die verdwyning van alkohol ingelei, soos gehoop is nie, maar het die opkoms van die tuisdistilleerder in landelike gebiede gesien. Op die Amerikaanse platteland het mense hulle eie ‘hooch’ en graan-whisky begin maak en het in die Depressie-jare oorleef deur sogenaamde ‘moonshine’ aan hulle bure te verkoop. Dit is ‘moonshine’ in die plattelandse gebiede van Tennessee, Virginia, Kentucky, Noord- en Suid-Carolina en Georgia genoem, maar ‘bathtub gin’ in noordelike stede.

Hierdie was ook die dae van bottelbier-ontploffings en alkoholvergiftiging. Om smokkelaars te verhoed om industriële etanol te gebruik om onwettige drankies te maak, het die regering ‘n bevel uitgereik dat industriële alkohol vergiftig moet word.

In reaksie daarop het smokkelaars chemici gehuur wat dié alkohol drinkbaar gemaak het. Die regering het toe ‘n nuwe vereiste aan vervaardigers gestel – voeg meer dodelike gifstowwe by, insluitende metielalkohol. Ongeveer 10 000 mense is dood ná hulle gedenatureerde alkohol gedrink het.


Die einde van die alkoholverbod, 5 Desember 1933: “Happy days are BEER again”
Foto: Visitagratis and Chattahoochee Brewing Company)

Term
Die term ‘rumrunners’ kom uit dié era toe drank in bote, vragmotors en stasiewaens uit Europa, Mexiko, die Karibiese Eilande en Kanada gesmokkel is. Die woord ‘The Real McCoy’ kom ook uit hierdie tyd. Die geheelonthouer, kaptein William S McCoy, het alkohol van die Karibiese Eilande na Florida verskeep en het nooit sy invoere afgewater nie. Syne was die “regte” ding.

‘Speakeasies’ was gewoonlik ongemerkte ondernemings of was agter of onder wettige ondernemings.

Korrupsie was algemeen en daar was gereelde strooptogte. ‘Speakeasies’, waar mense glo saggies vir drank moes vra, was dikwels deur georganiseerde misdaadkringe bedryf.

Bendes het stede in distrikte opgedeel waar verskillende bendelede die drankverkope binne hulle distrik hanteer het. Ondergrondse brouerye en distilleerderye is dwarsdeur stede weggesteek. Nadat Al Capone in 1925 beheer oor die uitrusting aanvaar het, het een van die bloedigste bendeoorloë in die geskiedenis plaasgevind.

Die verbod het oorspronklik beoog om veral bierverbruik te verminder, maar dit het uiteindelik die verbruik van hardehout verhoog omdat bierbrouery meer ruimte nodig gehad het, wat moeiliker was om weg te steek. In dié tyd was daar selfs ‘n toename in die aantal vroue wat ernstig begin drink het.

Die landwye verbod is op 5 Desember 1933 verby. Nuwe wette het die saak van verbod aan staatsregerings oorgelaat en vandag is daar steeds ‘n aantal droë distrikte in Alabama, Arkansas, Florida, Kansas, Kentucky, Mississippi, Texas en Virginia.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Mei weergawe in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger