PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 21 September 2009 14:24
Untitled Document

Wie sou nou kon raai dat mense dwarsoor die wêreld olie bestel wat van die grootsuurpruim se sade gemaak word?

Dié olie staan bekend as Ximenia saadolie en word as kosmetiese middel gebruik wat glo help om veroudering hok te slaan.

Volgens advertensies laat dié olie jou jonger lyk omdat dit die samebinding van die selwande beskerm en ’n herstellende effek op die vel het. Dit voed blykbaar die vel en dien as bevogtiger.

Ons wonder wat die kosmetiese bedryf sal sê as hulle hoor dat BioDzl, die internasionale reus in die bio-diesel industrie, ook belangstel in kommersiële produksie van die grootsuurpruim se sade. Hulle het die grootsuurpruim gelys as een van hul verkose olie-draende sade. Dié sade het ’n 65% olie-inhoud en het ongeveer 92% onversadigde vetsure. Die saadolie is tradisioneel deur baie stamme gebruik om aan die gesig of hare te smeer, en as ’n kuur vir droë hakskene.


Grootsuurpruim
Foto: Prelude Medicinal Plants Database

Boesmans
Die Boesmans sê dat as jy dié saadolie aan jou hare smeer, kleur dit die hare donker swart en help om dit meer reguit te maak. Boesmans rooster die sade, maal dit dan fyn en smeer die poeier aan wonde. Hulle gebruik dit ook om pyl-en-boog en die boogstring soepel te hou; die olie word aan die boog en die boogstring gesmeer.

Grootsuurpruim-saadolie is gebruik in die maak van seep en om dierevelle mee te brei. Pedi-vrouens gebruik dit in die voorbereiding van hul tradisionele leervoorskote. Die olie is ook in lampe en fakkels gebruik.

Dit is egter nie net die grootsuurpruim se sade wat gebruik word nie. Ryp vrugte het ’n vitamiene C inhoud van 27%, is hoog in kalium en bevat ook proteïene. Die vrugte het ’n verfrissende suur smaak en word gebruik om mampoer, konfyt, poeding en jellie mee te maak. Gemaalde vrugte word ook by pap gevoeg.

Medisyne
’n Aftreksel van die blare word gebruik om oogkwale te behandel. ’n Aftreksel van die wortels word gebruik om diarree en disenterie te behandel, en gemeng met die blare word dié konkoksie vir enige buikpyn en bilharzia gebruik.

Verpoeierde blare word geëet teen koors en ’n afkooksel van die blare word gebruik om te sluk as ’n wurmverdrywer en om mee te gorrel vir mangelontsteking. Baie stamme glo ook dat ’n afkooksel van die blare slegte drome sal verdryf.

Verpoeierde wortels word tradisioneel deur verskeie stamme op sere geplaas om genesing te versnel; dit word in sop gebruik, in bier en as ’n prikkelmiddel. Swanger vroue eet pap wat gemaak is van ’n afkooksel van die wortels teen naarheid; dié wortelafkooksels word ook geneem teen onvrugbaarheid.


Vrugte
Foto: Geoff Nichols

Boom
Die grootsuurpruim, Ximenia caffra, is ’n bladwisselende boom met ’n deurmekaar oop kroon wat ongeveer ses meter hoog word. Die bas is donker-grys en grof, terwyl die jonger takke liggroen of bruin is. Die klein romerige groen blommetjies het ’n soet reuk en is aan die boom van Augustus tot Oktober. Hulle word gevolg deur 25 mm lange, ovaalvormige vrugte wat ’n glansagtige rooi kleur word met wit spikkels.

Die grootsuurpruim is vernoem na ’n Spaanse monnik, Francisco Ximenez, wat in die 17de eeu in Meksiko oor dié plante geskryf het. Die genus Ximenia groei ook in Amerika. Die spesie naam caffra verwys na Kaffraria, ’n ou naam vir ’n deel van die Oos-Kaap.

Dit is maklik om die grootsuurpruim van saad af te groei in ’n 5:1 mengsel van riviersand en kompos. Die saad ontkiem na 14-30 dae en saailinge kan oorgeplant word as hulle die twee-blaar stadium bereik.

Dié boom is gedeeltelik parasities en sal beter groei as hy kan kontak maak met ander plantwortels. Hy groei teen ’n gemiddelde spoed, tot ’n halwe meter ’n jaar, en kan middelmatige ryp hanteer. Hy is droogte- bestand, en het vol son nodig.

 

© 2019 Die/The Bronberger