Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 21 September 2009 18:18
Untitled Document

Elsabé Maré

Rugby-legende, Jan Ellis, woon en werk die afgelope 24 jaar op sy Nooitgedacht-plot buite Rayton. Hier bedryf hy sy eie afslaersaak, en het ’n winkelkompleks sowel as ’n vulstasie gevestig.

En die rede hoekom hy begin het om ’n landelike vendusie aan te bied? Jan sê dat hy nog altyd met mense gewerk het. So het ek groot geword, en so gaan ek aan, sê hy. “Hier was ’n vendusietjie waar ek moes uithelp as afslaer, alhoewel ek nie gedink het ek sal ’n afslaer word nie.”

Hy het die werk geniet en ’n kursus as afslaer suksesvol voltooi. Toe Jan die vendusie oorgevat het, was daar so tien mense op ’n Saterdag. Vandag het dié vendusies ’n instelling vir die gemeenskap geword.


Die Springbokspan het in 1969/70 na die Britse Eilande en Ierland getoer. Jan vertel dat die jongmanne staan en die ouer manne in die span voor sit. Jan is tweede van regs tussen Mof Myburgh en Hannes Marais. Heel links is Frik du Preez met Syd Nomis en Tommy Bedford langs hom. In die middel voor is kaptein Dawie de Villiers met die spanbestuurder, Corrie Bornman en onder-bestuurder Avril Malan langs hom

Sy vulstasie naby die Rayton/Bapsfontein- kruising op die ou Bronkhorstspruitpad word bedryf deur sy dogter, Petro Olivier. Vroeër vanjaar het dié vulstasie een van die eerste landelike stasies geword wat 24-uur per dag oop is. Allerhande meganismes is ook in werking gestel om tipiese plattelandse probleme, soos kragonderbrekings en telefoonkabels wat gesteel word, teen te werk.

Jan se rugby-aanhangers sal jou vandag nog vertel dat daar waar hy was, altyd iets gebeur het. As hy in ’n losskrum ingaan, sien jy hoe kom sy hand met die bal uit.

Jan Hendrik Ellis het sy toetsdebuut as Springbokflank op 23 jarige ouderdom gemaak. Dit was in ’n wedstryd tussen die Springbokke en New Zealand in Wellington, in Julie 1964. Die laaste toets wat hy gespeel het was ook teen New Zealand, in Julie 1974 in Durban op 34 jarige ouderdom. Jan het 38 keer vir die Springbokke uitgedraf teen Australië, New Zealand, Frankryk, die Britse Eilande en Ierland.


Afdrukke van dié Springbokspanfoto kon destyds bestel word by Posbus 170, Arcadia, Transvaal. Jan Ellis sit heel regs in die voorste ry. Sy flankmaat, Piet Greyling, is vierde van links in die agterste ry

Jan het uitgeblink as losvoorspeler, sy spel het die verbeelding van die toeskouers aangegryp en by sy teenstanders vrees ingeboesem. Hy was altyd superfiks en sy teenstanders het dit veral in wedstryde besef. Wanneer die spelers se spiere begin tam word in die tweede helfte, skakel Jan oor na ’n hoër rat. In Windhoek se omgewing is daar pragtige kliprandjies en vir Jan was dit ’n gymnasium waar hy die rante op en af gedraf het, uur na uur.

As fiksste lid van sy span was sy naam eerste en outomaties op die lys as ’n Springbokspan gekies word. In die begin van sy loopbaan het hy vir Suidwes-Afrika en Transvaal uitgedraf en hy beskou die tyd wat hy in Otjiwarongo vir die klub en vir Namibië gespeel het, as van sy lekkerste rugbydae. Jan is in Brakpan gebore, maar het in die destydse Suidwes-Afrika grootgeword.


?n Foto destyds van Jan in ?Die Huisgenoot? se sportalbum

Jan, in 2009, as afslaer by een van sy Saterdagveilings

Met sewe toetsdrieë agter sy naam, was hy destyds een van die voorste driedrukkers van Springbokrugby. Dit was net John Gainsford en Jannie Engelbrecht wat elk agt drieë gedruk het, wat hom kon troef.

Sy vermoë om ’n bal te hanteer en te bemeester, sy spoed en krag, het hom bo die ander spelers laat uitstaan. Die rooikop se kragtige lopies met die bal stewig in een van die groot hande vasgeklem, het rugbyskares wêreldwyd gaande gehad

. Baie kenners is van mening dat die losvoorspeler-kombinasie van Jan Ellis, Piet Greyling en Tommie Bedford die beste was wat nog die groen en goud gedra het.

 

© 2024 Die/The Bronberger