Ons kyk met ’n tikkie nostalgie terug na 22 mense wie se stories ons oor 22 jaar vertel het. Die fokus is op dié wat nie meer met ons is nie en ons onthou ’n tyd wat vir altyd verby is.
Ons sou graag deur vermelding hier hulde wou bring aan elke liewe een wat in ons 22 bestaansjare diep spore getrap het, maar weens beperkte ruimte is dit ongelukkig onmoontlik.
Leeftyd se liefde

Carel Burger
In November 2002 berig ons dat Carel Burger 10 jaar oud was toe hy vir die eerste keer aalwyne begin versamel en kweek het. Ons het na die aalwyne, vetplante, euphorbias en bome in sy natuurtuin teen die hang van die Bronberg gaan kyk, waar hy toe reeds 32 jaar gewoon het. Carel is op 4 Mei 2006 in die ouderdom van 83 jaar oorlede.
Bekende koerantman

Hans Strydom
In Junie 2003 vertel ons dat die bekende koerantman en skrywer, Hans Strydom, in Zwavelpoort afgetree het en sy kontrei-kuns uitstal. Hans was die skrywer van ‘The Super Afrikaners’, ‘Afrikaner Cameos’ wat as ‘Volkstaat Blues’ deur Des en Dawn Lindberg opgevoer is, en ‘For Volk & Führer’, wat as ‘The Fourth Reich’ verfilm is. Hy is in Maart 2004 oorlede.
Mariëtte se gawe

Mariëtte Basson en Tossie Lochner
In Maart 2004 het ons ’n middag saam met Tossie Lochner, die beminde Afrikaanse radiostem uit Italië, deurgebring toe sy by haar vriendin, Mariëtte Basson, op Mooiplaats gaan kuier het.
Mariette was nou betrokke by gemeenskapsake en liefdadigheid. Sy was lank verantwoordelik vir die jaarlikse Gee-jou-gawe-Kersmark. Sy is op 26 Augustus 2012 oorlede.
Kaalvoet Jan

Kaalvoet Jan Vosloo
In Maart 2005 berig ons dat Kaalvoet Jan Vosloo van Zwavelpoort op 15 Februarie oorlede is. Hy was bekend vir sy intense liefde vir sy volk en taal en het in sy laaste lewensjare help werk aan die heruitgee van geskiedkundige Afrikaanse boeke, wat nie meer in druk was nie. Jan was ’n entomoloog, rekenaarprogrammeerder en bestuurder by Infoplan se opleidingsafdeling voor sy aftrede in 1989.
Eks-vegvlieënier

Sam McMurray
In Junie 2006 deel ons eks-vegvlieënier, Sam McMurray, se Tweede Wêreldoorlog-eskapades in Afrika se oerwoude en woestyne. Sy stories het gestrek van geheime sendings, gedwonge landings en die onheilspellende geluid van Afrika-tromme tot ’n oorlog-brief van ’n gesneuwelde kameraad wat 44 jaar laat afgelewer is. Sam is op 8 September 2008 oorlede.
Klein kalante

Piet van der Merwe
In Januarie 2007 berig ons dat Piet van der Merwe van Zwavelpoort op 12 Januarie oorlede is. Ons het Piet se storie in Desember 2002 vertel, toe hy al bykans 40 jaar lank besig was met die teling van Dexters. Hy het hom in 1962 op Zwavelpoort gevestig, min wetende dat die Mooikloof-landgoed in later jare reg oorkant sy kleinhoewe sou gestalte kry.
Anieta se radiostem

Anieta Armand
In Julie 2008 het die bekende radio-omroeper, Anieta Armand van Mooiplaats, vir ons vertel hoe sy in die grensoorlog in Angola met beweegbare senders rondgejaag het, van dreigende aanvalle op Radio Pretoria, hoe sy ’n kode 14 lisensie gekry het en busse vol kinders veldskole toe gery het en daarna ’n toergids geword het. Anieta is op 24 September 2018 oorlede.
GPF voorsitter

Bob Round
In Augustus 2009 berig ons dat rowers Bob Round op 23 Julie op sy Shere-kleinhoewe doodgeskiet het. Ons het Bob in Augustus 2004 as Gemeenskappolisiëringsforum-voorsitter, aangehaal: “Ek weier om ’n slagoffer te wees, en ek doen my bes om seker te maak dat dit nie met my of my mense sal gebeur nie.” Dié woorde verduidelik dalk hoekom ’n 79-jarige man drie rowers eiehandig getakel het.
Hank onthou

Hank Schrader
In Desember 2010 het Hank Schrader vir ons die Barnards se ou opstal en familie-begraafplasie gaan wys. Hank was vir 30 jaar plaasbestuurder op dié Boschkop-plaas. Hy het in 1976 vir Theuns Bester begin werk. In 1993 het Sinovich Investments die plaas gekoop. ’n Amerikaner, Eugene Delaney Jackson, het die plaas in 1997 gekoop en het dit tot 2005 besit toe Waterlake Farm die plaas bekom het. Hank is op 31 Julie 2014 oorlede.
Hulp vir Hans

Hans Lombard en sy vrou Alida
In Oktober 2011 vertel ons dat Bronnie-lesers hulle harte oopgemaak het om Hans Lombard, kok en restaurantbestuurder by Bronberg Lodge, te help. Sy been moes afgesit word ná gangreen weens suikersiekte ingetree het. Mense het geld ingesamel en ’n rolstoel, loopraam en kontant is aan Hans oorhandig. Hy is op 1 Desember 2014 in die ouderdom van 58 jaar ná ’n operasie oorlede.
Faan se nalatenskap

Faan Smuts
In April 2012 berig ons dat die Faan Smuts-kapel by Bronberg Wynlandgoed deur Faan se weduwee Issie ingehuldig is. Faan is op 26 Augustus 2011 oorlede. Hy het vir Rhodesië rugby gespeel en het jarelange vriendskappe met mede-rugbyspelers gevorm. Faan was ’n mede-eienaar van Rhodesia Motors in Pretoria, het ’n vliegtuig aangeskaf waarmee hy en sy vriende die land vol gevlieg het om te gaan rugby kyk, was in die boubedryf en die restaurantwêreld.
Mooiplaats se Mervyn

Mervyn Woodrow
In Desember 2013 deel ons lesers mee dat Mooiplaatser, Mervyn Woodrow, se nuwe roman, ‘Behind the mountain’, bekendgestel is. ’n Film is van sy eerste roman, ‘A capital affair’, gemaak. As kunstenaar, outeur, dosent en eertydse Arabierperd-teler het Mervyn vir 40 jaar op sy kleinhoewe gewoon waar hy selfs ’n 1 600 meter resiesbaan vir Arabierperde gehad het. Mervyn is op
24 Februarie 2017 in die ouderdom van 84 jaar oorlede.
Bronbergse beeldhouer

Phil Minnaar
In April 2014 vertel ons dat beeldhouer, Phil Minnaar, op 23 Maart oorlede is. Die Bronnie het in September 2003 by Phil op sy Olympus-kleinhoewe gaan kuier om te kyk na die replikas van sy bekende kunswerke: Van die Boeregeneraals by die Leër Hoofkwartier, die eerste ministers wat by die lughawens gestaan het en Skukuza-hek se reliëfbeelde tot die twee soldate voor 1 Militêre Hospitaal.
Willa van Onbekend

Willa Dreyer
In Maart 2015 deel ons die hartseer nuus dat Willa Dreyer op 8 Maart in die ouderdom van 96 jaar oorlede is. Ons het in Junie 2004 vir die eerste keer by tannie Willa gaan kuier. Sy was een van Hans en Hannie van Staden, wat die plaas Onbekend in 1924 gekoop het, se agt kinders en het in 1925 aan Laerskool Witpoort begin skoolgaan. Sy is in 1944 met Lucas Dreyer getroud en hulle seuns en dié se kinders en kleinkinders was ook by Witpoort op skool.
Thea se taak

Thea de Bruyn
In Junie 2016 berig ons dat Thea de Bruyn, destydse direkteur van Kungwini Welsynsorganisasie (KWO), op 22 Mei in die ouderdom van 60 jaar oorlede is. Sy het in 1986 as maatskaplike werker by die Paul Jungnickelhuis begin werk en het later direkteur geword. In 1996 het dié tehuis ’n onafhanklike welsynsorganisasie geword. Thea het KWO in 2002 gevorm, ’n oorkoepelende organisasie vir dienste aan die gemeenskap.
Duitse oorlogswesie

Werner Schellack
In Maart 2017 stel ons lesers in kennis dat Werner Schellack, kurator van Cullinan se McHardy-huismuseum, op 11 Maart oorlede is. Werner was twee en ’n half jaar oud toe hy op 8 September 1948 as een van die 83 Duitse oorlogswesies in Kaapstad-hawe aangeland het. Hy was ’n geskiedenis-dosent by Unisa en het ‘Vir ’n ‘blanke volk’: Die verhaal van die Duitse weeskinders van 1948’ onder die naam Werner van der Merwe geskryf.
Kaalvoetkinders se hoof

Michael Combrink
In Februarie 2018 berig ons dat Michael Combrink op 22 Januarie in die ouderdom van 57 jaar oorlede is. Hy was sedert 2009 die geliefde skoolhoof van Laerskool Witpoort, waar hy ’n groot impak gehad het. Sy droom was om in ’n landelike omgewing tussen boere te woon en vir hulle kinders skool te gee. Hy het opreg in die mense van die omgewing belang gestel en het hegte vriendskappe gesmee.
’n Hart vir diere

Dr Arnold Lademann
In Mei 2019 rapporteer ons dat Rayton se geliefde veearts, dr Arnold Gerhard Lademann, op
19 April in die ouderdom van 79 jaar oorlede is. ’n Huldeblyk van Gerda Berga het gelui: “As ek dink aan woorde om hom te beskryf, dink ek aan kundigheid, geen-nonsens-nie, by tye onkonvensioneel, oplossing-gedrewe, bekostigbare fooie, ’n eksentrieke veearts met ’n hart wat omgee vir diere.”
Legendariese kuiers

Nico Breytenbach
In Augustus 2020 vertel ons dat Nico Breytenbach van Boschkop oorlede is. Hy en sy vrou, Lynette, was vir dekades in die Bronberggebied doenig. Saam was hulle ’n gedugte span en het verskeie ondernemings bedryf, soos die legendariese Nikos Restaurant in die destydse Zwavelpoort-sentrum. Baie jare ná dié kuierplek toegemaak het, het mense met nostalgie vertel hoe hulle na die saamkuier en vriendelike gashere terug verlang.
Sandy se stasie

Kolonel Sandy Scheltens
In Augustus 2021 berig ons dat kolonel Sandy Scheltens, bevelvoerder van die Bronkhorstspruit-polisiestasie, op 23 Julie haar stryd teen Covid verloor het. Die 59-jarige Sandy was vir bykans 40 jaar in die polisiediens. Die Bronkhorstspruit-gemeenskap het op 28 Julie eer aan Sandy betoon deur ’n emosionele deur-ry gedenkdiens waar mense blomme buite die polisiestasie geplaas het.
Waardes uitgeleef

Etienne Koekemoer
In September 2022 deel ons lesers mee dat Etienne Koekemoer, NG Kerk Rayton se geliefde gemeentebestuurder sedert 2014, op 7 September in die ouderdom van 63 jaar oorlede is. Hy was in die Suid-Afrikaanse Polisiedienste tot sy aftrede as kolonel, adjunk-direkteur voorsiennings administrasie. Etienne word onthou as iemand wat elke dag sy waardes uitgeleef het in sy regverdigheid en omgee.
Bronnie se redakteur

Gerhard Kleijn
In Mei 2023 vertel ons dat Gerhard Kleijn, redakteur van Die Bronberger, op 14 April oorlede is. Huldeblyke het ingestroom oor dié eiesoortige man, wat so baie mense se lewens geraak het. Sy loopbaan as koerantman het verskeie publikasies ingesluit, ’n hele paar wat hy self begin het. Sy jare by ‘Oggendblad’ en die landboukoerant, ‘Die Kouter’, het vir hom uitgestaan. Gerhard het verskeie ander dinge aangepak – van skakelbeampte vir Mosgas op Mosselbaai tot ’n koerant in Namibië en die bou van ’n herberg in Mosambiek. |