Ons draai die horlosie terug na Kerstyd 100 jaar gelede Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 04 December 2020 16:02
Untitled Document

Angie Kleijn

Met Kersfees in die knelgreep van die Covid-pandemie, draai ons die horlosie ’n honderd jaar terug en sien dat grafstene in ons kontrei wys dat mense in 1920 steeds aan die Groot Griep oorlede is.

Die Groot Griep van 1918 het ook as Spaanse Griep of die Driedaggriep bekend gestaan, omdat baie mense binne drie dae te wyte aan dié virus dood is. Die eerste golf van die griep was van Maart tot Mei 1918 in die Noordelike Halfrond. Dit was matig, maar hoogs aansteeklik en die virus het die vermoë ontwikkel om vinnig oorgedra te word. Met die tweede golf van September tot Oktober 1918 het die virus mutasies gevorm.


Willem (dr O’kulis) Postma
Bron: morneweb

Tatamkhulu Afrika
Foto: allpoetry.com

Die griep het in September 1918 met troepeskepe van arbeidskorps soldate wat van die Eerste Wêreldoorlog teruggekom het, hier aangeland. In die eerste ses weke van September tot Oktober 1918 het sowat 350 000 mense gesterf, en tot vier miljoen van die land se (toe) sewe miljoen mense het siek geword.

Twee jaar later, in Desember 1920, het dié sterftes genadiglik baie minder geword en baie mense kon behoorlik Kersfees vier.

Foto’s van daardie jaar wys dat seuntjies toe al treinstelletjies wat op treinspore kon loop vir Kersfees gekry het. Poppe het nog porseleinkoppe gehad al kon hulle loop en praat, en vierwiel-kaskarre-vir-kleintjies was algemeen.


‘The Mark of Zorro’ is op
5 Desember 1920 vrygestel
Foto: moviefone.com
.

Die film, ‘Blind Wives’ is op 19 Desember 1920 vrygestel
Foto: moviefone.com
.

Buster Keaton was in die film, ‘Neighbours’, wat op 22 Desember 1920 vrygestel is
Foto: moviefone.com

Die Oldsmobile was ’n gewilde voertuig en kantoorfoto’s wys groot ruimtes volgepak met mans in pakke as klerke, vroue as tiksters, elektriese boekhoumasjiene en teks-na-spraak transkripsie-masjiene.

Daardie Desember was dit skaars vier maande ná vroue in die Verenigde State van Amerika stemreg gekry het en die dekade van ’n mode-omwenteling, wat as die ‘Flappers’ bekendgestaan het, het met mag en mening ingeskop. Selfs foto’s wat op die Suid-Afrikaanse platteland geneem is, wys dat vroue die ‘Flapper’-gier met oorgawe hier verwelkom het.


Magda Boyce, omstreeks 1949
Foto: Wikipedia

Sterftes
Op eie bodem het ’n sterk vrou gesterf. Romanskrywer en politieke aktivis, Olive Schreiner, is op
11 Desember 1920 in die ouderdom van 65 jaar oorlede. Olive, gebore op 24 Maart 1855, word veral onthou vir haar roman, ‘The Story of an African Farm’, wat in 1883 gepubliseer is.

Ná ‘Woman and Labour’ in 1911 gepubliseer is, was Olive baie siek en is vir behandeling Engeland toe. Daar is sy met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog vasgekeer en het in dié tyd met Gandhi en ander prominente aktiviste, soos Emily Hobhouse, kontak gemaak.


NG Gemeente Leeudoringstad
Foto: Gemeentegeskiedenisargief

Ná die oorlog is Olive terug Kaap toe, waar sy in ’n losieshuis in haar slaap oorlede is. Sy is in die Maitland-begraafplaas in Kaapstad by haar familie begrawe. Haar liggaam is later deur haar man, Samuel Cronwright, opgegrawe en is saam met haar baba en hond op Buffelskop op die plaas Buffelshoek naby Cradock herbegrawe. Samuel is 15 jaar later ook daar begrawe.


’n Franz Schmidt & Co pop met porseleinkop uit 1920
Bron: eBay

’n Kersfees 1920 speelgoed-katalogus
Bron: FAO Schwarz

Weerlig
Springbok-rugbyspeler, Johannes Augustus (John) Botha, is op 8 Desember 1920 deur weerlig doodgeslaan. John is op 19 November 1879 in Kaapstad gebore as kind van Johan en Johanna (Stegman) Botha. Hy het aan die Engelse Sea Point High School in Kaapstad gematrikuleer en het daarna ’n boer geword en met Christina Fourie getrou.


’n Oldsmobile uit 1920
Bron: hemmings.com

John het slot gespeel vir die klubs Hamiltons in die Kaap en Diggers in Johannesburg en vir Transvaal en vir die Springbokke teen ‘n span van die Verenigde Koninkryk (Leeus) wat die Bokke met 8 – 0 gewen het.

Hy is op sy plaas, Vogelstruisfontein in die Standerton-distrik, deur die weerlig getref.
Baanbreker-skrywer, streng Calvinis en Gereformeerde predikant, Willem (dr O’kulis) Postma, is op 13 Desember 1920 op Reddersburg oorlede. Hy is in 1874 gebore en het hom in Bloemfontein beywer vir die erkenning van Afrikaans.


’n Outomatiese wiegie, 1920 – Lullabye Furniture
Bron: picclick.com

Willem het voorspel dat Afrikaans een van die amptelike tale in die land sal word. Hy het die Engelse Onderwysstelsel in die Vrystaat heftig teëgestaan en het die eerste Christelik-Nasionale onderwys-skool in 1905 in die voorportaal van die Gereformeerde Kerk, Bloemfontein gestig.

In 1909 verskyn sy werk, ‘Die Eselskakebeen’, en in 1914 word hy generaal JBM Hertzog se regterhand met die stigting van die Nasionale Party. Willem het in 1916 voorsitter van die provinsiale onderwyskommissie in die Vrystaat geword en in dieselfde jaar het hy die Nuwe Testamentiese boek, ‘Titus’, in Afrikaans vertaal.


’n Winkelvenster uit 1920
Bron: cardboardchristmas.com

Gebore
Suid-Afrikaanse digter en romanskrywer, Tatamkhulu Afrika, ook bekend as Mogamed Fu’ad Nasif, John Carlton, Jozua Joubert en Ismail Joubert, is op 7 Desember 1920 gebore. Sy eerste boek, ‘Broken Earth’, is toe hy 17 jaar oud was onder sy ‘Metodiste-naam’ gepubliseer.


’n Kersboom in 1920 met speelgoed van daardie
jare as geskenke
Bron: cardboardchristmas.com

Olive Schreiner
Foto: Wikipedia
.

Hy is as Mogamed Fu’ad Nasif in Egipte gebore met ’n Egiptiese pa en ’n Turkse ma, en het as ’n baie jong kind na Suid-Afrika gekom. Albei sy ouers is aan griep dood, en hy is deur familievriende onder die naam John Carlton grootgemaak.

’n Dorp is ook daardie Desember gebore. Leeudoringstad in die Noordwes-provinsie is op 6 Desember 1920 op die plaas Rietkuil geproklameer en genoem na die leeudoringboom nadat ’n spoorwegstasie met die naam Leeuwdoorns in 1908 daar opgerig is.


’n Kantoor met 19 mans wat papierwerk doen aan die linkerkant en omtrent ’n dosyn vroue wat aan die regterkant tik
Bron: officemuseum.com

’n Tipiese 1920-kantoor met 64 klerke
Bron: officemuseum.com
.
.

Die dorp, 30 km oos van Wolmaransstad, lê aan die hoofspoorlyn tussen Kimberley en Johannesburg en het om die spoorweghalte gegroei. Die dorp en sy NG gemeente het ook lank as Leeuwdoornsstad bekend gestaan.

’n Geboorte van ’n ander aard is dat Suid-Afrika op 17 Desember 1920 Volkebond-mandaat oor Suid-Wes-Afrika ontvang het.


Drie mense in ’n kantoor uit 1920 met ’n lessenaar, tikmasjien en teks-na-spraak transkripsiemasjien
Bron: officemuseum.com

’n Kantoor met ’n Burroughs elektriese boekhoumasjien
Bron: officemuseum.com

Getroud
Magda Boyce, Afrikaanse romanskrywer, is in Desember 1920 met Harry Archibald Boyce, later inspekteur in diens van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens, getroud.

Sy is op 27 Desember 1894 as Maria Magdalena van Niekerk op Barkly-Oos gebore. Met die Anglo-Boere-oorlog (1899–1902) is haar pa as rebel op die dorp verhoor. Hy is kort tevore as koloniale kommandant verkies en is aan hoogverraad skuldig bevind.


’n Motorhandelaar wys dat Kersvader in 1920 ’n Oldsmobile in die skoorsteen afgestuur het
Bron: cardboardchristmas.com

‘Flappers’ in aksie
Bron: scotneycastlent.wordpress.com
.

As sewejarige dogtertjie was dit haar plig om drie keer per dag vir haar pa kos in die gevangenis te neem. Die gesin se plaas is deur die Engelse verwoes. Al hulle perde en vee is geskiet, plantasies is vernietig en die inhoud van die huis geplunder. ’n Jaar na die vredesluiting is Magda se ma oorlede.


“What it Costs to be a Well Dressed Flapper: $150 coat; $25 blouse; $30 skirt; $20 handbag; $4.50 stockings; $5 flower clip; $10 pearl necklace; $8.50 gloves; $18.50 shoes for a total of $356.50.”
Bron: vintagedancer.com

’n Belgiese Kerskaartjie uit 1920
Bron: pinterest
.
.
.

Daar was groot geldnood in die gesin en Magda moes op jeugdige ouderdom by plaasskole begin skoolhou om die pot aan die kook te hou. Sy het eers in 1936 begin skryf en omdat sy slegs in Engels en Nederlands skoolonderrig ontvang het, was dit aanvanklik moeilik om in Afrikaans te skryf. Haar eerste pogings was verhale onder ’n skuilnaam in Engelse tydskrifte. Sy het later begin Afrikaans skryf vir ‘Die Landbouweekblad’, ‘Die Huisgenoot’, ‘Die Brandwag’ en ‘Naweek’ asook verskeie romans.


Die 1920’s sal vir ewig as die mode-era van ‘Flappers’ onthou word
Foto: fashionthroughtimeuonkt.blogspot.com

’n ‘Flapper’ Kerskaartjie
Bron: etsy.com

Medalje
Jare ná die Anglo-Boere-oorlog het die Boeremagte steeds geen medaljes vir hulle diens ontvang nie, terwyl die Britte met hordes medaljes gespog het. Dié feit het kolonel Skinner, bevelvoerder van Tempe Basis in Bloemfontein, baie gehinder en hy het in 1913 versoek dat dié diens herdenk moet word.


’n ‘Rosemary looppop’ uit die 1920’s. Dié Effanbee-pop se rok is nie oorspronklik nie
Bron: eBay
.

’n Handgemaakte 1920 Kersvader deur Virginia-kunstenaar, D Ball
Bron: etsy.com

’n Beperkte uitgawe porselein Kersvader uit 1920
Bron: etsy.com

Eers in 1920 is ’n Bond van Oudstryders onder beheer van Evert Dommise, gestig. Die reglemente vir die nuwe Anglo-Boere-oorlogmedalje, Dekoratie voor Trouwe Dienst en die Lint Voor Wonden het in Desember 1920 in die Staatskoerant verskyn.


Kinders op ’n Kerskaartjie uit 1920
Bron: sibylschristmas


’n Meer tradisionele Kerskaartjie uit 1920
Bron: etsy.com

Die Anglo-Boere-oorlogmedalje is uitgereik aan elke burger wat tot 31 Mei 1902 te velde was, nooit gevang is nie, nooit oorgegee het nie en nooit ’n joiner geword het nie. Die Dekoratie voor Trouwe Dienst is aan offisiere uitgereik en die Lint Voor Wonden vir elkeen wat gewond was.

Die medaljes is aan ’n lint in die republikeinse kleure gehang en het die ZAR-wapen aan een kant en die OVS-wapen aan die ander kant gehad. Die Lint Voor Wonden was slegs ’n lint wat op ’n sertifikaat uitgereik is.


Dekoratie voor Trouwe Dienst (1899–1902)
Bron: Wikipedia

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger