Jy kan varkpes-navorsers help Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 14 November 2020 08:28
Untitled Document

Hoewe- en plaaseienaars sowel as wildparke in die Bronberg-gebied kan nou met ‘n navorsingsprojek oor Afrika-varkpes help.

Dr Anthony Craig van die Universiteit van Pretoria wil graag kontak maak met grondeienaars op plekke waar wilde varke, soos vlakvarke en bosvarke, loop. Hy vra dat dié mense hom toegang tot hulle plotte of plase sal verleen sodat hy bosluise by vlakvarkgate en bosvarkskuilings kan versamel.

Hy is ook op soek na bloedmonsters en vra dat jagters wat vlakvarke en bosvarke skiet, aan die projek deelneem.

Gautengse Veeartsenydienste staan die groep navorsers van die Universiteit van Pretoria by met hulle navorsingsprojek. ‘n Woordvoerder vir dié dienste sê hulle glo dat die werk belangrike insigte in die epidemiologie van Afrika-varkpes in Suid-Afrika sal bied.

Daar was die afgelope twee jaar verskeie uitbrake van dié siekte in Gauteng en Veeartsenydienste is op soek na antwoorde oor die moontlike rol wat wilde varke dalk hier speel.

As jy aan die projek wil deelneem, bel dr Liesl de Boni, die hoof staatsveearts by die epidemiologie-afdeling en laboratorium van die Direktoraat: Gautengse Veeartsenydienste by 011-240-2695 of 072-997-2218 of stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .


Jy kan aan die projek deelneem as daar vlakvarke op jou grond loop
Foto: Wikipedia

Afrika-varkpes is feitlik altyd dodelik, maar mense word nie deur die siekte geraak nie. Daar is geen geneesmiddel vir die siekte nie. Dit versprei baie vinnig en feitlik alle varke in ‘n groep kan binne twee tot tien dae vrek.

Jou varke kan Afrika-varkpes opdoen as hulle in aanraking is met ander siek varke of in dele was waar siek varke rondbeweeg. Varke kan ook die siekte opdoen van wilde varke en bosluise wat van wilde varke afval.

Varke kan die siekte kry as hulle kombuisafval, vullis of skottelgoedwater inneem wat vleis van siek varke bevat of wat in kontak was met vleis van siek varke. Die wet sê dat kombuisafval vir een uur gekook moet word voor dit vir varkkos gebruik word.

Moenie varke by spekulante of op veilings koop as daar nie bewys kan word dat al die varke op die verkoper se plaas gesond is nie.

As jy vermoed dat jou eie of iemand anders se varke die siekte onder lede het, stel jou plaaslike dieregesondheidstegnikus of staatsveearts in kennis. Hulle sal die varke gaan toets.

Vir tegniese navrae, bel die Direktoraat Dieregesondheid by 012-319-7456 of stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za
 

© 2020 Die/The Bronberger