PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 21 January 2010 10:58
Untitled Document

In die 1880’s het Lynnwoodweg as ‘Strubenpad’ bekend gestaan. En ja, die naam het alles te doen met die familie na wie Strubenstraat in die middestad, Strubenkop in Lynnwood en Strubendam in Lynnwood Glen vernoem is. Dit is die storie van die Struben-plaas, ‘The Willows’, ver buite destydse Pretoria, twee Vryheidsoorloë, ’n Britse fortifikasie en die ontdekking van goud.

’n Destydse plaasnaam in ons kontrei is vandag dwarsoor die wêreld bekend. Danksy die Strubens, word die naam ‘The Willows’ verbind met die eerste ontdekking van goud aan die Witwatersrand. Min mense weet egter dat die Strubenbroers hul tot delwery gewend het omdat hul boerderypogings in ons kontrei ’n mislukking was.

Pretorianers ken vandag steeds die name Strubenkop en Strubendam wat op die plaas ‘The Willows’ was. Oorblyfsels van die ou Britse fort op Strubenkop is steeds te sien aan die bo-punt van Old Fort-straat in Lynnwood. Die gebied is aan die Pretoriase Stadsraad, wat ’n beskermende heining rondom die historiese koppie opgerig het, geskenk.

Dit is van dié fort af wat die Britte opgemars het teen Kommandantgeneraal Botha se kommando wat by Swartkoppies, later die eiendom van Sammy Marks, teen die Pienaarsrivier gestasioneer was.

Strubendam Voëlpark, ’n 10,35 hektaar bewaringsgebied teen die Waterkloofspruit in Lynnwood Glen, was ook op dié plaas wat sedert 1862 in die Struben-familie se besit was.


Kaptein Struben
Foto: Emagameni

Kaptein
Die Strubens se verhaal begin toe die 44-jarige Hollander, Kaptein Johan Marinus Struben, in 1850 na Suid-Afrika emigreer het. Hy was ’n mariene-offisier in diens van die Nederlandse oorlogsvloot en het later kaptein in die handelsvloot geword.

Voor sy koms na Suid-Afrika het hy op 2 Mei 1838 met Frances Sarah Beattie, die dogter van Alexander Beattie, ’n Skotse skeepseienaar en neef van die digter Beattie, getrou. Johan se skoonpa het verskeie skepe besit waarmee hy handel gedryf het in die Wes-Indies en het belange in suikerplantasies gehad, maar het bykans alles verloor in die Napoleon-oorloë.

Johan het Britse burgerskap ontvang toe hy met Frances trou en hulle het in Engeland gewoon, waar die meeste van hul kinders gebore is. Na vele skeepvaarttogte deur die ooste, besluit Johan en Frances om Suid-Afrika toe te kom. Johan word in 1850 hoofmagistraat in Ladysmith, Noord-Natal.

Dié ambisieuse man het nie lank in Natal vertoef nie. In 1854 besluit hy om as kandidaat te staan vir die eerste presidentsverkiesing van die Oranje-Vrystaat. Hy val egter uit teen JP Hoffman.

Dieselfde jaar sterf Frances en Johan trek verder die binneland in. Hy hertrou in 1855 met Catharine Anderson, die dogter van die bekende transportryer, Robert Anderson, en saam onderneem hulle ’n kapkar-reis na Pretoria waar Johan die res van sy lewe deurbring.


Harry Struben

Pretoria
Vroeg in 1857 koop Johan erf 320 op die noord-westelike hoek van Kerkplein, aan die noordekant van die huidige poskantoor. Dit is nie duidelik of hy die huis op die erf gebou het en of daar reeds ’n huis op die erf was toe hy dit gekoop het nie. In 1859 koop hy ook die twee aangrensende erwe in Vermeulenstraat.

In die 1860’s beklee Johan poste soos Volksraadlid, Staatsekretaris en Weesheer in die Transvaalse regeringsdiens, maar bedryf ook ’n winkel tot 1866 op sy erf. In 1866 adverteer hy ’n huis op Kerkplein te huur; sinkdak met agt kamers, kombuis, winkel en kantoor. Daar was ’n muur rondom die erf en ’n tuin met vrugtebome. Die erf is later deur PJ Marais, alias Lang Piet Marais, ’n oom van die digter Eugene Marais, gekoop.

Johan het terselfdertyd die eerste skool in Pretoria in die buitekamer van JJP Prinsloo, Joggem Tweeduim, se huis begin. Joggem se huis was op die hoek van Boom-, Du Toitstraat en Soutpansbergweg.

Die skool is later oorgeplaas na die kommandant-generaalswoning van MW Pretorius, wat die ‘Oude Pastorie’ van ds Begemann en Bosman geword het op die terrein waar die Paleis van Justisie vandag staan. Johan is op 7 Junie 1869 in Pretoria oorlede, maar die van ‘Struben’ het aanhou naammaak.


Fred Struben

Seuns
Johan was die vader van Hendrik Wilhelm, bekend as Harry, en Frederick Pine Theophilus, bekend as Fred. Dit is dié twee broers wat beroemd geword het toe hulle die eerste goud aan die Witwatersrand ontdek het.

Volgens sekere bronne is Strubenstraat in Pretoria se middestad na die twee broers vernoem, maar volgens ou Pretoria navorser, Rosa Swanepoel, is dit meer waarskynlik dat hulle vader in die naam herdenk is.

Volgens die boek, ‘Ad Destinatum’, is Lynnwoodweg eers ‘Strubenpad’ genoem. Dit was die enigste roete vir perdekarre tussen die huidige Parkstraat kruising en die plaas Hartbeespoort, wat aan Johan Struben behoort het. Ander bronne sê egter dat ‘Strubenpad’ so genoem is omdat dit die roete na Harry se plaas, ‘The Willows’, oos van Pretoria was.

Vandag weet ons baie van dié plaas, hoofsaaklik uit die boek, ‘Recollections of adventures – Pioneering and development in South Africa: 1850-1911’, wat Harry geskryf het. Die boek is na Harry se dood deur sy dogter, Edith, geredigeer en is in Suid-Afrika en Engeland gepubliseer.


?Taken at the flood ? the story of Harry Struben?

‘The Willows’
Harry het in 1860 ’n vervoeronderneming tussen Pretoria en Natal begin. Met die profyt van dié onderneming, het hy ‘The Willows’, geleë langs ’n buurplaas genaamd ‘Hazeldean’, in 1862 gekoop. Sy broer Fred het ook in Pretoria gewoon en het as Harry se assistent gewerk. In sy boek skryf Harry dat dit aanvanklik maar moeilik gegaan het met die boerdery en dat daar sonde met die bure was.

Blykbaar was sy buurman, Matthias de Beer, woedend toe Harry ’n muur reg rondom sy plaas begin bou het. Dié mure is later vervang met heinings en Harry het gespog dat hy in sy lewe ’n totaal van 200 km se grensdrade en kampdrade opgerig het.

In 1866 het Harry besluit om met volstruise te begin boer. ’n Man genaamd Izaak Holtshuizen het vir hom ses-maande-oue kuikens gevang en hy het 44 kuikens teen 220 pond gekoop. Harry skryf dat dit die eerste wilde volstruisboerdery in die land was en dat niemand iets geweet het oor die voer, grootmaak of pluk van volstruise nie. Dié gebrek aan kennis het tot ’n mislukte boerdery gely. Die feit dat Harry se bure aanhoudend sy volstruise geskiet het, het ook bygedra.

Harry skryf dat dié wilde volstruise reusagtig groot geword het, blykbaar baie groter as die wat teen 1911 in die Kaap geteel is, en dat hulle baie aggressief was.


Die eerste stampmeul wat deur die Struben-broers gebruik is in hul soektog na goud

Aggressief
Harry is intussen, in 1868, met Mary Cole, dogter van die Reverend William G Cole van ‘Trinity College’ in Dublin, getroud. Een dag het ’n reuse volstruishaan vir Mary en haar sister gestorm en sou hulle doodgemaak het, as Harry nie by sy kantoorvenster uitgekyk het nie.

Hy het geen tyd gehad om na ’n wapen te soek nie en het sy baadjie in die hardloop uitgetrek en oor die haan se kop gegooi, die twee vrouens deur die hek gestoot en het net genoeg tyd gehad om self oor die hek te spring, toe die haan op hom was en so hard teen die heiningpaal geskop het, dat sy toonnael vasgesit het. Harry moes dié haan, wat voorheen van sy osse beseer het en sy werkers rondgejaag het, skiet.

Daarna het beesboerdery na ’n veiliger opsie gelyk, veral rondom klein kinders. Ses van Harry en Mary se sewe kinders is op ‘The Willows’ gebore.

Harry het sy beeste in die winter na die soutpan noord van Pretoria, 35 myl van ‘The Willows’, gestuur.

Dit was regeringsgrond en boeregesinne het ver getrek om daar te gaan soutkristalle optel om vleis mee te preserveer en botter mee te maak. Die soutpan was aan die bodem van ’n krater, ongeveer 700 voet af, en is bedek met ’n baie dik laag sout.

Harry skryf dat veldbrande een van sy grootste probleme was met die beesboerdery op ‘The Willows’. Blykbaar het sy bure, veral ’n ene Wolmarans, gereeld hul wintersgras aan die brand gesteek en dan het die brande oor die grense na ‘The Willows’ beweeg.

Jan Hennings en Rasmus Erasmus (van die Spookhuis-familie) het vir Harry gesê dat die enigste manier om die brandery te laat ophou, was om ou Wolmarans te gaan uitbrand. Blykbaar wou Harry dit nie doen nie.

Bloekom
Op 4 Augustus 1869 het Harry Bloekomboomsade gesaai wat teen 1911 reeds in reuse plantasies ontaard het. Op 2 Augustus het hy die waenhuis self gebou. Hy skryf dat dit sy eerste en laaste poging was om iets te bou.

Tog moes die mense daardie dae bykans alles self kon doen. Harry skryf dat jy die een dag besig was met ’n regeringskommissie, die volgende dag bome geplant het, die dag daarna in die Volksraad gesit het en daarna beeste gaan inspuit het, minerale gesoek het, ’n huis geverf het en skoene gemaak het.

In 1870 het Harry besluit om met skape te begin boer. Hy en sy vrou Mary en sy broer Fred is Aliwal- Noord toe met ’n wavrag vol ivoor wat hulle wou ruil vir skape. Dit is toe dat hy en Fred hoor van die ontdekking van diamante. Hulle het terug gehaas na ‘The Willows’, die skape dadelik verkoop en die waens gepak met voorraad op pad na die diamantvelde toe.

Toe hul seun Arthur, Mary en Fred gelyk siek word op die diamantvelde, is die gesin terug na ‘The Willows’ en het Harry sy belange in die diamantvelde verkoop. Harry het die land vol gereis in die daaropvolgende jare, maar het altyd terug gekeer na ‘The Willows’.

Hy was egter nie voorbereid vir die verwoesting van die Eerste Vryheidsoorlog nie. Blykbaar is hy en Mary op ’n manier van hul kinders geskei met die eerste beleg van Pretoria en het hul die uitgehongerde kinders in ’n kamp gekry waar hulle bykans geen kos gekry het nie, terwyl ‘gunsteling individue’ vet gevoer is met Harry se eie beeste en vars groente.


Nog ?n boek wat oor die Struben-broers geskryf is

Verwoes
‘The Willows’ is verwoes; Harry se papiere is vernietig, hul meubels, vee, implemente, masjienerie en produkte is geannekseer. Mary het so bitter gevoel daaroor dat sy besluit het om Natal toe te trek. Harry koop toe ’n wa en span osse van Rider Haggard en stuur sy gesin Natal toe saam met twee betroubare plaaswerkers.

Harry moes in Pretoria agterbly om sy verliese te probeer uitsorteer. Hy sê dat die Britte sy vee en plaasprodukte geannekseer het en dat die Boere ’n deel van sy plaas weggeneem het en as hoofkantoor van hul kommando’s gebruik het. Blykbaar het die Boere bedags in die opstal gebly en snags in die koppie, wat later bekend sou staan as Strubenkop, gaan slaap.

Daar was niks in die huis oor nie, behalwe die olieverfportrette van Harry se ouers en grootouers. Later het hy uitgevind dat dit danksy die invloed van Karl Erasmus was, wat getroud was met die dogter van Harry se goeie vriend, Joachim Prinsloo, die landdros van Pretoria. Die Britse regering het aangebied om Harry te vergoed vir dit wat hulle van sy plaas weggeneem het, maar die prys was so laag, dat Harry geweier het om die kompensasie te aanvaar.

Dit was ook die laaste wat Harry enigiets met boerdery te doene wou hê, veral nadat hael sy hele oes verwoes het. Intussen het Fred in 1892 in Barberton goud gesoek, nie gekry nie en is terug na ‘The Willows’. Die twee broers sou binnekort platsak wees en het besluit om na New Zealand te emigreer.

Klippe
Net voor hul dit kon doen het Louw Geldenhuys, wat saam met Fred in Barberton was, daar aangekom om Fred se opinie te vra oor ’n paar klippe wat hy op sy plaas, Wilgespruit, gekry het. Fred was seker dat dié klippe goud kon bevat en hy het Harry oortuig om die buurplaas, Sterkfontein, met sy laaste geld te koop. Op die tweede dag het Fred daar tekens van goud gevind. Die meeste goud was egter op Wilgespruit, waarvan Harry later die oostelike deel gekoop het en waar die broers in 1884 die ‘Confidence Reef’ myn begin het.

Dié rif is op ’n koppie in die middel van dit wat vandag die dorp Roodepoort is. Die goud is ’n jaar later alles uitgemyn, omtrent teen dieselfde tyd wat die hoof goudaar in Johannesburg ontdek is. Nie te min het Harry die eerste president van die Kamer van Mynwese geword.

Harry en sy gesin het van 1890 in die Kaap gebly. In daardie jaar het hy ’n huis, genaamd Strubenholme, in Rondebosch gebou. Die Universiteit van Kaapstad se musiekbiblioteek is van 1943 tot die 1970’s in dié woning gehuisves.

Harry het ’n gereelde bydraer tot die ‘Cape Time’s geword, onder die naam ‘Candidus Africanus’. Hy is op 18 Oktober 1915, in die ouderdom van 75 in sy huis oorlede.


Die ligging van Strubenkop

Strubenkop
Ná Harry se vertrek, het die koppie agter sy opstal op ‘The Willows’ steeds ’n rol in die Tweede Vryheidsoorlog gespeel. Pretoria is op 5 Junie 1900 deur Britse magte beset. Die Boeremagte het Fort Schanskop naby Fonteindedal, Fort Wonderboompoort naby die Apiesrivier, Fort Klapperkop en Fort Daspoortrand opgerig.

Die Britse fortifikasies was Cable Hill Redoubt, Johnston Redoubt, Vesting Redoubt, Magazine Redoubt, Quagga Redoubt, Eastern Redoubt en ’n verskeidenheid blokhuise waarvan die kraalvormige mure nog oral in die Pretoriaomgewing sigbaar is.

Die Eastern Redoubt, ook bekend as Oostfort, is op Strubenkop opgerig om die oostelike toegang tot Pretoria te bewaak en was die grootste fortifikasie wat deur die Britte in Pretoria gebou is. Dit is van klip gebou en het ’n sinkdak gehad.

Gedeeltes van die mure was ook van sink, met skietgate daarin en daar was minstens twee skiettorings. Die fortifikasie was in 1963 nog in ’n redelik goeie toestand, maar is vandag tot so ’n mate vernietig dat daar slegs ’n enkele klipmuurtjie staan.

 

 

 

© 2019 Die/The Bronberger