Vergroeningsprojek gee Lynnwoodweg byna 300 nuwe inheemse bome Print E-mail
News - Artikels
Friday, 15 November 2024 13:00
Untitled Document

Lynnwoodweg kry nagenoeg 300 nuwe inheemse bome danksy ’n vergroeningsprojek wat Werner Bonthuys van stapel gestuur het.

In ‘Koorsbome sneuwel voor padverbreding’ in Die Bronberger se November 2023 uitgawe het ons berig dat inwoners ontstoke is oor die pragtige laning koorsbome wat wortel en tak in Lynnwoodweg, Die Wilgers uitgehaal is.


Werner Bonthuys
Foto: Verskaf

Pieter van Heerden, raadslid vir wyk 46, het gesê daar was baie navrae van die publiek oor die verwydering van die bome. Dit is deel van Lynnwoodweg se verbreding tussen January Masilela en Simon Vermootenweg om nuwe bane vir die A Re Yeng-busdiens te maak en skakel in by ’n groter projek van R124-miljoen. Bane vir busse word regoor die stad aangebring om werkers wat in verafgeleë gebiede bly, makliker na gebiede waar hulle werk te bring.

Burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, Katlego Mathebe, het op 23 Oktober 2023 ’n sooispit-seremonie gelei vir die opgradering en verbreding van Lynnwoodweg tussen January Masilela en Simon Vermootenweg.


Die klein Vanwykshout-boompies wat aangeplant gaan word
Foto: Verskaf

Werner, wat Bont Huijs-kunsateljee ’n paar maande voor dié boomsloping by Ridge Square op Lynnwoodweg oopgemaak het, was een van die mense wat geskok was deur die verlies van die bome.

“Ek het met ontnugtering gekyk hoe hulle die een boom ná die volgende afsny. Ek sou later by die stadsraad hoor dis byna 270 bome in fase een alleen wat afgekap is,” sê Werner.

“Terselfdertyd het Lexus, die motorgroep, die gebou waarin die kunsateljee geleë is, aangeskaf vir hulle nuwe Pretoria vlagskip. Ek het ’n voorlegging aan Lexus gemaak, ná samesprekings met Stad Tshwane, om 287 bome te koop om langs ’n deel van Lynnwoodweg, wat reeds voltooi is, aan te plant. Hulle het ewe maklik ingestem,” sê Werner.


Vanwykshout in blom by die Pretoriase Nasionale Botaniese Tuine
Foto: David Becking

Werner sê dat hy al ’n hele ruk met omgewingsinisiatiewe speel, maar dat die Lynnwoodweg-vergroeningsprojek sy eerste groot projek is. In die eerste fase van dié vergroeningsprojek word 170 witpeerbome en 60 Vanwykshoutbome vanaf Lynnwood Lane tot by Solomon Mahlangurylaan langs Lynnwoodweg geplant.


Die witpeer
Foto: CJM Tree Growers

Vanwykshout
Vanwykshout word as die inheemse antwoord op die Jakaranda beskou. Wanneer dié boom blom kan ’n mens die rede vir sy Engelse naam, ‘tree wisteria’, duidelik sien. Skakerings van pers blomme hang in trosse blomtakkies, wat tot 30 cm lank kan word. Ná die blomtyd vorm daar papieragtige bruin saadpeule.

Vanwykshout se Latynse naam, Bolusanthus speciosus, verwys ook na sy blomme. ‘Speciosus’ beteken ‘skouspelagtig’. Die boom is na Harry Bolus (1834 tot 1911), ’n Suid-Afrikaanse botanikus en stigter van die Kaapstadse Bolus Herbarium, vernoem.

Dié is ’n klein tot medium-grootte boom wat so agt meter hoog en vier tot ses meter wyd kan word. Hy is bladwisselende met hangende takke, maar is slegs vir ’n baie kort rukkie in die laatwinter sonder blare voor nuwe blare in die lente uitgestoot word. Goeie nuus is dat sy wortelstelsel nie skade aanrig nie.


Die klein witpeer-boompies
Foto: Verskaf

Witpeer
Die witpeer, Apodytes dimidiate, kan tot 25 meter hoog word in woude, maar is baie kleiner as hy in die oopte groei, gewoonlik vier tot ses meter hoog. Op ongunstige plekke, soos sandduine, word hy ’n krom klein struikie van ongeveer een meter hoog.

Sy stam is gewoonlik lank en reguit en die kroon is netjies en gerond. Die blare is leeragtig en die boom dra van September tot April geurige wit blommetjies. Insekte word deur dié soet geur gelok, wat op hulle beurt weer insekvretende voëls lok. Vrugtevreters geniet die swart vrug met sy kenmerkende rooi aanhegsel, wat van Desember tot Junie aan die boom gedra word.

Sy wortelstelsel is nie baie aggressief nie, so hy kan maklik langs ’n teerpad aangeplant word. Die witpeer reageer goed op snoei en kan ’n uitstekende windskerm of heiningplant wees.

 

© 2025 Die/The Bronberger