In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.
Wat het die eerste mense op aarde geëet en hoe het hulle dit voorberei? Diegene wat gedink het daar is nie resepte vir dié soort veldkos nie, sal verstom wees om te hoor dat ’n funksie eens in Pretoria gehou is met ’n vier-gang maaltyd gebaseer op dr Renata Coetzee se dekadelange navorsing.
Dié funksie is ná Renata se dood gehou met die herbekendstelling van haar laaste boek, ‘A Feast From Nature – Food Culture of the First Humans on Planet Earth’ (2015). In dié boek het sy die voedsel-kultuur en lewenstyle van die vroegste mense ondersoek en dit met dié van die Khoi-Khoin in verband gebring.
‘Koekemakranka – Khoi-Khoin-Kultuurgoed en Kom-Kuier-Kos’
Bron: bobshop.co.za
Spyskaart
Die ongewone spyskaart by dié funksie het begin met marog-puree, spekboom-jel, pelargonium, suurlemoenskuim, gepiekelde papkuil-lote, saamgepersde aalwyn-botsels en inheemse eetbare blomme.
Dit is deur ’n duinspinasiesop met diepvetgebraaide vlakvarkbiltong gevolg. Daarna was dit tilapia bedien met see-vinkel, oesterblaarpuree, houtsuring en bokkom-krummels.
Die hoofgereg was gesmoorde springbok-skenkel saam met ’n dun skyfie krakerige ystervarkvel, gebotterde slaaibossie en waterblommetjies, amadumbe (’n kruidagtige wortelgewas), geroosterde uintjies, kriek-rys en ’n aftreksel (glace de viande).
Nagereg was ’n boegoe panna cotta bedien met gepreserveerde t’samma (amper soos ’n spanspek) en ’n appelliefie en rooibos-sousie. Daar was ook ’n krummel-varkoortert en akasiaheuning-lekkergoed.
‘Spys en Drank – Die oorsprong van die Afrikaanse eetkultuur’
Bron: bobshop.co.za
Boeke
Renata het oor vyf dekades pioniersnavorsing oor die verskillende voedselkulture in Suid-Afrika gedoen en het nege boeke geskryf. Een van haar heel eerste boeke, ‘Spys en Drank – Die oorsprong van die Afrikaanse eetkultuur’ (1977), gaan oor die multi-kulturele kos- en sosiale gebruike in die Wes-Kaap tussen 1652 en 1800.
‘Funa – Food from Africa’ (1982) het op tradisionele Afrika-koskulture gefokus. ‘Koekemakranka – Khoi-Khoin-Kultuurgoed en Kom-Kuier-Kos’ (2010) is op die Khoi-Khoin voedselkultuur gebaseer.
Renata Marié Coetzee is op 31 Januarie 1930 op Reitzburg in die Vrystaat gebore en was hoofmeisie by die Hoërskool Gimnasium op Potchefstroom. Sy het ’n B.Sc.-graad in dieetkunde en ’n onderwysdiploma by die Potchefstroomse Universiteit behaal, ’n M.Sc-graad in voeding by die Universiteit Stellenbosch, ’n diploma in massa-spyseniering by die Cornell Universiteit in Amerika en ’n diploma in volume kombuisontwerp by die Universiteit van Michigan, Amerika.
‘A Feast from Nature – Food Culture of the First Humans on Planet Earth’
Bron: mapmyway.co.za
Renata was onder andere direkteur vir voeding en etniese spyseniering by Anglo American goud- en uraanmyne, waar sy daagliks in beheer van die voorbereiding van meer as 250 000 maaltye was. Sy was ook senior dieetkundige by die Universiteit Stellenbosch, verantwoordelik vir 21 koshuise, ses banketsale en twee studentekafeterias se spyseniering.
Sy het programme oor tradisionele Suid-Afrikaanse disse vir die Smithsonian Instituut in Washington se African Studies Group en vir Suid-Afrikaanse ambassades in 10 lande aangebied.
Renata Coetzee
Foto: Willem Malherbe
Lektor
Renata was gaslektor aan die Universiteit van Wisconsin in Amerika en die plaaslike universiteite op Stellenbosch, Pretoria en Potchefstroom. Sy was met Johan Marais getroud en het op Stellenbosch gewoon.
In 2002 het sy die kanseliersmedalje van die Universiteit van Pretoria ontvang. In 2007 het die Noordwes-Universiteit ’n eredoktorsgraad aan haar toegeken. Sy kry ook eretoekennings vir uitnemendheid in spyseniering van L’Institut Culinaire en ’n Cordon Bleu-toekenning van Silwood Kitchens vir haar navorsing.
‘Koekemakranka’ is in 2010 as die wenner van die Suid-Afrikaanse deel van die internasionale Gourmand-wêreldkookboektoekennings in twee afdelings aangewys: die beste kulinêre geskiedenisboek en die beste kookboek.
In 2016 ontvang sy ’n besondere erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Renata is op 27 Junie 2018 in die ouderdom van 88 op Stellenbosch oorlede.
Visbobotie
Bron: Tradisionele kos
Visbobotie
Ons gebruik Renata se resep vir visbobotie uit haar boek, ‘Spys en drank’. Die resep lewer vier tot ses porsies.
Bestanddele: 25 ml botter of olie / 1 groot ui, gekap / 1 dik sny brood / 250 ml melk / 1 kg gevlokte, gaar stokvis / 12,5 ml appelkoskonfyt / 50 ml suurlemoensap / 75 g ontpitte rosyne / 10 droë appelkose / 30 ml kerriepoeier / 12 amandels in kwarte gesny / 5 ml sout / 2 ml peper / 6 suurlemoen- of lourierblare / 2 eiers
Metode: Voorverhit die oond tot 180 °C. Verhit die botter of olie in ’n pan en soteer die ui.
Week die brood in die helfte van die melk. Meng al die bestanddele behalwe die eiers, die res van die melk en die suurlemoenblare.
Skep in ’n oondskottel en druk die suurlemoenblare in. Klits die orige melk en eiers saam en giet oor die vis. Bak vir ongeveer 45 minute in die oond. Sit voor met rys, blatjang, gerasperde klapper en gekapte neute. |