Plotpraatjies word al 22 jaar lank oorvertel Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 20 September 2024 08:00
Untitled Document

Oor die dekades het Gerhard Kleijn se pittige sêgoed in ‘Ou Poon se plotpraatjies’ mense laat skater. Ons haal ’n paar skatergoed uit die Bronnie se vroeëre jare aan:

Julie 2003 – oor suinigheid: “Die suinigheid van Trens van Rensburg, só sê hulle, was ’n ding in die bloed. Sy oupa, ou Vrek van Rensburg, en sy pa, Klein Vrek van Rensburg, kon net so vernuftig op hulle pennies sit.”

Maart 2004 – oor trou: “Toe sy kleinseun hom laas week vra: ‘Oupa wat se ding is ’n oujongkêrel?’ toe kon hy met gesag antwoord: Ou seun, ’n oujongkêrel is ’n ou wat diep en ordentlik oor ’n ding nadink voor hy dit doen. En dit dan nie doen nie.”

Desember 2006 – oor modes: “Dit was in die dae toe ’n man eerder sonder ’n broek as sonder ’n hoed op straat gevang sou word.”

April 2008 – oor die woordjie ‘gat’: “Sou die ding jeuk beteken dit ook nie dat dit gekrap wil word nie, maar wel dat die eienaar daarvan s’n brand om iets onbesonne aan te vang wat hom waarskynlik syne gaan laat sien. En dit kan veroorsaak dat ’n leedvermaker syne aflag. ’n Volksvreemde sou waarskynlik hiervan nie kop of . . . wel, hy sou nie verstaan nie. Om een skoon te maak, het byvoorbeeld niks te doen met goeie badkamermaniere nie, maar dui eerder op ’n baie haastige vertrek. Probeer ’n bietjie om die skoonmaak-een te vertaal en jy gaan joune straks afsukkel.”

September 2010 – oor rugbyreëls: “Ek praat van die versie wat die skeidsregter deesdae opsê voor daar geskrum word. My dilemma is; hoe sê ’n mens ‘krouts, tats, enghyts’ in regte Afrikaanse rakbietaal? Ek het alles binne my vermoë gedoen, selfs woordeboeke geraadpleeg en verafrikaansing probeer, maar dit bly half snaaks, half verkeerd en heeltemal skeef klink. Luister ’n bietjie: “Buk! Vat aan! Verposing! Verloof!” Ek sien terloops die dikstertmêrrie praat ook van ‘engageer’.”

Toe die Bronnie een jaar oud geword het, het ou Poon bespiegel oor wat van die name in die omgewing gaan word as Pretoria se naam na Tshwane verander. Hy het gewonder of plekke soos Tygervallei na Tiger Woods, Welbekend na Stroesnjanie, Onbekend na Aikôna Whêna en Donkerhoek na Comrades Corner toe sal verander. Hy wou toe nie oor Woodhill se voor-die-hand-liggende nuwe naam bespiegel nie.

En van name gepraat: Met die tweede verjaarsdaguitgawe vertel ou Poon van die jong verslaggewer wat dit uiters moeilik gevind het om name te onthou. So het sy toe op ’n dag ’n volledige onderhoud met ’n “belangrike” man gevoer voor sy besef het dat sy die man se naam vergeet het. Om hom toe blatant te vra wat sy naam is, sou ’n erge verleentheid vir haar en belediging vir hom beteken het. Sy onthou dat die belangrike ou se van ’n ‘a’ of ’n ‘o’ in het en dog sy sal die verleentheid omseil toe sy vra: Spel ’n mens u van met ’n ‘a’ of met ’n ‘o’? “Kok,” antwoord die ou. “Met ’n ‘o’ asseblief.

En so het die jare tussen die stof en die veldbrande en ongerief en ongerymdhede en ander kokspulle aangeloop en ou Poon het geduldig op sy pos gebly om die een en die ander met julle te deel tot sy afsterwe op 14 April 2023.

 

© 2025 Die/The Bronberger