John Knox wou nog saam met Johnny Walker-borge deur Afrika stap Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 18 November 2009 08:47
Untitled Document

Wat sou jy gee om ’n droom op jou sterfbed te laat waar word? John Knox, Blou Bul rugbyspeler in die laat sewentiger jare en vorige eienaar van Bull & Bush in Tierpoort, het gedroom van ’n staptog deur Afrika met Johnny Walker as borg.

Hy sal só ’n staptog nie meer kan meemaak nie, maar ander kan dit dalk ter herinnering aan hom organiseer. John is op Vrydag 6 November in die ouderdom van 55 jaar oorlede. Sy dogter Jessica, wat in Australië woon, en sy seun Jason, wat in Skotland woon, was by hom. John is net meer as twee maande gelede met ’n aggressiewe keelkanker gediagnoseer. Die dokters het hom aanvanklik so drie tot ses maande tyd gegee, maar in Oktober was die prognose dat hy twee weke het om te lewe en hy het gesê dat hy nie eers weet of hy die Curriebeker eindstryd op Saterdag 31 Oktober sal haal nie.

Dié kwiksilwer senter uit die roemryke dae van Blou Bul-oorwinnings kon toe darem die Curriebeker wedstryd sien vanuit sy hospitaalbed in Die Wilgers Hospitaal, maar sy broer, Pieter Knox, het die Maandag daarna laat weet dat John nou op sy laaste is.


John en Annemarie voor die deur van Bull ?n Bush in Oktober 2002

Kuierplek
John het in die 1970’s as senter en vleuel vir Noord-Transvaal, Natal en die Suid-Afrikaanse o.21-span gespeel. Bronbergerlesers het John in ons tweede uitgawe in Oktober 2002 leer ken toe Vreethans ’n draai by Bull ’n Bush, die kuierplek wat nou as Ed’s Place bekend staan, gemaak het. Die Bull van Bull & Bush het egter niks uit te make met die Blou Bulle nie, het John gesê. Dit was bloot toevallig.

Hy het gesels oor sy en Annemarie, sy destydse vrou, se vestiging op Tierpoort en het gesê dat van die mense in die omgewing maar half traag was om ‘aankommers’ uit die stad sondermeer te aanvaar. Dié aanvaarding het egter met die tyd reggekom en Tierpoorters onthou John as iemand wat die vermoë gehad het om die grootste vriende en die ergste vyande in dieselfde sin te maak.

Klub
John het later lid geword van die Bashewa Atletiekklub, ’n suksesvolle spannetjie padwedloop-atlete wat besig is om groot naam te maak in atletiekkringe.

Die klub is egter nie net vir professionele padwedlopers nie. Dit is ook ’n sosiale klub waar families saam oefen en John, wat een van die klub se stappers geword het, het saam met sy broer Pieter aangesluit. Karin van der Walt, stigterslid van dié klub, sê dat John haar ongeveer ’n jaar gelede genader het om ’n staptoer dwarsdeur Afrika te reël met Johnny Walker as borg. Sy sê dit was ’n wonderlike idee met baie opwindende bestemmings waardeur die mense sou stap, maar dat sy nie genoeg vrye tyd gehad het om die organisering daarvan te behartig nie.

“Nou is dit te laat,” sê Karin.


John Knox as Blou Bul in die laat sewentiger jare

Planne
Sy het publikasies gebel om met John in die hospitaal te gaan praat oor sy staptog-planne deur Afrika, maar John wou niemand meer sien nie. Hy het gesê dat hy net familie en vriende in sy laaste dae wil sien. “John was vir soveel jare ’n openbare figuur, ek skuld dit aan hom om sy droom lewendig te hou,” sê Karin. Sy is nou op soek na vrywilligers wat deel wil word van so ’n stapekspedisie en mense wat kan help om die projek vir CANSA te ontwikkel ter herinnering aan John Knox.

As jy kan help, bel vir Karin van der Walt by 012-811-5116 of stuur ’n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

 

 

 

 

 

© 2020 Die/The Bronberger