Kan jy my sê waar die Bronberg lê? Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 15 November 2024 13:00
Untitled Document

Rantreekse wat voorheen as deel van die Bronberg gesien is, staan vandag onder ander name bekend. Toeka se mense het die Bronberg al by Klapperkop loop haal; ’n rantreeks wat vandag as Waterkloofrant bekend staan.

Deesdae sê die mense egter dat die Bronberg by die Faerie Glen-natuurreservaat begin en platter begin word tot dit naby die Bronkhorstspruit-Bapsfonteinpad (R25) doodloop.

Lesers vra gereeld oor die Bronberg se ligging en oor die jare het ons ’n hele paar artikels oor dié onderwerp gepubliseer. In Oktober 2013 het ’n leser vir ons ’n kaart, wat in 1947 deur die Pretoria Publisiteitsvereniging gepubliseer is, gestuur. Dié kaart dui aan dat ’n rantreeks genaamd ‘Bronberge’ deur Muckleneuk loop.


Dié kaart van 1947 dui aan dat die Bronberg deur Muckleneuk loop
Bron: Pretoria Publisiteitsvereniging

1841
Tog was die naam ‘Bronberg’ nie altyd die rantreeks se naam nie. Die naam ‘Baronsberg’ kom herhaaldelik in die ‘inspectie’-rapport van 1841 voor, alhoewel dit soms as ‘Berens’- of ‘Bronsberg’ geskryf is.

Uit die beskrywing van die grense van sekere plase in ons distrik kan ons min of meer bepaal hoe die rantreeks volgens die eerste intrekkers geloop het. Daar word verwys na die plaas “Tiegerpoort gelegen aan Brons Berg”, die plaas “Garstvontyn gelegen aan die Berensberg” en die plaas “Elandshoek gelegen aan Baronsberg”.

Op die oog af lyk dit asof al dié name variasies is van die rantreeks wat ons vandag as die Bronberg ken.


NG Gemeente Bronberg in omstreeks 1960 toe die Uniegebou nog van die kerk af sigbaar was
Foto: Wikipedia

1955
Die boek oor Pretoria, wat met die stad se honderdjarige bestaan in 1955 uitgegee is, ‘Pretoria (1855-1955), History of the city of Pretoria’, sê dat die eerste intrekkers in die gebied die Baronsberg se begin naby Klapperkop gesien het.

Volgens dié boek het die Baronsberge op Tiegerpoort begin en weswaarts gestrek na Garsfontein waar die rand suid gedraai het, terwyl ’n uitloper weswaarts gestrek het – die rant wat vandag Waterkloofrant genoem word.

Tog, geografies gesproke, is Muckleneuk of Bronbergrant nie die voortsetting van die ‘Baronsberg’ nie, maar wel van die Skurweberg.


Die Bronberg in Bronberg-bewarea langs Lynnwoodweg-verlenging
Foto: bronberg.co.za

Kerk
Baie mense ken die naam ‘Bronberg’ van die NG Gemeente Bronberg in Sunnyside, wat tot in die 1980’s landswyd een van die grootste gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk was.

Dié gemeente het sy naam te danke aan een van sy eerste diakens, Carl Basson van Lynnwood. Hy het destyds as aktevervaardiger toegang tot die kantoor van die landmeter-generaal gehad en toe aangekondig is dat mense met voorstelle moet kom vir die nuwe gemeente se naam, het hy in dié kantore gaan rondsnuffel.

“Ek het op ’n kaart van 1875 afgekom en ontdek dat die rant wat van Die Wilgers tot by Unisa in Muckleneuk strek, eers as die Bronbergen bekend gestaan het. Die Fonteine is toe nog De Bronnen genoem.

NG Gemeente Bronberg se kerkgebou is deur Hendrik Vermooten ontwerp en op 22 Januarie 1955 ingewy. Op die vergadering wat die gemeente gehou het, is verskeie name, soos Immanuël, Sunnyside en Ebenaeser voorgestel, maar toe Carel verduidelik het waar die naam ‘Bronberg’ vandaan kom, het die meeste mense daarvoor gestem.


Die Bronberg in Faerie Glen-natuurreservaat
Foto: alltrails.com

Riwwe
Op kaarte van 1955 word gedeeltes van die Baronsberg ‘Elliot-rif’ en ‘Glastonbury-rif’ genoem. Elliot-rif strek so min of meer van Solomon Mahlangurylaan (Hans Strijdom) tot by die poort van Zwavelpoort. Glastonbury-rif begin by daardie poort en strek verder Tierpoort se kant toe. Vandag is die Nkwe-rif ook ’n bekende naam wat aan die rif oos van Glastonbury-rif behoort.

Waar die name ‘Elliot’ en ‘Glastonbury’ vandaan kom, kon ons nog nie uitvind nie. En waar die naam ‘Baron’ vandaan kom, is ook nie seker nie. Die titel ‘baron’ was aan die boere bekend omdat verskeie van die Hollandse goewerneurs aan die Kaap die titel gedra het. Dit lyk of niemand weet of die bergreeks na ’n baron of iemand met die van ‘Baron’ vernoem is nie.

 

© 2025 Die/The Bronberger