Vergete briewe jare ná skrywers se dood gevind Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 14 April 2022 09:59
Untitled Document

Angie Kleijn

Deesdae is dit vir ons glad nie vreemd dat posstukke nie hulle bestemmings bereik nie. Mense het dit heel komies gevind toe die poskantoor amptelik laat weet dat hulle alle posdienste na Oekraïne en Rusland opskort.

In ’n potgooi-nuusbespreking deur Izak du Plessis het Izak gelag dat die trane loop toe hy dié ‘brekende nuus’ bekend maak. Dit was veral mense se kommentaar wat Izak en mense wat die wyd-gedeelde uitsending gesien het, laat skaterlag het.


Seventeen Nineteen se sentrumbestuurder, Tracey Mienie, sit op William se sitplek, waar sy 125-jaar-oue briefie nou hang
Foto: Sunderland Echo

Hulle kan jare reeds nie eers in Centurion aflewer nie en die dienste daarheen is nie eers opgeskort nie, het ’n ou laat weet. ’n Ander een het gesê hulle het nie oorlog gemaak nie en verstaan nie wat hulle verkeerd gedoen het nie, want hulle kry ook lankal nie meer pos nie.

Daar was ’n tyd toe posaflewering in ons kontrei as vanselfsprekend aanvaar is en dit is juis in daardie tyd dat ’n verlore brief eers ná 44 jaar die mens aan wie dit geadresseer is, bereik het. Dit is die storie wat vegvlieënier, wyle Sam McMurray van Mooiplaats, in 2006 aan die Bronnie vertel het.

Sam se brief-storie het met ’n oorlog te doen. Hy is in Pretoria gebore, het vir ’n ruk in die Rayton-distrik geboer en het vir 28 jaar by die Cullinan-myn gewerk voor hy Mooiplaats toe getrek het. Sam is op 8 September 2008 oorlede.


Die briefie wat William geskryf het op die dienskaart wat daardie dag by die kerk gebruik is
Foto: Sunderland Echo

Hy het in sy jonger jare ’n groot vriend, Bob de Klerk, gehad. Dié twee het saam in die Tweede Wêreldoorlog as leerling vlieëniers begin diens doen. Daarna was hulle saam op dieselfde skip na die noorde toe en het as vegvlieëniers in dieselfde eskader opgeëindig.

In die middel van die oorlog het Sam sy 250 vliegure omtrent ’n maand en ’n half voor Bob klaargemaak. Sam is huis toe met verlof en het by Bob se ma gaan kuier om haar te vertel hoe dit met haar seun gaan.

Bob se suster het vir hom ’n brief geskryf om te sê dat Sam daar was en Bob het op sy beurt aan Sam geskryf om te vertel wat sy suster alles oor hom kwytgeraak het. Dit is daardie brief van
28 April 1944 wat Sam nie ontvang het nie. Bob is ’n maand later in Noord-Afrika dood toe sy vliegtuig afgeskiet is.


Die aktiewe diens briefkaart wat in 1944 aan Sam McMurray na Farrendenstraat 332 gestuur is deur sy vriend Bob de Klerk

Die eerste wat Sam oor dié brief te hore gekom het, was in 1988 toe ’n mej Viviers hom uiteindelik in die hande gekry het. Sam en sy ouers het weggetrek van die adres waarheen die brief gestuur is en die huis het intussen ’n hele paar ander eienaars gehad. Die laaste eienaar het besluit om die posbus te skuif en dink jou net in hoe verbaas sy was toe ’n misterieuse “aktiewe diens briefkaart” uit die Tweede Wêreldoorlog agter die posbus uitval.

Die brief is al die tyd toe wel afgelewer, maar het vir 44 jaar tussen die posbus en die muur vasgesit. Die mej Viviers wat die brief gevind het, het Sam in die Pretoriase telefoonboek opgesoek, hom gekry en die brief uiteindelik vir hom gegee.


Sam McMurray in die Tweede Wêreldoorlog

William
Ons tweede briefstorie het ook met ’n oorlog te doen – wel, dit eindig in die Eerste Wêreldoorlog. En dié briefie is nooit gepos nie, maar is juis op ’n openbare plek versteek sodat ander mense dit moet kry. Dit is onlangs eers ná 125 jaar gevind.

Die 13-jarige William Elliott het in 1897 ’n briefie agter op die kerkblaadjie van daardie dag geskryf en in ’n kerkbank van die Sunderland Parish Church in Engeland weggesteek. Toe daar in die onlangse grendeltyd met herstelwerk aan die kerkgebou begin is, is ’n delikate stukkie papier gevind wat restoureerders na ure se skoonmaakwerk ontsyfer het as ’n potlood-geskrewe briefie.


Sam McMurray in Junie 2006

“Liewe vriend, wie ook al op hierdie stukkie papier afkom, dink aan William Elliot wat twee maande en twee weke en vier dae gehad het op 11 Augustus 1897. As jy hierdie vind, moet dit nie opskeur of weggooi nie, hou dit ter nagedagtenis aan my. W Elliot. Ek was die leidende seun van hierdie koor. Ek is lief vir jou as jy lief is vir my.”

Die ‘Sunderland Echo’ het op 29 Maart vanjaar berig dat navorsers van Seventeen Nineteen-vrywilligers, wat die kerkgebou oorgeneem het, ontdek het dat die maande, weke en dae wat William noem verwys na die krimpende tydperk wat hy oorgehad het in sy veilige hawe, die weeshuis en kerkkoor. Hulle sê dat hy waarskynlik oor sy toekoms besorgd was. Hy is egter heelwat vroeër – net weke na hy sy briefie geskryf het, op sy 14de verjaardag op 29 Oktober 1897 – uit die weeshuis gelaat.


Die weeshuiskind, William Elliott, se Sunderland Parish Church is deesdae bekend as Seventeen Nineteen
Foto: Sunderland Echo

William het in die weeshuis beland omdat sy pa, senior offisier Thomas Duncan Elliot wat op Skyros gevaar het, oorlede is. Hy het in 1887 oorboord geval toe William maar net drie jaar oud was. Die gesin was aanvanklik welaf, maar teen 1891 moes Thomas se vrou, Sarah Ann, as rokmaker begin werk om haar vier kinders te onderhou. William is ’n jaar daarna, op die ouderdom van agt jaar, weeshuis toe.

Ander seuns wat uit die weeshuis gelaat is wou almal see toe, maar dit is juis die see wat William wou vermy en hy het vir ’n prokureur, ’n mnr Herbert, begin werk. Die navorsers kon niks ná 1901 oor hom opspoor nie, maar in ’n vreemde draai van die noodlot is William se naam gevind op die hout-gedenkplaat naby die kerkbank waar hy sy briefie gesit en skryf het. Die plaat dra die name van lidmate wat in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger