Kerke raak kreatief om mense-kontak te behou Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 19 March 2021 04:57
Untitled Document

E-preke, e-Saam eredienste, inrydienste, deurloop-Nagmaal, YouTube kanale en Zoom- en WhatsApp-groepe – kerkgaan het die afgelope jaar met die verbod op groepbyeenkomste drasties verander.

As iemand in die begin van 2020 voorspel het dat gemeentelede vooraf bespreking sal moet doen om seker te maak hulle is een van die beperkte aantal mense wat binne-in die kerk plek kan kry, sou niemand dit maklik geglo het nie.


Musiek is gemaak by Doxa Deo Faerie Glen se inry-kerkdiens
Foto: Verskaf

Met die onlangse verslapping van afsonderingsregulasies word daar nou 100 mense binnenshuis en 250 mense in die buitelug toegelaat vir godsdienstige byeenkomste. Dit het steeds ’n reuse uitwerking op gemeentes waar die kerkgebou duisende mense kan huisves.

Kerkgaan het oornag ’n digitale ondervinding geword, ten koste van diegene wat nie elektronies-geletterd is nie. Baie kerke het selfs begin nagmaal doen in e-Saam eredienste waar mense hulle brood en wyn of vrugtesap byderhand gehou het. Die dienste is regstreeks via Facebook, YouTube asook radiostasies uitgesaai en mense kon mekaar in die ‘kommentaar’-gedeelte groet.


NG Kerk Rayton se inry-diens
Foto: Hermann Grobler

Naderhand het kerke begin planne maak sodat mense daardie broodnodige kontak met mekaar kan hê, terwyl hulle steeds die inperkingsmaatreëls gehoorsaam. Moreletapark Gemeente in De Villebois Mareuilrylaan het verlede jaar reeds met inry-kerkdienste begin en so ook Lux Mundi in Florisstraat, Garsfontein.

Capital City Church International in Saalstraat, Zwavelpoort het toe ’n stappie verder gegaan en begin met ’n deur-ry-koffie-plek, waar mense in hulle voertuie kan sit met koffie of warm sjokolade terwyl hulle na ’n orkes luister wat Christelike musiek speel. Hulle het ook die geleentheid gehad om vir mekaar te waai en op ’n afstand met mekaar te praat.


Lux Mundi in Garsfontein het verlede jaar reeds met inry-kerkdienste begin
Foto: Verskaf

In Februarie het Doxa Deo Faerie Glen, op die hoek van Atterburyweg en Olympusrylaan, hulle eerste inry-kerkdiens gehou. Mense kon ook opvoustoele saamneem en langs hulle voertuie sit om deel te neem aan die diens wat vanaf die grasperk uitgesaai is.

Ook in Februarie is die eerste inry-kerkdiens met 173 lidmate by NG Kerk Rayton gehou. Dominee Chris Lötter se diens kon oor mense se motor-radio’s geluister word. Al die lidmate kon mielies, wat deur ’n boer geskenk is, huis toe neem.


NG Gemeente Tygerpoort se Kruisbande koffiekaravaan
Foto: Verskaf

NG Gemeente Tygerpoort in Shere het besluit dat kreatiewe planne gemaak moet word sodat lidmate met mekaar en met die kerk kontak kan hou in dié tyd van beperking op byeenkomste en die uitdagings rondom kommunikasie.

Hulle het die groot kerkterrein oopgestel, die kerkkantoor oopgemaak en predikante deur die week beskikbaar gestel. Die plan is dat diegene wat dalk gaan stap daar kan inval of mense kan met hulle voertuie inry en by die ‘Kruisbande-koffiekaravaan’ gaan parkeer.


Voertuie by Moreletapark Gemeente se eerste inry-diens in September verlede jaar
Foto: Skermgreep uit video
.

Capital City Church International op Zwavelpoort het verlede jaar met inisiatiewe, soos dié koffie-deurry, begin
Foto: Verskaf

Streng Covid-regulasies geld steeds, maar daar kan jy aangesig-tot-aangesig kontak hê met gemeentepersoneel, predikante en ander lidmate. Kruisbande is van Maandae tot Vrydae oop van 6.30 vm tot 4.30 nm en Sondae voor en na die oggenddienste.

Teen die Bronnie se saktyd was die plan ook om die ‘12 Stasies vir Lydenstyd’ projek op die terrein oop te stel sodat mense daar ’n geestelike pad kan stap.


Mense kon by Doxa Deo Faerie Glen buite hulle voertuie staan of op opvoustoele sit
Foto: Verskaf

Moreletapark Gemeente het planne met hulle groot leë parkeerplek gemaak. Van Maandae tot Vrydae van 6 vm tot 6 nm en op Saterdae van 7 vm tot 4 nm is die terrein as ’n K53 bestuurslisensie-oefenterrein oop teen R40 ’n oefenslag. Hulle het ook die kerk se Revive Café deur die week oopgestel sodat maaltye vooraf bestel en opgelaai kan word.


Moreletapark Gemeente het verlede jaar met
inry-dienste begin
Foto: Skermgreep uit video

Dominee Chris Lötter van NG Kerk Rayton saai voor die kerk uit
Foto: Hermann Grobler
 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger