Raaiselagtige verbod dwing die uitstel van KragDag Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 04 December 2020 16:01
Untitled Document

Tshwane munisipaliteit verbied die organiseerders van Sakeliga KragDag om voort te gaan met die grootste alternatiewe energie en selfstandigheid-ekspo in die land, wat van 3 tot 5 Desember sou plaasvind.

Die besluit is op ’n Tshwane-JOC (Joint Operations Committee) vergadering op 18 November geneem.

Dit volg ná ’n afvaardiging, wat bestaan het uit bestuurslede van Sakeliga en KragDag, bygestaan deur ’n mediese span en regulasievoldoeningsprokureur, ’n positiewe vergadering met die metroraad se nuwe burgemeester gehad het, waarin die teenwoordige raadslede hulle ondersteuning vir die hou van die ekspo aangetoon het en die waarde daarvan vir die Pretoria-gemeenskap bevestig het.

KragDag sou vir die 12e jaar aangebied word op Diamantvallei Landgoed, Rhenosterfontein op ’n uitstalterrein wat oor ses hektaar strek (die grootte van 12 rugbyvelde). Die ekspo sou in nege buitelug-areas verdeel word en sou besoekers in die onderskeie areas beperk tot onder die maksimumgetalle volgens Covid-regulasies. Daar sou ook mediese spanne wees om toegangsbeheer en toetsing vir Covid-19 toe te pas.

Die ekspo sou soos ’n opelug winkelsentrum wees, maar met beter toegangsbeheer, higiëne en ruimte. Met 450 uitstallers en 21 000 mense wat die ekspo oor drie dae besoek, sou dit meer uitstallers en minder besoekers wees as wat daagliks in vele winkelsentrums rondloop.


’n Vorige KragDag-ekspo
Foto: KragDag

Die organiseerders sê dit maak nie sin dat die ekspo verbied word, terwyl daar daagliks groot winkelsentrums en weekliks talle markte regoor die land oop is met veelvoude meer besoekers nie.

Kriteriums waaraan voldoen sou word, is dat daar nie meer as 500 mense by elke buitelug-area sou wees nie en dat minder as 50% van die kapasiteit van die perseel benut sou word. As 50% van die perseel se kapasiteit bereken kan word deur te werk op die voorgeskrewe afstand van 1,5 m tussen mekaar, kan die ses hektaar perseel gelyktydig meer as 26 000 mense huisves.

Baie van die ondernemings wat sou uitstal het weens die inperkingsregulasies ’n moeilike jaar ervaar en sommiges het op die ekspo gereken om hulle te help oorleef. Afgesien van die verlies van miljoene rande wat reeds deur die organiseerders en uitstallers spandeer is aan voorbereiding, word uitstallers van ’n kans beroof om hulle lewensonderhoud aan te vul.

“Tshwane se besluit kan selfs tot die ondergang van sommige ondernemings lei,” sê die ekspo-organiseerders.

Besoekers wat reeds registreer het, se registrasies sal geldig bly wanneer die ekspo weer hervat. Die plan is om die ekspo in die eerste kwartaal van 2021 aan te bied.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger