Amper soos goeie ou dae met oplaaikos en ‘n glasie van rooi Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 17 June 2020 14:47
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Iemand (wie nou weer?) het my op ‘n dag meen te vertel dat jy ver sal moet loop soek om ‘n beter pizza te kry, as dié wat hy/sy (betrokke iemand) op ‘n dag by Ouwerf Plaasstal op Kaalfontein aangekoop het.

Nou is Kaalfontein gewoonlik wel nogal ver, maar ek bevind my mos toe op ‘n uitskiet-dag in inperk-tyd by die vriendelike span van die diere-arts by die Jan Ellis-sentrum en dit is lekker naby aan Ouwerf.


Metgesel het die ‘vegetariër’ uit Ouwerf se houtoond met gulle gasvryheid tuis verwelkom

Ek onthou dat Metgesel net die anderdag gesê het hoe diep sy na ‘n ordentlike pizza verlang en met Wie-nou-weer se woorde vars in die geheue en die inhok-nommer verlaag van aflewer- na wegneem-vlak, loop draai ek by Ouwerf se plaas- en pizza-stal.

Ek word vriendelik deur die eienaar, Ceska, op die plaaswerf ontvang en sy gee die versekering dat die egte houtoond nommerpas gestook is om ‘n opregte pizza vir Metgesel binne so tien minute op te toor. ‘n Groot verskeidenheid – by die 20 keuses – is beskikbaar, maar ek ken teen dié tyd Metgesel se voorkeure en bestel een van ‘n vegetariese aard.


Die pizzaoond staan gereed vir die man met die spaan om die volgende plat lekkerny in te laai

Jy kan medium of groot kies en as jy gaan vir groot, soos ek, kos dit net om en by die R30 meer. Die pryse van die pizzas is deurgaans billik en die naamkeuses is plek-plek heel verbeeldingryk.

Die “full house” weeg teen R115 die swaarste op die sak en spog met biltong, spek, salami, ham, sampioene, pynappel, peppadew, uie en groenpeper op die basis. Teen R110 kan jy die groot ‘Boerseun’ aanskaf met alles hier bo genoem daarby, behalwe vir die ham.


‘n Nolsburger-vetkoek met skyfies

Allerlei ander kombinasies word in weergawes met selfbeskrywende en/of vreemdsoortige name, soos spekkies, kaasbom (na verneem een van dié ou werf se gewildstes), malboer (beesrepies, spek, groenpeper, sampioene en uie), varkie, plaaswerf, magriet, kleilat en mamparra (piesang en pynappel) voorgesit. Teen ‘n ietsie ekstra kan jy ‘n verskeidenheid bestanddele na hartelus by jou pizza laat voeg.

Metgesel se ‘vegetariër’ (R105) is bedek met sampioene, olywe, peppadew, groenpeper, uie en feta- en Halloumi-blokkies. Later sou sy erg in haar skik vertel het dat die Halloumi-kaas die spreekwoordelike kersie op die koek van ‘n baie geurige en goeie houtoond-pizza was. Wie-nou-weer was volgens haar nie ver verkeerd met sy/haar aanbeveling nie.

Jy kan ook Ouwerf se vetkoek met allerlei smaaklike vulsel-keuses en-kombinasies bestel om weg te neem. Ek vrek oor ‘n goeie vetkoek en besluit om eerder my saamvat-gereg daaruit te kies. Ham, kaas en tamatie, maalvleis, spek, eier en kaas, bees-repies, hoender-repies, ‘n ‘pizza-vetkoek’, biltong en wat-nog kan gekies word en die meeste kos iewers in of net oor die R40.


‘n Deel van die werf by Ouwerf op Kaalfontein

Effe duurder is die vetkoekburger met skyfies of die gevetkoekte weergawe van ‘n Nolsburger (Dagwood) met skyfies. Laasgemelde kos R70. Saam met my huis toe neem ek die Nolsburger met skyfies en ek voel kinderlik opgewonde by die vooruitsig daaraan om my maaltyd by die huis saam met ‘n glasie van rooi (wettiglik aangeskaf) te kan geniet.

Die vetkoek self is heerlik, sponsig en lig en die gewone, eier, kaas, uie, spek, tamatie, dill, blaarslaai en só, word saam met Dagwood (Nols) se burger-frikkadel opgedis. Al hoe meer word die Amerikaanse woord ‘patty’ vir die plat frikkadel op ‘n Hamburger (hoofletter ‘H’ oor dit ‘n stad se naam is) in Afrikaans aanvaar en dit pla my. Die Amerikaners gebruik ook die woord ‘patty’ vir ‘n eenderslykende, netjiese, plat bees-miskoek. Dalk moet ons om duidelikheidshalwe en ter bewaring van die vrede, die eetbare patty-gedoente sommer ‘n ‘plattie’ noem?

Ongelukkig is dit juis die ‘plattie’ van die Nolsburger-vetkoek wat na my mening afbreek daaraan doen. Smaak is mos ‘n ding wat verskil, maar ek verkies die losser plattie waar die maalvleis van bees herkenbaar en maklik koubaar en verteerbaar is, eerder as die styf saamgeperste, swaar weergawe.


Die ou kombi-dop wat die ingang na Ouwerf aandui

Maar die vetkoek (nes hy is) en ander bybehore saam met die baie smaaklike, tuisgeboude skyfies het my tevrede en ‘vervuld’ gelaat.

Ons het die saamry-etes van Ouwerf terdeë tuis, saam met die nodige, geniet. Jy kan vir Ceska om meer inligting bel of ‘n WhatsApp-boodskap stuur: 082-500-6897.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Junie 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger