|
Angie Kleijn
Noem die naam ‘Juta’ en ’n mens dink aan een van ons land se heel eerste boekhandelaar-uitgewers. Die saga van die Juta-familie in Suid-Afrika is een wat met ’n skip wat by Kaapstad op die rotse geloop het, begin. Die storie maak ’n draai by filosoof Karl Marx, en van die karakters beklee uiteindelik hoë regeringsposte in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR).
 JC Juta & kie boekwinkel in Walestraat, Kaapstad
Foto: Wikipedia
Coenraad Jacobus Juta was ’n skeepskaptein van Nederland, wie se skip by Kaapstad gestrand het. Hy het land toe geswem, verlief geraak op ’n Kaapse meisie, en is nooit weer terug Holland toe nie.
Coenraad is op 3 April 1827 by Zaltbommel in Gelderland, Nederland as die seun van munisipale belastinggaarders, Hubertus Johannes Juta en Marie Albertine, ’n nooi Offers, gebore. Sy ouer broer, Jan Carel, is op 23 Maart 1824 gebore.
 ’n JC Juta-advertensie in ‘De Zuid Afrikaan’ in Oktober 1853
Bron: Juta and Company: Corporate heritage profile
Jan het Coenraad Kaap toe gevolg, ná hy regte in Nederland studeer het. Hy is knap voor sy vaart Kaap toe op 5 Junie 1853 in Trier, Duitsland met Louisa Leah Marx, die sussie van filosoof Karl Marx, getroud. Louisa is op 14 November 1821 in Trier as die dogter van Heinrich en Henriëtte Marx gebore.
Op pad Kaap toe het die nuutgetroudes by Louisa se broer, Karl, in Londen gaan kuier. Karl het verskeie boeke geskryf, waarvan die bekendste ‘The Communist Manifesto’ (saam met Friedrich Engels) en ‘Das Kapital’ was.
 Juta’s se eerste geboutjie vir goudmyners in 1888 Bron: Juta and Company: Corporate heritage profile
Coenraad Skeepskaptein Coenraad is in die Kaap met Renette Johanna Margaretha Biccard (17 Augustus 1840 – 19 Augustus 1923) getroud. Sy was die kleindogter van die stamvader Ludwig Gottlob Biccard en Reinetta Wilhelmina, ’n nooi Duminy.
Coenrad en sy gesin het in 1857 Pretoria toe getrek. Hy was die ZAR se minister van oorlogsake en het in 1877 die minister van openbare werke geword. Hy was ook sekretaris van die volksraad en die hoof balju tot sy dood op 8 September 1889.
 Jan Carel (Calla) Juta Bron: ‘Men of the Times’
Coenraad en Renette het 10 kinders gehad. Hulle sesde kind, Francois Louis Charles Biccard Juta, was in 1898 die griffier van die Hooggeregshof, maar dit is hulle vierde kind, Jan Carel (Calla) Juta, wat die diepste spore in die ZAR getrap het.
Calla is op 6 Desember 1867 gebore. Hy het op ’n baie vroeë ouderdom by die ZAR-staatsdiens as assistentklerk in die volksraad aangesluit. Daarna was hy ’n klerk in die staatsekretaris se kantoor en is later as hoofklerk in die ouditkantoor aangestel.
 Sir Henry Hubert Juta Foto: ‘Advocate’, April 2010
In 1886 het hy eerste staatsaanklaer in Johannesburg geword en is as kriminele landdros aangestel. In 1888 het hy registrateur van die Hooggeregshof geword en twee jaar later is hy as sekretaris van die Swaziland-regskommissie aangestel. In 1898 is hy tot die kantoor vir die hoë balju van die ZAR beroep. Hy was sedert 1888 ’n vrederegter en ook ’n regeringslid van die Johannesburgse Hospitaalraad. Calla het op 19 April 1899 met Marion Sinclair David, die vierde dogter van Thomas David, getrou en hulle het twee kinders gehad.
Daar is ’n foto van hulle seun Hubert, wat in 1900 gebore is. In die Eerste Wêreldoorlog was hy in die ‘Scottish Rifles’ as deel van die Suid-Afrikaanse Weermag. Hy was later ’n majoor in die ‘Coldstream Guards’. Ná die oorlog het hy regte in Brittanje gaan studeer voor hy teruggekom het om in Suid-Afrika te praktiseer.
 Karl Marx se suster, Louise, het met Jan Carel Juta getrou Foto: Wikipedia
Juta’s Jan, die broer wat Coenraad Kaap toe gevolg het, en sy vrou Louise het by De Groote Kerk in Kaapstad aangesluit, waar hulle kinders gedoop is. Jan het JC Juta & kie (boekhandelaars en uitgewers) in 1853 gestig. Alhoewel Jan regte studeer het en ’n hele regsbiblioteek saam met hom gebring het, het hy begin verkoop wat sy klante ook al nodig gehad het. Uit sy eerste winkel op die hoek van Burg en Wale-strate het hy Bybels, skryfbenodighede, tydskrifte, sigare en selfs ‘Eau de Cologne’ verkoop.
Jan het Bybels en gesangboeke per posboot uit Nederland en Engeland ingevoer. Hy het ook bydraes aan ‘De Zuid-Afrikaan’ gelewer en in die uitgawe van 6 Maart 1854 verskyn sy swaer, Karl Marx, se artikel ‘The War in the East’.
 Juta se hoek in sentrale Johannesburg in die 1890’s Bron: Juta and Company: Corporate heritage profile
In ’n brief wat Jan in 1857 aan die Kaapse goewerneur geskryf het vra hy vir – en wen uiteindelik – die regte om verwysingsboeke vir die eksamineringsraad vir die nuwe Universiteit van Kaap de Goede Hoop te voorsien. Dit was die begin van die universiteitstelsel en Juta’s se verbintenis met opvoedkunde.
In 1858 het Jan wetenskaplike instrumente, wat die Koninklike Sterrewag aan die Kaap nodig gehad het, ingevoer en het ’n paar vennootskappe aangegaan met die resultaat dat Juta’s ook ’n klomp kaarte van suidelike Afrika gepubliseer het.
 Juta’s se oorspronklike winkel in Kerkstraat, Kaapstad Bron: Juta and Company: Corporate heritage profile
Juta’s het ’n noue verbintenis met die ontwikkeling van taal in Suid-Afrika. Ná Hooghollands het die firma ‘Vereenvoudigde Hollands’ en toe ‘Hollands-Afrikaans’ publiseer. Die firma het Melt Brink se stories in 1894 as ‘Kaaps-Hollands’ geadverteer. So het hulle ook reeds in 1857 ’n boek oor die Namakwa- en Hottentot-tale gepubliseer.
Juta’s het in 1864 begin om regsboeke te publiseer en die firma se ikoniese ‘Law Reports’ het vir die eerste keer in 1869 verskyn. Uiteindelik het dié verslae alle sake terug tot by 1828 gedek.
 Jan Carel Juta in Kaapstad in 1863 Bron: Wikipedia, fotograaf Samuel Barnard (1841-1913)
Verkoop Jan het vir 30 jaar aan die hoof van JC Juta & kie gestaan en het in 1883 ’n deel van sy maatskappy aan sy hoofklerke, Jacobus Cuypers en Thomas Mullins Duncan, verkoop. Vier generasies Duncans en Cuypers het vanaf die laaste jare van die 19e eeu tot die eerste jare van die 21ste eeu aan die stuur van sake gestaan. Die Paris-familie was nog een wat ’n lang dienstydperk by Juta’s gelewer het.
Jan het sy firma verkoop omdat sy gesondheid agteruit begin gaan het. Hy is in 1884 na Engeland en is op 8 April 1886 by sy familie in Londen, Sutton Court Road, Chiswick oorlede.
 Hubert Calla Juta, die seun van Jan Carel (Calla) Juta en Marion Sinclair David Bron: peoplescollection.wales
In die jaar van Jan se dood is goud aan die Witwatersrand ontdek en in 1887 het ’n Juta-agent grond in dit wat toe as Ferreira se kamp bekend gestaan het, gekoop. Dié ‘kamp’ het binnekort sentrale Johannesburg geword en in 1888 het Juta’s ’n handelslisensie gekry. Die hoek van Loveday- en Pritchard-strate, waar die boekwinkel oopgemaak het, sou later jare as Juta se hoek bekend staan. Die eerste Juta’s in Johannesburg het boeke, tydskrifte, langspeelplate, grammofone, kunsmateriaal, klaviere en leergoedere verkoop.
Louise is ná Jan se dood terug Kaap toe en sy is op 3 Julie 1893 in die ouderdom van 72 jaar in Rondebosch oorlede. Sy het aan haar oorlewende kinders, Henry Juta, Wilhelma Juta en Louise Hosmer, meer as £35 000 nagelaat, wat aandele van JC Juta & kie ingesluit het.
 Dié kinderboek is deur Sir Henry Juta, geskryf Bron: Juta and Company: Corporate heritage profile
Henry Jan en Louise het sewe kinders gehad en hulle seun, Sir Henricus Hubertus (Henry) Juta (1857 – 1930), het bekendheid verwerf. Hy het opleiding aan die Suid-Afrikaanse Kollege en die Universiteit van Londen ontvang en is op 26 Januarie 1880 tot die Inner Temple toegelaat. Henry het daardie jaar in die Kaap begin praktiseer.
 Kentekens oor die jare Bron: Juta and Company: Corporate heritage profile
Hy het in 1894 prokureur-generaal geword en was van 1896 tot 1898 speaker van die Kaapse Volksraad. In 1913 het hy regter-president van die Kaapse provinsiale afdeling geword. Henry is in 1920 in die Appèl-afdeling aangestel en het in 1923 afgetree.
Hy het ’n speurverhaal ‘Off the Track’ (Londen, 1895), onder die skuilnaam Jacques Aanrooy geskryf asook kinderboeke. Henry is op 16 Mei 1930 oorlede.
|