Die Bronberg-gebied se bekende
en beminde veearts, dr Peter
John Jay, is op Woensdag
19 Augustus in die ouderdom van
62 jaar aan ’n hartaanval oorlede.
Dr Jay het in die begin van 2007, ná
dekades in die Bronberg-omgewing,
besluit om uit te tree. Hy en sy vrou
Betty het aan die einde van Februarie
2007 na die Kaap verhuis.
Bronbergers het dr Peter Jay leer
ken as iemand wat intens in dieregesondheid
belangstel. Hy was nooit
onwillig om, selfs in die laat ure van
die nag, hoewes en plase in die
omgewing te besoek om na ’n siek
perd of bees om te sien nie.
 Dr Peter J Jay en sy vrou Betty
Hy sal ook deur sy dankbare kliënte
onthou word vir sy gretigheid om sy
diagnose en kennis van ’n bepaalde
probleem met hulle te deel.
Dr Jay was ’n kenner op die gebied
van Afrika perdesiekte. Hy was in
die 1980’s betrokke by die span wat
onverpoos gewerk het om die verbod
op die invoer van perde uit
Suid-Afrika weens perdesiekte,
opgehef te kry.
Toe Peter en Betty Jay hier
weg is, het hulle gesê dat
hulle ons kontrei se mense
baie sal mis en deel van hulle
“sal altyd hier bly”.
Dr Jay se begrafnisdiens is
op Woensdag 26 Augustus
vanuit die Doxa Deo Oos
Kampus gehou. Sy jarelange
assistent, Fanie Nkasana,
was een van die draers. |