Trots ?Zuid-Afrikaansche? koetse se verbintenis met Melrose-huis se Heys PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 15 October 2009 23:00
Untitled Document

Ossewa, bokwa, skotskar, trêppie, ‘Spider’, kapkar, koets . . . Knap ’n eeu of wat gelede was hulle die vaartuie waarmee ons land oopgery is. Vandag staan hulle in die Willem Prinsloo Landboumuseum waar ’n mens van ossewa tot Paul Kruger se koets van naderby kan bekyk.

Die Voortrekkers se ossewa met sy seiltent wat deur kweperhouthoepels gesteun is, was ’n jarelange mobiele tuiste. Die bokwa is in die 1870’s ontwikkel om myntoerusting na die diamantvelde te neem. Hy was groter as die ossewa met ’n breër en platter romp wat kantrelings gehad het wat maklik deur hoë kante vervang kon word om hom in ’n gewone ossewa te omskep. Die skotskar, wat soos ’n halwe ossewa gelyk het met ’n wipbak, is op plase gebruik om vragte te vervoer. Die kapkar was toentertyd die vinnigste vervoermiddel vir ’n boer.

Die kap, wat eers rigied was, kon in latere modelle afgeslaan word. Daar was reeds in 1685 koetse in ons land, alhoewel die eerste koetse swaar vierwielvoertuie was wat deur tot ses perde getrek is. Latere koetse was ligter, meestal van Franse of Nederlandse ontwerp. Teen die einde van die agtiende eeu het Engels-vervaardigde koetse hier aangeland en Amerikaanse koetse is deur poskoetsdienste ingevoer.


Is dit Paul Kruger se koets voor Smith & Petrie Ingenieurs?
Foto: Rosa Swanepoel se Ou Pretoria nuusbrief
Die Heys-gesin se aankoms op Weltevreden
Foto: Tudor Estates
.

Plaaslik
Rosa Swanepoel het ’n foto in haar Ou Pretoria Nuusbrief gepubliseer waar dit lyk na Paul Kruger se koets voor Smith & Petrie Ingenieurs se wamakerwinkel in Pretoria. Dit is nie duidelik of hulle die koets gebou het en of hulle dit net opgeknap en aangepas het vir die president nie.

Dié onderneming was in 1889 op erfnommer 365 in Kerkstraat-wes, skuins oorkant die Poskantoor. Die eienaars was James J Smith en David Petrie. Die personeel het bestaan uit wamakers JD Cooper, J Gray, Andrew Heynes, John Hutchins, en O Watt; enjinbestuurder D Steele; grofsmitte B Bole, J Cobb, A Grey, W Kennedy, J Monteith en Henry Skinner; en versierings ‘trimmer’ W Bentian. Smith & Petrie het in 1898 na Pretoriusstraat verhuis toe hul perseel in Kerkstraat deur die Poynton broers oorgeneem is. Hulle was die maatskappy wat Heys & Co, wat voorheen net handgemaakte koetse uit Amerika ingevoer het, se poskoetse begin maak het.

In haar nuusbrief sê Rosa dat dit een ‘trots Zuid-Afrikaansche’ feit is waarvan min mense bewus was. Rosa het ’n berig in ‘De Volkstem’ van 18 Februarie 1889 opgespoor wat noem dat Smith & Petrie ’n koets vir Heys & Co vervaardig het wat gelykstaande is aan die ingevoerdes.

Dit was die eerste van ’n aantal wat bestem is vir die Barberton en Zoutpansberg roete. Met die oog op die lastige riviere en steil bulte en berge waar die koets moes ry, is die naafspeke met yster ondersteun anders as koetse van Amerika waar slegs hout op leer gebruik is. ’n Ene Bernhard het die skilderwerk op dié Heys & Co koets gedoen.


George Heys
Foto: Tudor Estate

Heys
George Heys, wat sy koetsvervoerdiens Express Saloon Coach Service in 1882 gestig het, was ’n welgestelde man wat Melrose-huis in 1886 laat bou het. Dit is in dié huis se eetkamer waar die Vredesooreenkoms van Vereeniging in 1902 onderteken is.

George Heys het saam met sy vriende, waaronder sakemanne Edmund en George Bourke, goeie betrekkinge met president Paul Kruger gehandhaaf en talle liefdadige geskenke aan Pretoria gemaak, soos ’n verpleeginrigting vir gewonde soldate in ’n klein gebou langs die Staatsmodelskool in Van der Waltstraat in 1899, die kerksaal van die Metodiste-kerk in Sunnyside en die klokkespel in die stadhuis in Paul Krugerstraat.

Express Saloon Coach Service se koetse het van Kerkplein op vier hoofroetes na Kimberley, Barberton, Pietersburg en Charlestown in Natal vertrek. Dié koetse is deur tien perde teen 10 tot 15 myl per uur getrek en kon 16 tot 20 passasiers vervoer.

Die roete van Kerkplein na die begin van die Kaapse spoorlyn in Kimberley was ’n dag-en nagreis wat ongeveer drie en ’n halwe dae geduur het. Die weeklikse diens na Barberton het takke in Lydenburg en Pelgrimsrus gehad. Nà die proklamasie van die Johannesburgse goudvelde in Augustus 1886 is Express Saloon Coach Service se dienste na Johannesburg uitgebrei. Heys het ook ’n kontrak met die posmeester-generaal, Nicolaas van Alphen, gehad om pos te vervoer.

Die koetsdiens se besprekingskantoor was in Kerkstraat-wes, langs die plek waar die Hoofposkantoor vandag is en die perdestalle was naby die suid-oostelike hoek van Vermeulen- en Kochstraat.


?n Poskoets voor die hoofposkantoor in Pretoria
Foto: Mieliestronk

Die Heys-gesin se Melrose-huis in Pretoria
Foto: JamesBondGuide

Beroof
Volgens Rosa het reise nie sonder voorval verloop nie en dit het soms gebeur dat ’n passasier wat op die dak gesit het, op die ruwe paaie afgestamp is. Een van die Heyskoetse is op 10 Desember 1897 naby

Pelgrimsrus van 3 500 onse fyngoud beroof wat nooit teruggevind is nie. Soos wat die spoorlyn uitgebrei het, het Heys sy koetsdiens afgeskaal. Die kontrak vir die vervoer van pos tussen Pretoria en Johannesburg is beëindig met die vertrek van die laaste koets uit Pretoria op 31 Desember 1892, ’n dag voor die aankoms van die eerste trein in Pretoria. Die heel laaste Heys-koets het in 1905 tussen Pietersburg en Pretoria geloop.

George Heys is laeveld toe; hy het die plaas Weltevreden, naby Waterval Onder, in 1904 by die weduwee van Generaal David Joubert gekoop. Behalwe vir ’n ou goudmyn op die plaas, is daar gerugte dat dit die finale rusplek van die vermiste Long Tom kanon is wat na die slag van Berg en Dal oor die Weltevreden krans gestoot is sodat die Britte dit nie in beslag kon neem nie.


?n Kleiner wa by die Heys-gesin se plaas, Weltevreden
Foto: Tudor Estates

?n Kapkar
Foto: Mieliestronk
 

© 2019 Die/The Bronberger