Met die herdenking van die Bronnie se 22ste bestaansjaar kyk ons vlugtig terug na 22 stories oor die lief en leed van die karakters uit toeka se dae. Dié maandelikse rubriek het in September 2002 begin toe ons gevra het of iemand weet waar op Zwavelpoort ’n foto uit die Anglo-Boereoorlog geneem is.

Ons eerste toeka-foto in September 2002
Piet Colyn het laat weet dat die foto op die Bronberg naby die fontein op sy plot geneem is. Die fontein het in menseheugenis nog nooit opgedroog nie en sou die enigste lopende water wees wat die kommando’s op daardie bergroete kon kry.
Viljoen-susters erf

Isabella Susanah en Gert Petrus Bezuidenhout in 1919
In Oktober 2002 vertel ons dat Piet Colyn ’n afstammeling is van drie Viljoen-susters, agterkleindogters van Piet Retief, wat die plaas Zwavelpoort geërf het. Piet se grootouers was Isabella Susanah, een van die Viljoen-susters, en Gert Petrus Bezuidenhout.
In ‘Ons vat Zwavelpoortse vroue se spoor terug tot by Piet Retief’ in Februarie 2023 het ons in die Viljoen-susters se genealogiese voetspore teruggestap en op minder bekende feite oor hulle vroulike voorsate afgekom.
Langs die wapad

Die ‘Bosch Kop Governmentskool’ in 1916. Maria Fourie staan agter die onderwyser
In Januarie 2003 meld ons dat die Fouries in die 1800’s ’n regeringservituut gereël het om die Boschkop-grondpad te maak en uitspanplek te gee vir die mense wat met hulle waens daar verbygetrek het. Anna en Johannes Petrus Fourie het die opstal gebou wat in 2003 steeds ’n sigbare murasie was waar die Boschkop-grondpad in Lynnwoodweg-verlenging inkom.
Tannie Willa onthou

Hans en Hannie van Staden
In Junie 2004 het ons vir die eerste keer by tannie Willa Dreyer, wat toe 86 jaar oud was, gaan kuier. Haar ouers, Hans en Hannie van Staden, het die plaas Onbekend in 1924 gekoop. Willa het vertel dat haar pa Hans in 1886 ses jaar oud was en gesien het hoe die hoofgoudrif aan die Witwatersrand ontdek is op sy oupa, Gerhardus Cornelis Oosthuizen, se plaas Langlaagte.
Erfgrond-verhale

Maroela Erasmus
In April 2005 vertel ons dat Voortrekker Daniël Jacobus Erasmus met Cornelia Jacoba Susanna Kruger getroud was en dat hulle seun, Stephanus Erasmus, Mooikloof van sy pa geërf het. Sy broer, generaal Daniël Jacobus Elardus (Maroela) Erasmus, het Rietfontein, Grootfontein, Tierpoort, Bashewa en Welbekend geërf.
Spookhuis-stories

Carel Jacobus Erasmus
In Julie 2006 berig ons oor die spookstories en gruverhale wat oor die Erasmuskasteel, of te wel Spookhuis, vertel word. Jochemus Johannes Petrus Erasmus en sy vrou Johanna Jacoba het dié plek in 1903 gebou. Jochemus was die tweede seun van Carel Jacobus Erasmus, wat op die plaas Garstfontein, wat toe reeds in 13 dele onderverdeel is, geboer het.
Bekendste boemelaar

Ou Moes
In Augustus 2007 vertel ons die verhaal van Paul August Moes, Pretoria se bekendste boemelaar rondom die draai van die 19de eeu. Ou Moes se voorliefde vir drank en mooi meisies het hom op ’n jong ouderdom reeds die afdraande pad laat loop. Hy is in die Wes-Indiese eilande gebore as die erfgenaam van ’n sigaarfabriek, wat hy amper weggedrink het. Sy familie het hom na Pretoria gestuur.
Donkerhoek-herehuis

Donkie Wolmarans
In Junie 2008 deel ons lesers mee dat Donkerhoek se swierige herehuis uit die 1800’s deur ’n lid van Paul Kruger se volksraad, Jacobus Marthinus Andries (Donkie) Wolmarans, gebou is. Hy het sy deel van Donkerhoek op 15 Junie 1896 gekoop en Wolmarans Rust gedoop. In Julie 2022 berig ons dat Ian MacDougall aangekondig het dat die familie ná vyf geslagte uit die opstal moet trek. Net soos die res van die omliggende gebied is dié herehuis geplunder en stuk vir stuk weggedra.
Vergete prins

Prins Christian Victor
In Maart 2009 skryf ons dat koningin Victoria opdrag gegee het dat haar gunsteling kleinseun, prins Christian Victor, in ’n gewone soldategraf in Pretoria se Kerkstraat-begraafplaas begrawe moet word. Dié 33-jarige prins het malaria opgedoen en is op 29 November 1900 in die Yeomanry Hospitaal, wat in Tom Beckett se Arcadia-huis ingerig is, aan ingewandskoors dood nadat hy vir drie dae in ’n koma was. Vandag spook dit glo by sy graf.
The Willows se Strubens

Kaptein Johan Marinus Struben
In Januarie 2010 vertel ons die storie van die Hollandse kaptein, Johan Marinus Struben, en sy seuns Harry en Fred, wie se mislukte boerdery op die Struben-plaas, The Willows, tot die ontdekking van goud gelei het. Harry het The Willows, geleë langs die buurplaas Hazeldean, in 1862 gekoop en sy broer Fred het as sy assistent gewerk voor hy begin delf het.
Boschkop se Barnards

Magdalena Christina, ’n nooi Barnard, en Daniël Johannes Terblanche met hulle kinders en kleinkinders
In Maart 2011 berig ons dat ons gesigte by die name op die Waterlake Farm-grafstene kan sit. In Desember 2010 het ons geskryf dat dié grafstene ’n verhaal van die lief en leed van Boschkop se Barnards en hulle nasate vertel; van die seuns wat in die Tweede Vryheidsoorlog gesneuwel het; dié wat in die 1914 rebellie dood is; en van die Groot Griep wat die familie so genadeloos getref het.
Rudolph se leeu

Rudolph Coetsee
In Desember 2012 skryf ons dat selfs Eugène Marais oor Rudolph Gustavus Coetsee en sy leeu, Oubaas, geskryf het. Rudolph, ’n prokureur van Cullinan, moes op ’n jagtog ’n leeuwyfie, wat iemand aangeval het, doodskiet. Sy het welpies gehad en Rudolph het die mannetjie gevat, hom Oubaas gedoop, mak grootgemaak en ’n film, ‘Logogotu’, oor sy lewe gemaak.
‘Swart luiperd’

Fritz Duquesne
In Januarie 2013 deel ons die verhaal van Frederick (Fritz) Joubert Duquesne ’n Boeresoldaat, krygsgevangene, grootwildjagter, joernalis, oorlogskorrespondent, makelaar, saboteur en avonturier. ‘Swart Luiperd’ was die kode-naam van dié sjarmante spioen wat Lord Kitchener, die argitek van konsentrasiekampe en die verskroeide aarde-beleid, se dood veroorsaak het.
Kranige grootprater

Koos Jooste
In Maart 2014 word Bronnie-lesers voorgestel aan ’n eksentrieke man wat waarskynlik een van die kranigste grootpraters was wat die wêreld nog gesien het. Koos Jooste het vir dekades ná die Anglo-Boere-oorlog nog as sogenaamde Boere-kommandant in Europa ’n bestaan gemaak uit praatjies, self-gepubliseerde blaadjies en poskaarte met foto’s van homself in heldhaftige posisies.
Kinder-krygsgevangenes

Pieter Cronjé, nege jaar, en Tjaart van der Walt, 11 jaar, as krygsgevangenes op die Bermuda-eilande
In April 2015 berig ons dat penkoppe so jonk as agt jaar in die Anglo-Boereoorlog saam op kommando gegaan het, aan veldslae deelgeneem het en na krygsgevangene-kampe in Bermuda, Indië, Ceylon en Sint Helena gestuur is. Seuns was dienspligtig vanaf 16 jaar, maar die wat jonger was kon saamgaan as ’n pa, broer, oom of neef vir hulle verantwoordelikheid kon neem.
Jakkalsdans se mense

Daniël Cornelis Malan en Maria Johanna, ’n nooi Steenkamp
In Januarie 2016 praat ons oor Jakkalsdans se mense, afstammelinge van die Voortrekker Daniël Malan, wat hom in 1849 op die plaas Brandbach gevestig het. Piet van der Walt het vir ons vertel dat Brandbach, Jakkalsdans, Papkuilfontein en Rietfontein se mense soveel kere onder mekaar getrou het dat Piet se oupa se skoonpa ook sy swaer was en dat sy ouma se stiefma haar skoonsuster geword het.
Makgemaakte Ingelsman

William Skinner
In Augustus 2017 skryf ons dat Pretoria nog nie eers sy naam gehad nie toe ’n ‘makgemaakte Ingelsman’ deur die eerste president se pa na dié omgewing gebring is om vir hom ’n huis te bou. William Skinner was daarna bou-aannemer van die eerste kerk, skool, tronk en raadsaal asook landdros en raadslid van die eerste munisipaliteit. Hy het met Piet Retief se kleindogter, Debora Wilhelmina Landman, getrou.
Zwartkoppies se Markse

Die Marks-gesin: Girlie, Joe, Dolly, Sammy, Louis, Bertha en Phil. Ted is afwesig
In November 2018 vertel ons dat die Joodse sakeman, Sammy Marks, die gedeelte van die plaas Zwartkoppies noord van die Pienaarsrivier (773 hektaar groot) in Desember 1883 gekoop het. Sammy het tussen 1880 en 1920 ’n groot rol in mynwese, nywerheid- en landbou-ontwikkeling gespeel. Hy het die herehuis langs die Ou Bronkhorstspruitpad, Zwartkoppies Hall, wat vandag ’n nasionale monument is, laat bou.
Twee fonteine, twee broers

Gert Bronkhorst se dogter, Maria Jacoba Minnaar
In Junie 2019 praat ons oor Lucas Cornelis Bronkhorst (1795-1875) en sy broer, Johannes Gerhardus Stephanus (Gert) Bronkhorst (1798-1848). Hulle het saam met die Potgieter-trek in die gebied aangekom – ongeveer 15 jaar voor Pretoria gestig is. Gert het die plaas Elandspoort gevestig, waar hy ’n hartbeeshuisie gebou het. Lucas het ’n huis op De Groene Kloof, later Groenkloof, naby die twee fonteine wat ons as Fonteinedal ken, gebou.
Booysen-begraafplaas

Voortrekker-begraafplaas Booysen
In September 2020 vertel ons dat die Voortrekkers waarna Pretoria se voorstede Booysens en Hermanstad vernoem is, se ou begraafplasie in Van der Hoffweg ’n reuse munisipale rekening gekry het, gerig aan Booysen J en CHZ. Cornelius Hermanus Zacharias Booysen en veldkornet Jan Booysen het die plaas Krokodilskraal van hulle pa geërf. Hy was die Voortrekker, Jan Jonathan Booysen, wat in 1880 in dié begraafplasie begrawe is. Sy vrou, Christina Maria, ’n nooi Herman, is in 1895 daar begrawe.
Rietvlei se Erasmusse

Anna Susanna Opperman het met Michiel Christiaan Elardus Erasmus getrou
In November 2021 praat ons oor Daniël Elardus Erasmus, oftewel Daantjie Doornkloof, wat die plaas Doornkloof in 1841 opgemeet het. Sy drie seuns, Daniël Jacobus, Stephanus Petrus en Michiel Christiaan Elardus het die plaas geërf. Michiel en Stephanus het ook die helfte van Reitvlej geërf. Michiel het in 1869 met Anna Susanna Opperman getrou. Hulle oudste seun, Daniël Elardus, het met ‘Groot Tom’ Moodie, trekleier na die destydse Gazaland, se dogter, Johanna Maria, getrou.
Tragedie op melkplaas

Albert Lawrence Montague van der Byl
In Oktober 2022 skryf ons dat ’n tragedie hom op 18 September 1922 voor Kate Amy van der Byl afgespeel het. Sy moes sien hoe haar enigste oorlewende kind, die 29-jarige Albert Lawrence Montague van der Byl, se twee-sitplek Avro 450K dubbelvlerkvliegtuig in ’n fratsongeluk op hulle familieplaas, die Irene Melkplaas, val en hoe hy en sy makker, Edward Armstrong Stuart, sterf. Hulle het naby aan die plaashuis neergestort en is net daar begrawe.
Rietondale se verlede

Thomas James Pearce Jenkins in 1909
In Julie 2023 meld ons dat sinkhuisies, rietbos en ‘Perdehel’ in Rietondale se verlede lê. Dié voorstad is in die swaarkry jare ná die Anglo-Boere-oorlog op ’n plaas, wat aan ’n mnr Beyers behoort het, uitgelê. Hy het ’n deel aan ’n mnr Dale verkoop. Destydse minister Piet Grobler het sy deel as proefplaas aan die regering verkoop. Die res is onder meer aan Bourke Trust, Tom Jenkins en Ouma Isie Smuts se broer, landmeter Petrus Schabort (Tottie) Krige verkoop. |