Twee gru moorde is op Dinsdag
24 November by die bekende
kliphuis-losieshuis neffens die
plakkerskamp naby Willow Quarries
in Zwavelpoort gepleeg.
Die lyke van die 65-jarige opsigter,
Martin ‘Tienie’ Jacobs en sy tuinier
is Woensdagoggend met draad om
die nek, en voete en arms vasgebind,
gevind.
Op 2 Desember is drie skote in ’n
aanval op Henk Bloem in sy huis op
die plot aan die ander kant van die
plakkerskamp geskiet, terwyl hy in
sy bed gelê het. Henk is wonderbaarlik
net in die arm gewond. Die
aanvallers het ’n TV en hoëtroustel
gevat.
 Kliphuis-opsigter Martin Jacobs
se vrou, Hester, word getroos ná sy
moord
Foto: Pretoria News
Soos ’n hond
“Dit is lelik. Dit is verskriklik lelik,”
het William Thomas Wiggill gesê
nadat hy sy broer, Martin, se lyk by
die kliphuis gesien het. “Ek kan nie
glo dat hulle ’n ou man soos ’n hond
moet vasmaak nie.”
Kliphuis-loseerders het die Woensdagoggend
ná die moord op die
lyke afgekom by die motorafdak
langs Martin se geliefde voëlhok.
Martin se hande en voete was vasgebind
en sy nek is met ’n stuk
draad aan ’n sleepwa vasgebind. Hy
het nog sy horlosie aangehad en sy
skoene het ’n entjie van sy lyk af
gestaan.
Die tuinier se lyk, waarvan die hande
en voete ook met draad vasgebind
is, was langs hom en is met bokse
en kussings toegepak. Volgens een
teorie lyk dit asof beide mans elders
op die plot verwurg is voor hulle na
die afdak geneem is.
’n Ander teorie is dat Martin sy
tuinier se lyk gevind het en dat hy
daarná eers aangeval is. Volgens
Martin se stiefdogter, Elna van den
Heever, was haar stiefpa en die
tuinier baie na aan mekaar en het,
vandat hulle twee jaar gelede saam
begin werk het, mooi na mekaar
gekyk.
Die lyke is gevind nadat Martin se
vrou Hester, wat onlangs ’n operasie
vir ’n pasaangeër gehad het en
by haar kinders in Cullinan aangesterk
het, begin bekommerd raak
het omdat sy haar man nie telefonies
in die hande kon kry nie.
Mense wat op die plot, waar Martin
opsigter was, loseer, kon hom
sedert Dinsdagmiddag ongeveer
4.30 nm nie in die hande kry nie. Sy
motor het ook van Dinsdagmiddag
af buite die erf gestaan en is nooit
ingetrek nie.
Vrae
Volgens ’n bron is die moorde
raaiselagtig en is dinge beslis nie
hoe dit skyn te wees nie. Daar is
meer vrae as antwoorde, siende dat
daar geen tekens van struweling
was nie en dat nie een slagoffer
ander beserings of merke op hul
liggame het nie.
Volgens die familie was Martin maer
en tingerig en sou nie kon terugbaklei
as hy oorval is nie. Hy kon net sy
een arm ten volle gebruik.
Hester het gesê dat die moorde nie
vir haar sin maak nie. Die familie
voel dat hy nie só vermoor sou
word as iemand nie iets teen hom
gehad het nie. Tog was hy ’n persoon
wat enige iemand in nood sou
help.
Volgens ’n polisiewoordvoerder is
daar geld, selfone en ander waardevolle
artikels gesteel en word ’n
saak van moord en roof ondersoek.
Martin en Hester het in 2002 vanaf
Oos-London hierheen getrek om
nader aan hulle kinders te wees. |