Kwarantyn-dorpe was in toeka se Pretoria al ‘n instelling Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 14 August 2020 09:57
Untitled Document

Angie Kleijn

Skielik, in 2020, beteken die woord ‘kwarantyn’ iets wat ons almal raak. Wie sou kon raai dat daar ‘n pandemie sou kom waar mense opgesluit word – amper soos melaatses. Min mense weet dat daar ‘n hele self-onderhoudende dorp vir melaatses was toe Pretoria nog in sy kinderskoene gestaan het.

Dié dorp rondom die Westfort Melaatse Hospitaal was wes van Pretoria, langs Lotus Gardens en Danville, aan die voet van ‘n militêre fort op Daspoortrand, wat ook Witwatersberg genoem word. Dié Boere-fort is aanvanklik Fort Daspoort genoem, maar is in 1901, ten midde van die Engelse Oorlog, na Westfort herdoop.


Amptenare van die ZAR se Departement van Openbare Werke met Sytze Wierda in die middel voor en Klaas van Rijsse regs voor
Foto: Wikipedia

In die laat 1880’s is ‘n hospitaal vir navorsing oor die behandeling van pokke op die perseel gebou. Dit was as die Daspoort Hospitaal bekend en Westfort Hospitaal is aanvanklik as ‘n uitbreiding van dié pokke-hospitaal aangebou.

Die Aansteeklike Siektes Wet van 1880 het bepaal dat die behandeling van oordraagbare siektes deur openbare wetgewers gereguleer moet word. Daar was glo ‘n groeiende bekommernis en vrees vir dié soort siektes wat die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se Volksraad genoop het om op te tree om ‘n epidemie te voorkom.


Pasiënte lê in die son as deel van ‘n daaglikse ritueel, 1941
Foto: NASA Archive collection: 2015

Wet
Die eerste geval van melaatsheid is in 1888 in Pretoria opgeteken. In 1897 het president Paul Kruger die Melaatsheid Afsonderingswet ingestel en Westfort Melaatse Instituut het die volgende jaar sy deure oopgemaak.

‘n Voormalige hospitaal-administrateur verduidelik dat die eerste nuwe gebou aanvanklik die Nuwe Pretoriase Melaatse Gestig genoem is, om hom te onderskei van die provinsiale skure wat vroeër langs die Daspoort Hospitaal opgerig is. Die plek was later as die Westfort Melaatse Instituut bekend en is in 1979 na Westfort Hospitaal herdoop.


St Mary’s Hospitaal in Westfort-kolonie
Foto: PhoenixParanormalSA

Die hospitaal se eerste fases is volgens die ontwerp van Hollands-gebore argitekte, Sytze Wierda en Klaas van Rijsse, op bevel van die ZAR Departement van Openbare Werke gebou. Dié tydperk, wat gedeeltelik saamgeval het met die Hollandse koningin Wilhelmina se leeftyd, is later ‘ZA Wilhelmiens’ genoem.

Westfort Hospitaal en -dorp se geboue word deesdae herken as ‘n erfenis wat met Holland gedeel word. Die ontwerp is soortgelyk aan dié van melaatse institute in vorige Hollandse kolonies, soos Suriname en die Hollands Oos-Indies (Indonesië), en die hele dorp se uitleg lyk baie soos Veenhuizen, ‘n voormalige Hollandse melaatse kolonie in die noorde van Holland.


Een van die ou huise op Westfort-dorp
Foto: PhoenixParanormalSA

Dorp
Dit was Sytze Wierda se plan om ‘n onafhanklike dorp te ontwerp, en daar was doktershuise, koshuise vir verpleegsters, sale vir die melaatse pasiënte, die sogenaamde ‘Zoeloe-rondawels’, operasiesale, ‘n dorpsaal, tennisbane en ‘n swembad. Die begraafplaas, wat uit die tyd van die Engelse Oorlog dateer het, is met baie grafte van pasiënte en ook hospitaalpersoneel aangevul.

In 1896 was daar 99 pasiënte in die Daspoort Hospitaal, maar in 1902 het Westfort reeds 328 pasiënte gehuisves. Teen 1900 het die hospitaal sy eie plaas bedryf wat vleis, pluimvee, vrugte, groente en selfs heuning voorsien het.


Een van die ou kerkies
Foto: PhoenixParanormalSA

‘n Poskantoor, polisiestasie, skole, winkels en nog kerke is gebou. Daar was later vier kerksale: Nederland Gereformeerd – 1896; Switserse Sending van Vaud – 1903; Anglikaans – 1914; en Rooms Katoliek – 1916.  

In Februarie 1906 is die paaie en ‘n muur rondom die hospitaal voltooi. Daar was toe ook al ‘n houtwerkwinkel, smidswinkel, boekbinder-werkswinkel en melkdepot.


Die ou administrasie-gebou op Westfort
Foto: Nicholas Clarke

Tronk
Sytze Wierda se konsep van ‘n dorp, wat ‘n gevoel van huislikheid moes gee, het die pasiënte, wat teen hulle sin daar moes bly, nie noodwendig tuis laat voel nie. Dit was die enigste hospitaal in die land wat ‘n tronk gehad het en teen 1917 is ‘n reeks van agt wagtorings opgerig om te verhoed dat pasiënte ontsnap sodat die publiek teen dié ongewenste siekte beskerm kan word.


‘n Gebou aan die voet van Daspoortrand
Foto: Nicholas Clarke

Die mees prominente buitegeboue wat uit dié tyd dateer is die kombuiskompleks, die teater en store.
Die melaatse gestig op Robbeneiland het in 1931 toegemaak en het met Westfort saamgesmelt as die enigste veelrassige melaatse kolonie in die land. Baie van die voorafvervaardigde strukture in die dorp het oorspronklik van Robbeneiland af gekom, maar ‘n hele paar addisionele sale en isolasiekamers is in dié tyd aangebou.

Ontwikkeling van Westfort het tot 1947 geduur, toe die laaste konstruksiefases afgehandel is. Intussen is die ou fort op die berg met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog afgetakel. Alle staal is vir hergebruik gestroop.


Een van die ou huise waar plakkers ingetrek het
Foto: Nicholas Clarke

Sluit
Die Westfort Hospitaal is in 1996 gesluit toe die beleid oor die behandeling van melaatsheid verander het ná daar uitgevind is dat die siekte nie aansteeklik is nie. Teen die einde van die 20ste eeu was melaatsheid nie meer ‘n ongeneeslike siekte nie.


Die naam op dié ou gebou is vandag onleesbaar
Foto: Nicholas Clarke

Die hele Westfort-dorp is in 1998 gesluit, maar van die mense het agtergebly, soos twee Afrikaanse mans wat eens hekwagte was. Dié wagte het in hulle huise agtergebly, ten spyte van die plakkers wat in 2001 daar begin intrek het, en het op die grond met hoenders, eende, honde, papegaaie, wedvlugduiwe, goudvisse, rose en mielies begin boer.

‘n Studie wat sowat vier jaar gelede gedoen is, beraam dat ongeveer 5 000 mense van alle ouderdomme en rasse in Westfort-dorp plak. Dié mense woon onder haglike omstandighede in die vervalle gebou sonder elektrisiteit, lopende water of spoeltoilette.


‘n Lugfoto van die Westfort-kolonie in 1956
Foto: NASA-versameling, UP

Die metro-munisipaliteit het vyf watertenks, wat daagliks gevul word, geïnstalleer. Tien chemiese toilette is opgerig en die dorp het sy eie wyksraadslid. Die plakkers word jaarliks meer en ‘n menigte lae-koste behuisingsprojekte kruip al hoe nader aan Westfort-dorp.

Ontwikkeling is ook vir Westfort self beplan met 6 000 gesubsidieerde lae-inkomste huise. Nuwe pype is deur die dorp gelê en paaie, wat bo-oor gebou uit die 1890’s sal loop, is beplan. Hersonering is glo goedgekeur ten spyte van die feit dat Westfort outomatiese beskerming van die Suid-Afrikaanse Nasionale Erfenishulpbron Wet (25 van 1999) geniet.


Die ou ‘Zoeloe-rondawels’
Foto: Nicholas Clarke

Erfenis
In 2014 is die Westfort-terrein egter as ‘n gedeelde erfenisterrein tussen Holland en Suid-Afrika geïdentifiseer. In Maart 2015 het ‘n projek afgeskop om die terrein te bewaar, terwyl die lewensomstandighede van diegene wat daar plak, verbeter word.

Die Rijksdienst voor het Cultureel Erfgoed (RCE), die Nederlandse Ambassade in Pretoria, Delft Universiteit van Tegnologie, die Universiteit van Pretoria (UP) en ander partye werk saam aan dié projek, wat hulle as “van internasionale belang” beskryf.


Westfort in die jare voor die hospitaal toegemaak het
Foto: Eddalean Slater

Die 2015-projek, onder leiding van prof Marieke Kuipers, Jean-Paul Corten en Job Roos, se doel was om jong professionele mense en studente op te lei om die potensiële erfeniswaardes van die Westfort-kolonie op te teken en om rolspelers bymekaar te bring. UP honneursstudente is by die projek betrek.

Tog is Westfort-kolonie in 2016 ingesluit in die top tien lys van bedreigde erfenisterreine in Suid-Afrika.


Dit lyk amper soos ‘n ou slaweklok voor een van die geboue toe Westfort nog in werking was
Foto: Eddalean Slater

‘n Westfort-woning in die later jare, geneem deur Eddalean Slater, wat daar grootgeword het
Foto: Eddalean Slater

Intussen het ‘n student ‘n prys vir haar projek oor Westfort gewen. In Januarie 2017 het Yvonne Bruinette van Lynnwood die UP streekstoekenning van die Corobrik Argitektuurstudent van die Jaar gewen. Haar tesis is getiteld, ‘The Heritage Portal: an Experiential Narrative’, en daarin maak sy voorstelle om Westfort se erfenis te beskerm en die plek se toekomstige waarde te verseker.

Die RCE het in 2018 ‘n artikel oor Westfort, ‘Overlevingskansen voor een leprozenkolonie’, gepubliseer waarin dit nie lyk of daar enige nuwe verwikkelings in die bewaring van die perseel was nie.


Uitstallings wat destyds op Westfort se grasperke was
Foto: Eddalean Slater

In September 2019 het die RCE ‘n YouTube video gemaak, waar hulle sê dat die projek steeds besig is met opleiding en advies om die toekoms van Westfort te verseker.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Augustus 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger