Brandewynstokery lok toeka se magnate en mynbase PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 21 September 2009 17:15
Untitled Document

Die eerste wettige brandewyn stokery in die Zuid-Afrikaansche Republiek was in Bronberg- wêreld op die plaas Hatherley langs die Pienaarsrivier. Die storie van dié stokery is een wat baie van toeka se kleurvolle karakters byeengebring het; van die mynbedryf se beroemde Barney Barnato, sakemanne Isaac Lewis, Sammy Marks en Alois Hugo Nellmapius tot President Paul Kruger.

Dié stokery is ook die rede hoekom Sammy Marks homself in ons kontrei gevestig het. Sammy het Pretoria vir die eerste keer in Oktober 1881 besoek, vier jaar voor die Babertonse goudstormloop. Hier het hy Nellmapius ontmoet, wat klaar met Paul Kruger bevriend was en die konsessie vir alkohol vervaardiging in die Zuid-Afrikaansche Republiek gekry het.

Nellmapius
Die verhaal van die stokery op Hatherley het so begin: Nellmapius, gebore in Boedapest, het in 1878/79 ’n vennootskap aangegaan met Robert Cottle Green wat die plaas Hatherley, aangedui as 17 km oos van Pretoria aan die Pienaarsrivier, besit het. Met die eerste Vryheids-oorlog het Robert perde, beeste en vars produkte aan die boere verskaf.

In 1882 plaas hy egter ’n kennisgewing in die koerant wat aankondig dat daar geen uitspanning meer by Hatherley se plaashuis sal wees nie; slegs by die Pienaarsrivier. In haar Ou Pretoria Nuusbrief, sê Rosa Swanepoel dat dit nie duidelik is presies wanneer Nellmapius alleen-eienaar van Hatherley geword het nie. Dit moes tussen die tyd van dié kennisgewing en die aankondiging van Nellmapius se vennootskap met Robert gewees het.

In ’n brief aan die Zuid-Afrikaansche Republiek, gedateer 8 September 1881, het Nellmapius aansoek gedoen om ’n brandewynstokery, waarvoor hy alleenreg wou hê, op Hatherley te begin.

In dié brief sê Nellmapius dat dit hoog tyd is dat die Volksraad mense aanmoedig om produkte in die Republiek te vervaardig, in plaas daarvan om alles in te voer. Hy het voorgestel dat hy ’n fabriek sal begin wat suiker, meel, alkohol, bier, sigare, asyn en styfsel sal vervaardig en leer sal looi.

Hy het geskryf dat hy beplan om baie geld op dié projek te spandeer om toerusting van Europa af in te voer. So ’n belegging sou net vir hom die moeite werd wees as die Volksraad hom alleenreg vir ten minste 15 jaar kon waarborg.


Foto van Eerste Fabrieken op die plaas Hatherley
Foto: Nasionale Argief

Volksraad
Die Volksraad het sy versoek goedgekeur en die kontrak is ’n maand later, in Oktober 1881 onderteken. So het Nellmapius die 15 jaar konsessie verkry om die enigste vervaardiger in die Republiek te word van sterk drank, “gemaak van graan, aartappels en ander produkte, met die uitsondering van vrugte wat aan bome groei en druiwe”, asook die reg om dié alkohol in grootmaat te verpak en te verkoop sonder lisensie.

Maar dit is juis rondom hierdie tyd wat Nellmapius deur een van sy gereelde bankrotskappe gegaan het. Nellmapius was ’n gekwalifiseerde myningenieur wat aanvanklik ’n muil-koetsdiens begin het wat tussen Pelgrimsrust en Delagoabaai diens gedoen het. Hy het ook handel gedryf in die goedkoop Portugese drank wat hy van die kus na die goudvelde vervoer het. Nellmapius het later ’n suksesvolle boer geword en grond suid van Pretoria gekoop wat hy na sy dogter, Irene, vernoem het. Dit is hier waar hy ’n vriend en vertroueling van President Paul Kruger geword het.

Toe Nellmapius bankrot gaan, was Hatherley, die perseel van die voorgestelde alkohol vervaardiging, al wat hy nog besit het. Hy vorm toe saam met die maatskappy Lewis & Marks, bestaande uit sy vriende Sammy Marks en neefs Isaac en Barnett Lewis, beter bekend as Barney Barnato, ’n onderneming met ’n kapitaal van 100 000. Barney Barnato was ’n Britse entrepreneur wat beheer oor die diamantmynbedryf en later oor die goudmynbedryf in Suid-Afrika verkry het vanaf die 1870’s.


Sammy Marks, Barnet Lewis, bekend as die mynbedryf se beroemde Barney Barnato, en Isaac Lewis
Foto: Wikipedia

Sammy
In 1881 het Sammy Pretoria toe gegaan om die nuwe onderneming te registreer. Die registrasie word gepubliseer in die Staatskoerant van 14 Julie 1882 as “De Eerste Fabrieken in de Zuid Afrikaansche Republiek (Bep.) en die konsessie is aan dié maatskappy oorgedra.

Sammy het beplan om net ’n paar weke in die Pretoria-omgewing deur te bring maar, danksy die fabriek, het hy op die ou einde vir die res van sy lewe hier gebly. In Desember 1883 het hy die plaas Zwartkoppies langs Hatherley gekoop vir 1 400. Die volgende jaar is hy terug Engeland toe en het daardie Desember met Bertha Guttman getrou en haar terug gebring Zwartkoppies toe.

Eerste Fabrieken se kantoor in Hatherley is in Junie 1882 geopen. Vivian Pilditch is as sekretaris aangestel en nie lank na die opening nie, het hy advertensies in die koerant geplaas waarin hy brandhout en graan vra om te koop. ‘De Volkstem’ van 21 Maart 1883 berig dat die stokery by Eerste Fabrieken ge-open is en dat sterk drank nou gelewer word. Later noem die koerant Eerste Fabrieken se inwyding in Junie 1883 ’n doopfees.

Die stokery is amptelik deur president Kruger geopen en hy het dit na ‘Volkshoop’ herdoop. Die openingsdag is deur lede van die Volksraad bygewoon en ‘De Volkstem’ het verslag gelewer oor beide president Kruger en Nellmapius se toesprake, asook oor ’n demonstrasie van Roby se stoomenjin wat daar gehou is.


Diť gedenksteen staan vandag op die perseel van die Sammy Marks-museum

Hatherley
Die plaas Hatherley was 4 000 akkers groot. Daar was ’n reservoir met ’n kapasiteit van 170 000 gallon water; ’n fabriek vir elektriese kragopwekking; ’n vier-verdieping sentrale stokery, ’n losieshuis vir blanke werkers; huise vir getroude blanke werkers en ’n spoggerige huis vir die stokery se bestuurder. Daar was ook drie groot graanstore, elk met ’n kapasiteit van 5 000 sakke.

Dié hele spul kon gesien word van Sammy Marks, die stokery se besturende direkteur, se huis af. Dié huis het bekend gestaan as Zwartkoppies Hall en is vandag ’n nasionale museum.

Teen 1889 het die fabriek meer as 150 werkers in diens gehad en het 1 000 gallon alkohol vervaardig uit die graan wat voorsien is deur Transvaalse burgers. In Desember 1889 was daar ’n terugslag toe ’n brand in die fabriek uitgebreek het en ’n twee maande vertraging in produksie veroorsaak het. Blykbaar was die oorsaak brandstigting. Sammy het later besef dat meer kapitaal nodig was om die bedryf uit te brei en hy het besluit om die maatskappy op die Londense aandelebeurs te lys om sodoende toegang tot beide nasionale en internasionale kapitaal te verkry.

In November 1892 het die konsessiehouers geld en aandele in die ou maatskappy verruil vir aandele in die nuwe Eerste Fabrieken Hatherley Distillery Limited. In 1890 was Hatherley Distillery die enigste voorsiener van goedkoop alkohol aan 14 000 swart mynwerkers; die getal het tot 100 000 gegroei teen 1899. Dié beskermde toegang tot die mark was ’n belangrike deel van Hatherley se suksesstorie. Dit was ook die begin van grootmaat alkoholproduksie in Suid-Afrika.


Sakeman Alois Hugo Nellmapius
Foto: Wikipedia

Dronk
Hatherley se aanvanklike sukses in die produksie van goedkoop alkohol vir die goudmynbedryf se swart werkers, het egter begin probleme skep vir dié industrie. Toe mynboukostes begin styg het in die 1890’s, het dit onaanvaarbaar geword dat 15-20 persent van dié werkers nie kon werk nie, omdat hulle te dronk was. Na die begin van die depressie in Transvaal in 1896 het myneienaars probeer om die verkoop van alkohol aan mynwerkers onwettig te laat verklaar.

Die Transvaalse Volksraad het toe ’n wet afgekondig wat dié verkope verbied vanaf 1 Januarie 1897. Dié verbod op die verkoop van alkohol aan swart mense en die dranksmokkelary van Mosambiek af, het ’n groot impak op Hatherley gehad. In 1897 het Hatherley ’n verlies van 46 988 getoon.

Aandeelhouers in dié maatskappy het gesê dat hulle vir die firma ‘Lewis & Marks’ moet druk om kompensasie vir dié verliese van die regering af te kry. In ’n brief het dié aandeelhouers gesê hulle besef dat hulle nie druk op Sammy Marks kan plaas nie, want as hy moet kies tussen die aandeelhouers se belange en sy vriendskap met President Paul Kruger, sal sy vriendskap seëvier. Dit het toe ook so gebeur.

Onthou
Meer as ’n honderd jaar later ken inwoners die naam ‘Hatherley’ net as die plek van die vullishope neffens Pienaarspoort. Daar is egter nog ’n paar mense wat iets van die Eerste Fabrieken onthou.

In Rosa Swanepoel se Ou Pretoria nuusbrief skryf Albi Meyer dat hy melkkanne van sy oupa geërf het waarop ‘Eerste Fabrieken’ gegraveer is. Sy oupa het sy melk in die oggend per trein na Eerste Fabrieken se stasie gestuur. Die middag het die melkkanne weer teruggekom per trein met die geld binne-in die leë kanne. Daar was skynbaar nooit ’n voorval van diefstal nie. In dieselfde nuusbrief vertel Louw van Deventer dat sy gesin in 1951/2 in Eerste Fabrieken gewoon het. Sy pa was die stasievoorman. Daar was toe reeds niks meer oor van die fabrieke nie; net ’n paar spoorweghuise en ’n Joodse en Sjinese winkel. Louw-hulle het egter nog baie verskillende soorte bottels daar gevind.

 

© 2019 Die/The Bronberger