’n Uitgevrete luiperd het hom in
die Bronberg, vlak by die woongebiede
van Zwavelpoort, Olympus
en Faerie Glen, tuisgemaak en reeds
minstens een troetelhond verslind.
Dit is nie duidelik of dit dieselfde
dier is wat onlangs in Tierpoort gesien
is nie. Ouer inwoners van die
gebied meen dat ’n luiperd jare
reeds in die omgewing van Zwavelpoort
en Shere bly.
Spore wat in die berg gekry is dui
daarop dat die luiperd tussen die
poort van Zwavelpoort in die ooste
en die berg agter Faerie Glen in die
weste beweeg.
In die vakansietyd ná Kersfees het
die groot kat ’n Jack Russel van
Danie van Hengel van Zwavelpoort
gevang en verslind. Danie en sy
gesin, wat teen die suidelike hang
van die berg woon, was toe met
vakansie. Danie se buurvrou, Denyse
van Hoepen, sê dat Danie se honde
een laatnag vreeslik geblaf het. Sy
was bekommerd omdat drade in dié
tyd ’n paar keer geknip is en kwaaddoeners
in die berg opgemerk is.
Die volgende oggend het sy die
werker wat Danie se plek opgepas
het, Joshua, gebel om te hoor of
alles pluis is. Joshua het gaan ondersoek
instel en later laat weet dat
een van die honde, die Jack Russel,
weg is. ’n Soektog is na die hondjie
op tou gesit. Later is net die hondjie
se kop teen die noordelike grens
van Danie se plot in die berg gekry.
Denyse en haar dogter, Liana, het
groot voetspore oral in die omgewing
gekry. Die voetspore was baie
groter as dié van Denyse se Rottweilers
en het volgens haar ’n
“blompatroon” gehad. Liana het
foto’s van die spore geneem en dit
is deur kenners en voorbeelde op
die Internet bevestig dat die spore
aan ’n luiperd behoort.
 Die luiperd val maklik aan as hy bedreig voel
Liana en Denyse het die berg agter
die hoewe gefynkam en nog spore
op verskillende plekke opgespoor.
Hulle het op ’n boom afgekom wat
volgens Liana vir haar na ’n “luiperdboom”
gelyk het. Toe hulle nadere
ondersoek instel het hulle duidelike
krapmerke teen die stam en spore
onder die boom gekry.
Luiperds is die aanpasbaarste van al
die groot katte.Dit is algemeen bekend
dat hulle ’n voorliefde vir die
smaak van mak honde ontwikkel as
hulle natuurlike prooi skaars word.
Vroeër is baie bobbejane, nog ’n
gunsteling prooi van die luiperd, in
die Bronberg aangetref, maar hulle
het verdwyn. Die groot dassietroppe
wat enkele jare gelede nog
volop in die berg was, berghase,
ystervarke en kleiner boksoorte is
so te sê uitgeroei, grootliks weens
die stel van wippe en strikke in die
berg. Redelike groot troppies blouape
word nog in en om die berg
aangetref.
Mense is nie normaalweg op die luiperd
se spyskaart nie, maar luiperdaanvalle
op mense is redelik algemeen.
Dit gebeur gewoonlik as die
luiperd gejag word of bedreig voel.
Mensvreters onder luiperds is
skaars. Dit gebeur wel in gevalle
waar die luiperd oud of verswak
word en nie sy natuurlike prooi
meer kan baasraak nie. Dit kan ook
gebeur waar die natuurlike prooi uitgeroei
is. |