Kapers in skaapsklere slaan toenemend toe Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 22 January 2021 13:20
Untitled Document

Motoriste word gewaarsku om nie van die pad af te trek wanneer ’n wit VW Polo met ’n blou lig hulle probeer voorkeer nie. Vroeg in Januarie is ’n hele paar gevalle waar motoriste so gekaap is, aangemeld.

Volgens senior superintendent Isaac Mahamba van die Tshwane Metro Polisie se kommunikasie-afdeling trek twee mans in Metro Polisie-uniforms slagoffers van die pad af en kaap hulle dan. Die slagoffers word saamgeneem en elders afgelaai.

Van die slagoffers wat in Simon Vermootenweg en die N4-Oos snelweg gekaap is, is later by Hatherley afgelaai.

Isaac sê die meeste voorvalle is in Pretoria-oos en die Metro Polisie wil dit duidelik maak dat die mans nie polisie-offisiere is nie, maar misdadigers wat maak asof hulle offisiere is.

Motoriste het die reg om vir ’n identifikasiekaart te vra as hulle voorgekeer word en moet versigtig wees as ’n ongemerkte voertuig hulle van die pad af probeer trek, al het die voertuig ’n flitsende blou lig.

Isaac sê dat wanneer jy so ’n verdagte voertuig sien, jy nie van die pad af moet trek nie, maar na ’n veilige plek waar daar ander mense is, of na die naaste polisiestasie moet ry. Jy kan wys dat jy die voertuig gesien het deur jou noodligte aan te sit en jou spoed drasties te verminder terwyl jy na ’n veilige plek ry.

Meld verdagte aktiwiteite aan by die Metro Polisie, 082-891-2498 of 082-320-1757 of skakel jou naaste polisiestasie.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger