Verkope begin in Mooikloof Mega-stad Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 16 October 2020 12:54
Untitled Document

Die Mooikloof Mega-stad-projek is die eerste naweek in Oktober deur president Cyril Ramaphosa geloods en meer as 200 woonstelle is daardie naweek reeds verkoop.

Verlede maand het ons berig dat 50 000 deeltitel woonstelle, wat 250 000 mense gaan huisves, langs Garstfonteinweg-verlenging gebou gaan word en dat verkope aan die eerste fase, Greenkloof, in Oktober begin.

Mooikloof-Megastad is ongeveer 6 km vanaf Garstfonteinweg-verlenging se kruising met De Ville Bois Mareuilrylaan. Omliggende luukse landgoedontwikkelings in dié gebied strek van Woodhill Gholflandgoed tot Mooikloof Perdelandgoed, Mooikloofrif, Mooikloof Glen, Mooikloof Heights, The Hills en Grootfontein-landgoed.


Van links na regs: Premier David Makhura, minister Lindiwe Sisulu, Stephen Brooks van Baldwin Properties, president Cyril Ramaphosa, minister Patricia de Lille en dr Kgosientsho Ramokgopa by die bekendstelling van die Mooikloof Mega-stad
Foto: Jacques Naude/African News agency (ANA)

Die R84 miljard projek is op 210 hektaar en sal bestaan uit ‘n residensiële deel, wat deur Balwin Properties ontwikkel word, twee opvoedkundige fasiliteite en ‘n kommersiële deel. Die teikenmark is mense wat te veel verdien om gratis huise van die regering te kry, maar te min verdien om ‘n huislening by ‘n bank te kry.

Gesinne wie se gekombineerde maandelikse inkomste tussen R3 000 en R22 000 is, kan aansoek doen vir ‘n lening deur die regering se Finance Linked Individual Subsidy Programme (Flisp).

Mooikloof Mega-stad is as ’n strategiese geïntegreerde projek aangewys deur die raad vir die koördineringskommissie van die presidensiële infrastruktuur. Die regering het R1,4 miljard geoormerk vir die installering van paaie, riool, elektrisiteit, water en stormwaterdienste en omdat dit as strategies belangrik verklaar is, word die nodige goedkeuring, soos waterregte en munisipale hersonering, versnel.

Balwin beplan om aanvanklik 16 000 woonstelle teen ‘n waarde van omtrent R9,6 miljard in fases te bou, waarvan Greenkloof se 2 500 woonstelle die eerste fase is. Uitgebrei na 50 000 woonstelle, sal die totale woonstelwaarde omtrent R44 miljard wees. Pryse wissel van R499 000 tot R799 000.

Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za
 

© 2020 Die/The Bronberger