Klagte oor kos en diens PDF Print E-mail
News - Briewe
Wednesday, 20 February 2008 02:00
Untitled Document

Gert Pretorius van Wapadrand skryf:

Na aanleiding van Sheila van die Wilgers se brief en die advertensie van Ed’s Place en Country Grill in Die Bronberger van Januarie 2008, sit ons toe vol verwagting af na die eetplek

Wat ’n teleursstelling, ’n eetplek is dit beslis nie, ’n drinkplek beslis. Buitestaanders is duidelik nie welkom nie, na aanleiding van die aanmerkings van die drinkebroers wat reeds teen 6.30 nm vol aanmerkings was.

Dit wat die restaurant gedeelte is was vol rook soos wat rokers om die snoekertafel vergader het wat binne in die restaurant geleë is – duidelik het hulle nog nie van die anti-rook wetgewing gehoor nie.

Na byna ’n halfuur se wag het niemand die moeite gedoen om ons te probeer help nie. Ons is toe maar druipstert daar weg na ’n ander eetplek waar daar wel kos en diens was.

Sheila, jy mors jou tyd om soontoe te gaan.

Die Bronberger het Gert se klagte vir Karin van Ed’s Place aangestuur. Hier is haar antwoord.-Red

Besorg oor teleurstelling

Karin Saffy van Ed’s Place skryf:

My naam is Karin en ek is die eienaar van Ed’s Place. Ek is regtig baie jammer dat jy so ’n teleurstellende ondervinding by ons plek gehad het. Ons het wel ’n nie-rook area wat apart is van die kroeg en snoekertafel.

Ek wil ook net verduidelik dat ons nooit gesê het dat ons ’n vreeslike “fancy / smart” plek is nie. Ons is’n klein kroeg / restaurant en ons het baie lokale en ander mense wat heerlik by ons plek kuier en wat keer op keer terug kom vir die atmosfeer sowel as die kos.

Ja, ons het ’n snoekertafel, ja ons het ’n kroeg waar mense hulle self geniet en ja ons dans selfs ook soms. Dat my personeel julle lank laat wag het is ek regtig jammer voor. Soos meer mense van ons hoor word ons al hoe besiger en sal ons moet aanpas met meer personeel.

Ek wil julle graag uitnooi om by ons te kom eet (op my koste) maar asseblief, as u ’n “fastfood” vyf-ster restaurant verwag is ons nie die regte plek nie. Kom kuier gesellig – drink ’n glasie wyn en u sal regtig nie jammer wees nie want die kos is puik.

 

© 2019 Die/The Bronberger