Met dié terugblik oor die ‘toekas’ wat in ons sewende
jaar die lig gesien het, onthou ons weer verhale soos
waar Pretoria se eerste kuierplek was, hoe die ou plaas
Garstvontyn gelyk het, waar die Britse prins se vergete
graf is waar dit glo spook, dat Rider Haggard se
liefdeskind hier begrawe is, hoe Vincent Van Gogh se
broer in die Anglo-Boere-oorlog selfmoord gepleeg het
en hoekom die inwoners van Onverwacht hulself ‘swart
Afrikaners’ noem.
Die plaas Garstvontyn
In September verlede jaar vertel ons dat boere lank voor Pretoria nog sy
naam gekry het, op die plaas Garstvontyn gewoel en gewerskaf het. Die
laaste landelike dele van die plaas is in die 2000’s in sekuriteitsontwikkelings
soos Woodhill, Mooikloof Heights, Mooikloof View, Mooikloof Ridge, Mooikloof
Manor, Mooikloof Gardens en The Wilds omskep. Minder as ’n dekade
gelede het beeste egter nog rondgeloop op Wolfaardt Landgoed, ’n deel
van die oorspronklike plaas Garstvontyn, waar Woodhill-gholflandgoed
vandag is. |
Eerste leidam herontdek
Die posisie van die heel eerste leidam in Pretoria is onlangs herontdek, berig
ons in Oktober 2008. Gert Bronkhorst, een van die eerste Voortrekkers wat
in die omgewing aangekom het, se dam en leivoor-waterstelsel is gevind
deur erfenis- en restourasiekonsultant, Anton Jansen van die plot Belofte,
Rietfontein. Hy het die plek van Gert Bronkhorst se damwal in die Apiesrivier
gevind asook die pad wat die leivoor vanaf die dam na sy landerye toe geloop
het. Die dam is wes van Unisa se hoofgebou en is vandag van beton.
Aan die oos-oewer is daar nou traliewerk voor ’n waterpyp wat voorheen
die leivoor was. |
Vanuit die meester se koetshuis
In November 2008 vertel ons die
verhaal van een van Pretoria se heel
eerste skole. ’n Hollander met die
naam van Wessel Louis het meer as
200 jaar gelede as skoolmeester in
Pretoria aangekom en ‘kosgangers’
het in stalle in sy koetshuis tuisgegaan.
Meester Louis se eerste leerlinge het gestrek van Groot Piet Grobler, ’n familielid van die Staatspresident,
Cornelis Wielbach, later regsgeleerde, Dewalt Bodenstein, later professor,
Jan Jurie Schoeman, later myningenieur, Mortimer Malherbe en
Dowe Jan Celliers, later landmeter, tot ’n lid van die Nederlandse adelstand,
jonkheer C Beelarts van Blokland. |
Cullinan se eeu-oue rugbyklub
’n Ronde 100 jaar gelede is die eerste bal by die Cullinanse Rugbyklub
afgeskop, berig ons in November 2008. Dié klub het in 1908 ontstaan onder
die bestuur van ‘The Premier Mine Football Board’. Daar bestaan foto’s
waarop die ‘Board and Cup Winners for the season 1908’ pryk. Van dié vyf
spanne was twee sokkerspanne en drie rugbyspanne, naamlik die ‘Country
Cup Rugby Union Football’ span, die ‘Jameson Cup, Mechanics Rugby
Football Club’ span en die ‘Wagner Cup, The Buccaneers Rugby Football
Club’ se span. |
Terugblik na Desember 1908
In Desember 2008 draai ons die knop ’n honderd jaar terug en kyk na
Desember 1908, die jaar waarin die reuse Cullinan diamant gesny is, ’n interkoloniale
konferensie in Pretoria
gehou is, Onderstepoort Veeartseny
Instituut en TUK, voorloper van die
Universiteit van Pretoria, gestig is.
Ons kyk hoe poskaarte, Kerskaartjies,
Nuwejaarskaartjies en Kerspersente
vir kinders daardie jaar gelyk
het. Op dié publisiteitsfoto oorhandig
mynoppervlakbestuurder Fred
Wells, regs, die Cullinandiamant
aan McHardy
wat dit dan terug gee
aan Thomas Cullinan,
links. |
Eergister se
Januaries
In Januarie berig
ons dat verslanking
nie net deesdae ’n
Januarie-tema ná
Krismis se grooteet
is nie. Dit was
al so in Januarie
1956 toe ‘Lantern’
’n hele 16 bladsye
aan ’n verslankingafdeling
afgestaan
het. Ons het terug
gekyk na ander
Januarie-onderwerpe
in ‘Panorama’
en ‘Lantern’ en
het agtergekom
hoe goedkoop vakansies
in ons land
tot so onlangs as
1988 nog was; hoe
presidentsvroue se
voorname nie belangrik
was in 1977
nie; hoeveel geregistreerde
kiesers ja
gestem het in 1983
en wat die voorspellings oor Afrikaanse musiek in 1987 was. |
Sebras ingespan
’n Poskoets is mos iets wat deur perde getrek word. Verbeel jou nou wat
Pretorianers van die laat 1800’s se reaksie was toe die bekende Zeederberg poskoets een mooi dag agter ’n span sebras op Kerkplein opdaag. In
Februarie vertel ons in watter ongewone posisies sebras ingespan is in die
verlede. Omdat hulle bestand is teen perdesiekte is hulle voor koetse en
waens ingespan en die eerste dokter in Nairobi, Rosendo Ribeiro, het selfs
huisbesoek op ’n sebra gedoen. Ons verduidelik ook watter sebra-kruisings
’n ‘zorse’, ‘hebra’, ‘zedonk’ en ‘zonkey’ genoem word. |
Prins se graf lê vergete
In Maart vertel ons dat koningin Victoria se gunsteling kleinseun, prins Christian
Victor, in ’n beskeie soldategraf in Pretoria se Kerkstraat-begraafplaas
begrawe is in 1900. Dié 33-jarige prins is in Pretoria aan ingewandskoors
dood nadat hy deur malaria platgetrek is. Sy liggaam is gebalsem en alle reëlings
is getref om dit na Engeland te verskeep toe ’n telegram van sy ouma,
koningin Victoria, aankom met die bevel dat haar kleinseun in Pretoria in ’n
gewone soldategraf begrawe moet word. Vandag spook dit glo by dié graf.
Die foto wys hoe die prins se begrafnisstoet met Kerkstraat afbeweeg. |
Nuwe foto’s van prins se sterfte
In April het ons nuwe foto’s van dié vergete Britse prins se sterfte in die
hande gekry. Die foto’s het gewys hoe Prins Christian Victor se kis, die tent waarin die kis in staatsie gelê het, die prins se sterfkamer en die prins se graf
voor die grafsteen opgerig is, gelyk het. |
Sy liefdeskind lê hier
Generasies skoolkinders
het Henry Rider Haggard
leer ken as avontuurskrywer
van boeke soos ‘King
Solomon’s mines’ en ‘She’.
Ander ken hom uit die geskiedenisboeke
as Britse
koloniale amptenaar en
landbouhervormer. ’n Minder
bekende feit is dat
Henry, toe hy in die 1870’s
Pretoria toe gekom het, ’n
buite-egtelike baba-dogtertjie
in Kerkstraat se begraafplaas
agtergelaat het.
In April het ons die tragiese
verloop van dié skrywer
se liefdeslewe vertel. |
Pretoria se eerste kuierplek
Dié Thomas Baines skildery van Albert Brodrick se winkel en kuierplek op
Kerkplein is blykbaar in die mid-1880’s gemaak in ruil vir Baines se kruidenierskuld.
In Mei vertel ons die storie van die kroeg, Gaiety Bar, waar President
Paul Kruger se seuns bekende gesigte was. Hulle het so lekker daar
gekuier dat Paul Kruger in die Volksraad moes verskoning vra vir sy seuns
wat so dikwels onder die invloed was. As straf het hy hulle vir twaalf maande
na sy plaas, Boekenhoutfontein verban. |
Van Gogh-broer pleeg
hier selfmoord
Dat Vincent van Gogh se jongste broer,
Cornelis, in die Anglo-Boere-oorlog aan die
Boere se kant geveg het, is iets wat min
mense weet. Dat hy in dié oorlog gesterf het,
is iets wat jy op ’n gedenkbord in Pretoria,
waar hy gewoon het, kan gaan raaklees.
Maar dat hy, nes sy beroemde broer, selfmoord
gepleeg het, is iets wat die amptelike
verslae van daardie tyd eers nie bekend wou
maak nie. In Junie verklap ons al die geheime
agter Cor se selfmoord in Suid-Afrika. |
Boschkop se
plaasbegraafplasies
In Junie ‘vlieg’ ons oor Boschkop
se plaasbegraafplasies met
die hulp van die Genealogiese
Genootskap van Suid-Afrika
(GGSA) se ‘Google Earth’ projek.
Drie begraafplasies word
aangedui vir Boschkop, maar
net twee van hulle het ’n skakel
na foto albums op GGSA se
webwerf. By Boschkop 369 (1)
strek grafte van 1922 tot 1975.
Die vanne wat op die grafstene
verskyn sluit Paulsen, Potgieter,
Terblanche, Viljoen en
Wolmarans in. By Boschkop
369 (2) strek grafte van 1911
tot 1997 met vanne soos
Grobler, Jones, Joubert, Liebenberg, Janse van Rensburg en Smit. |
Onverwacht se swart Afrikaners
’n Groep mense wat hulself swart Afrikaners noem, woon nou al vir langer
as ’n honderd jaar op grond wat Paul Kruger aan hulle toegestaan het, berig
ons in Julie. Onverwacht is tien kilometer noord-oos van Cullinan en die
Onverwachters is afstammelinge van bevryde Maleise slawe, wat intussen
ondertrou het met lede van die Pedi-stam, wat saam met die Malan nátrek
in 1857 hier aangekom het. Met die Vryheidsoorloë het die nátrekkers saam
met die Boere geveg en Paul Kruger het hulle belowe dat hy vir hulle grond
sou gee as die Boere wen. Die Boere het verloor, maar die nátrekkers het
steeds hul grond gekry. |
Redakteurs se dieretuin-wortels
In Augustus vertel ons dat twee redakteurs van ‘De Volkstem’ se wortels
terug getrek kan word na Pretoria se dieretuin. Die een is op die terrein
gebore en die ander een het daar gewoon. Ons praat van Johannes Francois
Celliers, stigter van die Pretoriase ‘De Volkstem’ en van Gustav Preller, ’n latere
redakteur van dié koerant wat saam met sy vrou Hannie op die foto
pryk. Die plaas Klein Schoemansdal is herdoop na ‘Rus in Urbe’ en is in 1895
deur die Republikeinse Regering aangekoop om ’n dieretuin te begin. Dit
was eers in 1899 dat daar diere na die dieretuin toe geskuif is. |
Donkerhoek en
Kleinfontein se
grafte
Ons ‘vlieg’ oor Donkerhoek
en Kleinfontein se plaasbegraafplasies
in Augustus.
Met die hulp van die Genealogiese
Genootskap van
Suid-Afrika (GGSA) se
‘Google Earth’ projek vind
ons dat daar vyf plaasbegraafplasies
op die plaas
Donkerhoek 365 en vyf op
die plaas Kleinfontein 368
is. Ons bekyk die begraafplasie
op die plaas Tandum,
Kleinfontein met sy Botha
grafstene, en Donkerhoek
se begraafplaas nommer
drie op plot 51 met sy 17
grafstene. |
|