|
’n Vreedsame protes op 3 Oktober voor die Cullinan-landdroshof vertel die verhaal van ’n gemeenskap wat in rou gedompel is ná ’n heldhaftige patrolliekoördineerder se dood. Mense van Cullinan en Rayton het byeengekom om ’n moordverdagte se borgtogaansoek teen te staan.
Die 50-jarige Johann ‘Vyf’ van der Linde, patrolliekoördineerder vir sektor vier van die Cullinan en Rayton gemeenskappolisiëringsforum (GPF), het op 3 September op ’n noodroep oor ’n huisbraak reageer toe hy deur die verdagte met ’n mes gesteek is. Hy is hospitaal toe geneem, waar hy 17 dae later gesterf het.
 Die vreedsame protes voor die Cullinan-landdroshof
Foto: JB Bekker
Stasiebevelvoerder van die Cullinan-polisiestasie, luitenant AC Gertzen, het die vinnige inhegtenisname van die verdagte deur die plaaslike GPF geprys. Die verdagte se borgtogaansoek is teengestaan en die volgende verhoor sal op 28 November wees.
 Die gedenkpatrollie in Coronationstraat, Cullinan
Die agting wat die gemeenskap vir Johann Vyf gehad het, is met ’n gedenkpatrollie op Vrydagaand 27 September duidelik gesien toe honderde mense van Cullinan en Rayton hulle laaste eer aan hom betoon het. Patrollievoertuie met groen ligte het deur dié twee dorpies gery terwyl bewoë inwoners met liggies langs die roete gestaan het.
 Mense met liggies langs die gedenkpatrollie se roete
Foto: skermgreep van video
Huldeblyke het ná Johann Vyf se dood ingestroom. Boodskappe lui dat hy ’n reus van ’n man was, in gees en vlees; iemand wat altyd bereid was om te help. Corné Strydom, mede-patrollielid, het gesê dat Johann Vyf se passie altyd sy gemeenskap was – om te kyk dat die gemeenskap saamwerk en mekaar ondersteun.
 Die gedenkpatrollie beweeg op in Oaklaan, Cullinan
Foto: Lize-Mari Pistorius
Cullinan GPF voorsitter, Karen Yssel, het gesê: “Johann was altyd ’n steunpilaar vir die gemeenskap en het homself toegewy daaraan om gemeenskapslede in noodgevalle te help.”
Johann Vyf het nie net ’n misdaadbekampingsrol gespeel nie. Hy het mense in hulle uur van nood bygestaan wanneer geliefdes oorlede is as deel van sy take by ’n begrafnisondernemer op Rayton.
 Johann ‘Vyf’ van der Linde
Foto: Verskaf
In ’n besprekingsgroep, wat gestig is ná Johann Vyf in die hospitaal opgeneem is, skryf Jaqueline van de Venter: “Daar is niemand wat Johann se skoene sal kan volstaan nie. Johann was nie net ’n GPF-lid nie. Hy was die een wat altyd “on top of it” was. Met my seuntjie se dood het hy reeds geweet wie ons baba was en hy het alles namens ons by die hospitaal gedoen.”
“Rayton en Cullinan het ’n wonderlike man van staal met ’n hart van goud verloor. Mag God julle dra in die moeilike tyd. Sy familie moet weet hulle is nie alleen nie. Hulle het ’n hele gemeenskap wat agter hulle staan,” het Jaqueline geskryf.
 Patrollielede waai vir diegene wat met liggies langs die pad staan
Toe Gerhard Kleijn, redakteur van Die Bronberger, verlede jaar tuis oorlede is, het Johann Vyf uitgekom om sy vrou, Angie, by te staan. Hy het haar ure tyd gegee om van Gerhard afskeid te neem voor die lykswa vertrek het. Dit is iets wat haar in die maande daarna baie gehelp het om die trauma te verwerk, het Angie gesê.
 ’n Deel van die gedenkpatrollie
Foto: skermgreep van video
In sy rol by die begrafnisonderneming het Johann by begrafnisse elke weduwee aan die hand geneem en saam met haar tot voor in die kerk gestap. Hoe sou hy nie sy eie vrou Laurika, wat ná sy dood deur massas goed-bedoelende mense oorweldig is, wou beskerm het nie.
Johann Vyf se begrafnisdiens was op Saterdag 28 September vanuit die NG Kerk Rayton.
|