Angie Kleijn
Kouse is nou nie juis iets waaroor mense deesdae sentimenteel raak nie en beslis nie iets wat jy sou dink ’n ereplek in museumuitstallings sal kry nie. Tog pryk kouse wat met argeologiese opgrawings gevind is in museums dwarsoor die wêreld. Op eie bodem spog die Nasionale Kultuurhistoriese Museum met die Voortrekker Daniël Malan se kouse.

Die Voortrekker Daniël Malan se kouse uit 1828
Foto: Nasionale Kultuurhistoriese Museum
|

Handgebreide kouse, 1650 – 1700
Foto: Rijksmuseum
|
Daniël het dié kouse op 17 Augustus 1828 gedra toe hy in Swellendam met Margaretha Johanna Susanna van Niekerk getroud is. Hy is dwarsdeur die Groot Trek met dié paar kosbare lang swart kouse, wat waarskynlik ’n kousband benodig het, en sy nageslag het dit in 1989 aan die Nasionale Kultuurhistoriese Museum in Pretoria geskenk.
In ‘Gister se kouse’ in die ‘Museum Memo’ van Junie 1989 skryf André Malan dat Daniël dié kouse ingepak het toe hy tien jaar ná sy troue sy waens gepak en begin trek het. Hy het in die spore gevolg van sy skoonpa en neefs, Jacobus Malan, wat by Italeni gesneuwel het, en Herculus Philippus Malan, wat saam met Piet Retief vermoor is.

Charles Davidson Bell se skildery van Jan van Riebeeck se aankoms in Tafelbaai wys die mans se kniebroeke met lang kouse
Bron: Wikipedia
Daniël en Margaretha het albei ernstig siek geword pas ná hulle die Grootrivier oorgesteek het. ’n Dreyer-gesin het hulle versorg en gehelp tot hulle weer gesond was. In 1940 het Daniël en Margaretha hulle op die plaas Malanskraal, suidwes van Heidelberg gevestig. Tien jaar later het hulle voortgetrek en op die plaas Brandbach, 5 861 morg groot, noordoos van Cullinan gaan woon. In 1859 koop hy die buurplaas, Papkuilfontein van 4 211 morg. Hy is op 82-jarige ouderdom op Brandbach oorlede en het ’n boedel van £3 738 nagelaat.

Rosa Hope se ‘Die Voortrekkers’ wys dat die man, links, nie kouse by sy vellies dra nie
Foto: mutualart.com
André skryf dat Daniël se oudste dogter, Margaretha Maria van Jaarsveld, sy trou-kouse en nekdoek geërf het. Een van haar nasate, ’n mnr Verrijne, het dié kouse, nekdoek, Margaretha se dooprok en ’n paar van haar rokke en onderrokke geërf en het dit aan die museum geskenk. Daniël se naghemp van Hollandse linne het glo ook behoue gebly en is deur ’n ander nasaat bewaar.
Daniël se swart kouse het ’n fyn motief, min of meer oor die enkel, gehad en is van ’n fyn sygaring gemaak. Hoe op aarde het dit gebeur dat dié paar troukouse die Groot Trek oorleef het? André skryf dat kouse peperduur en skaars was en dat dit soos goud opgepas is. Die trekkers het deur wilde, woeste terrein beweeg en het nie kouse saam met hulle veldskoene gedra nie.

Dié kous, uitgestal in die Britse Museum in Londen, kom uit die derde of vierde eeu en is met uitgrawings van 1913-14 in die Egiptiese stad, Antinooupolis gevind
Foto: Britse Museum
|

’n Paar kouse iewers uit die jaar 250 tot 420 vC in die Victoria en Albert-museum
Foto: Wikipedia
.
|
Veldskoene, velskoene of vellies is glo die eerste keer in die 17de eeu deur die eerste Hollandse setlaars, afkomstig van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie, gemaak. Dié skoene, wat van plantaardig-gelooide leer gemaak is, was liggewig en buitengewoon taai en kon die moeilike toestande van die Groot Trek noord weerstaan.
Niemand sou daardie dae met hulle kosbare kouse deur klitsgras en doringveld loop nie. Kouse is saam met ander kisklere in die wakis gepak en is net met spesiale geleenthede aangetrek. André skryf dat Piet Retief meer as een paar kouse gehad het. Louis Tregardt het op 13 April 1838 in sy dagboek geskryf dat hy kouse aangetrek het vir sy besoek aan die Portugese goewerneur van Delagoabaai.

’n Paar katoenkouse uit die 12e eeu, gevind in Egipte. Die kousbreier het by die toon begin en opwaarts na die been gewerk. Die hak is laaste gemaak en aangewerk, sodat dit maklik vervang kon word
Foto: Wikipedia
André se navorsing wys ook dat eerwaarde Erasmus Smit in voorbereiding vir die Groot Trek drie pare kouse – twee wit en een swart – gekoop het. Hy het dit op 23 Januarie 1838 vir agt riksdaalders by ’n smous genaamd Lombaard van Swellendam gekoop.
Volgens die Erfenisstigting was gare en naalde kosbaar in die woeste binneland. Ou kledingstukke is losgetorring as die gare opgeraak het, en as ’n naald se punt afgebreek het, is hy weer op ’n klip skerp geslyp. Volgens oorvertelling het vroue met ’n naald gewerk tot net die ogie oor was.

Die wolkoussteweltjie uit die eerste eeu wat met opgrawings by Vindolanda in Northumbrië gevind is
Foto: kddandco.com
Geen wonder dat kouse, of sokkies, soos dit ook genoem word, sorgvuldig weggebêre is nie. Die woord ‘sokkie’ is ’n anglisisme, van die Engelse woord ‘sock’, wat op sy beurt kom van die ou Engelse woord ‘socc’, wat ’n ‘ligte pantoffel’ beteken. Dié woord kom van die Latynse ‘soccus’, ’n term wat na ’n ligte, lae-hak skoen, gedra deur Roomse komiese akteurs, verwys. ‘Soccus’ is weer afgelei van die antieke Grieke woord ‘sykchos’.

Edward Lloyd was die “laaste kousbreier” van die beroemde Walliese kouse, genaamd Bala
Foto: kddandco.com
Daar is lewendige debatte oor watter antieke beskawing die eerste kouse gemaak het. Volgens die Griekse digter, Hesiod, is ’n soort kous, bekend as ’n ‘piloi’, in die agtste eeu vC in Griekeland gemaak. Dié kouse is met sandale gedra en is van geknoopte dierehare gemaak.
’n Oranjerige paar kouse met gesplete tone, ontwerp om saam met sandale te dra, is by Oxyrhynchus aan die Nylrivier in Egipte opgegrawe en kom iewers uit die jaar 250 tot 420 vC. Met die eerste oogopslag lyk dit of die kouse gebrei is. ’n Tegniek, genaamd ‘nålebinding’, is gebruik waar ’n garingdraad in ’n lus rondom ’n enkele naald met ’n groot oog gedraai is. Dit was die voorloper tot hedendaagse brei en hekel.

William Lee het die eerste breiraam vir kouse ontwerp
Foto: inluxesocks.com
Romeinse invallers in Brittanje het gevind dat die noordelike klimaat ysige voete tot gevolg gehad het en sommiges het die antieke Britte se voetbedekkings begin gebruik. Op een van die tablet-geskrifte uit die eerste eeu wat by Vindolanda in Northumbrië gevind is, kan die instruksie om meer kouse te stuur, gelees word. ’n Kindgrootte paar wolkoussteweltjies is hier opgegrawe.

Europese kouse uit die mid-1500’s toe William Lee met sy breiraam Frankryk toe is
Foto: rinse.com
Die vervaardiging van kouse het geweldig baie tyd geneem en kouse is daarom net deur ryk mense gedra. Die armes het lappe om hulle voete gebind. Teen die jaar 1 000 het kouse ’n simbool van rykdom onder die adelstand geword.
Soos modes deur die eeue verander het, het kouse verander – hoe korter die broek, hoe langer en meer uitspattig die kouse. Dink maar net aan al die skilderye waar Jan van Riebeeck ’n kniebroek en kouse dra.

’n Kousbreier van Annibale Caracci’s ‘Li Arti De Bologna’ (1646)
Foto: Victoria en Albert-museum
Die uitvinding van die breimasjien in 1589 het beteken dat kouse ses keer vinniger gebrei kon word. ’n Engelsman, genaamd William Lee (1513 – 1614) van Nottingham, het ’n breiraam vir die brei van kouse ontwerp. Koningin Elizabeth I van Engeland het geweier om hom toe te laat om dit te patenteer. Sy wou gehad het dat hy sy breiraam vir die gebruik van sy moes aanpas omdat sy nie wou hê dat handbreiers van wolkouse se voortbestaan in gedrang moes kom nie.

Modebewuste mans het kouse van sy gedra wat met kousbande onder die knie vasgemaak is
Foto: theshoeman647325124.wordpress.com
William het nie vir dié plan geval nie en het na Frankryk geëmigreer, waar Frankryk se koning, Henri IV, die nodige finansiële ondersteuning gebied het sodat William ’n kousfabriek kon begin.
In 1758 het Jedediah Strutt ’n ribmasjien by die breiraam gevoeg, maar eers in 1828 is die eerste stoomraam ontwerp waarop kouse in ’n plat stuk met ’n naat aan die agterkant, gebrei is. |