Andries se sarkofaag lê verlate in sy omstrede mausoleum Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 15 November 2024 13:00
Untitled Document

Pretoria se destydse stadsraad het ’n kompetisie gereël waar argitekte ’n ontwerp vir die verfraaiing van kerkplein kon instuur. Die wenners het ’n kontrakteur gekies wat so eksentriek was dat hy later jare ’n uitgesproke ondersteuner van antieke Egiptiese argitektuur aangestel het om ’n mausoleum op sy plaas te bou. Sy sarkofaag lê vandag nog daar al behoort die grond nie meer aan sy nasate nie.

Burgemeester Andrew Johnson se notules van 25 Oktober 1905 dui aan dat die kerk wat op kerkplein gestaan het, in die jaar van sy ampstermyn gesloop is. Die kerk en die plein was voorheen die eiendom van die Nederduits Gereformeerde Kerk en is in 1896 vir die bedrag van £50 000 aan die Zuid-Afrikaansche Regering (ZAR) verkoop, op voorwaarde dat dit óf gesloop óf in ’n biblioteek omskep word.


Andries Mauritz Mostert
Bron: Men of the times

Die sloping van die kerkgebou is in 1905 afgehandel en die ZAR het die grond aan die munisipaliteit oorgedra op voorwaarde dat dit ’n oop stuk grond bly. Burgemeester Johnson se notules wys dat Samuel Marks op 3 Februarie 1905 ’n ornamentele fontein vir kerkplein aangebied het. Die aanbod is aanvaar. Dié fontein is later jare na die Pretoria-dieretuin geskuif en deur president Paul Kruger se standbeeld vervang.

In 1910 is die kompetisie vir die verfraaiing van kerkplein geloods. Van die inskrywings is in ’n ‘Pretoria News’ bylae van 7 Oktober 1910 gepubliseer. VS Rees-Poole in samewerking met William B Barboure het die eerste prys in die kompetisie gewen. Hulle het Andries Mauritz Mostert as boukontrakteur aangestel.


Die eerste prys, gewen deur VS Rees-Poole en William B Barboure in die ‘Pretoria News’ bylae
van 7 Oktober 1910
Bron: artefacts.co.za

Andries
Andries, ook bekend as Andrew, was ’n nasaat van Johannes Mostert, wat in 1652 saam met Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het. Hy is op 21 Augustus 1868 in die Paarl, Breederivier gebore as die seun van Johannes Jacobus Mostert en Gezina Hendrika Johanna, ’n nooi Londt. Op die ouderdom van 17 jaar is Andries Kimberley toe waar hy vir ’n ruk op die spoorweë gewerk het. Met die goudstormloop is hy Barberton toe. Dit het hom drie maande geneem om Barberton te bereik en hy het pennieloos daar aangekom.


Die Mostert-mausoleum
Bron: artefacts.co.za; foto: Roger Fisher

Andries was redelik suksesvol met sy delwery by die Duiwel se Kantoor en het die geld gebruik om ’n transport-onderneming te begin. Die eksperiment het gefaal – net twee van sy osse het oorleef en die res is aan longsiekte dood. Dit is hoe Andries vir die eerste keer in 1886 in Pretoria beland het.

Hy het kort daarna saam met sy broer, Petrus Jacobus Mostert, en dr Leander Starr Jameson, Frederick Rutherfoord Harris en George Pauling op die plaas Roodepoort uitgekamp. George Pauling was ’n Britse ingenieur wat by die spoorweë betrokke was en die maatskappy Pauling & Co ses jaar later, in September 1892, gestig het.


Andries se sarkofaag in die Mostert-mausoleum
Bron: artefacts.co.za; foto: Roger Fisher

Jameson
Bykans tien jaar ná Andries saam met dié mense gekamp het, sou dr Leander Starr Jameson, Britse koloniale administrateur van Rhodesië, die mislukte Jameson-inval oor Oujaarsnaweek van 1895-96 uitvoer. Hy is deur Cecil John Rhodes, wat die ZAR in ’n Britse kolonie wou omskep, aangestel.

Dr Jameson (1853-1917) se taak was om ’n mag op die been bring, wat die ZAR vanaf ’n deel van Betsjoeanaland, wat aan Rhodes se British South Africa Company behoort het, binne te dring.


Die huis Welgelegen op die plaas Rietbult
Foto: welgelegenmanor.co.za

Frederick Rutherfoord Harris, ’n Britse politikus, was in 1895 by die polemiek oor die Jameson-inval betrokke. Om die inval in die res van die wêrelds se oë te regverdig, moes dit met ’n kunsmatig aangewakkerde revolusie onder die Uitlanderbevolking van Johannesburg saamval.

Op instruksie van Rhodes, het Frederick ’n boodskap aan ‘The Times’ gestuur wat dit valslik laat lyk het asof dr Jameson optree op ’n direkte versoek om hulp.


’n Vroeë poskaart van kerkplein, gedateer 10.2.08
Bron: artefacts.co.za

Johannesburg
Andries Mostert is vanaf Roodepoort na Johannesburg, wat nog net ’n mynkamp was, en het suksesvol met grond begin spekuleer. Hy het ook weer op die spoorweë begin werk en met die konstruksie van die treinspoor tussen Elandsfontein en Braamfontein het hy 100 plekke om te delf afgemeet. Ná die treinspoor voltooi is, is hy as agent vir Robinson en Muro, wat die deel van die Pretoria-Elandsfontein spoorlyn tussen Pretoria en Irene gebou het, aangestel. Ná hy self ’n kontrakteur geword het, het hy onder andere die kontrak vir die Doornfontein-reservoir vir die Johannesburgse stadsraad gekry.


Andrew Mauritz Mostert
Foto: myheritage.com

Andries is met Ida Frida Maria Koepnick, wat op 18 Februarie 1877 in Berlyn, Duitsland gebore is, getroud. Hulle het sewe kinders gehad: Andrew Mauritz Mostert; Johannes Frederick Theobald Mostert; David Borck Mostert; Zoe Florence Gertrude Mostert; Frieda J M Mostert; Yvonne Alida Isabella Anderson; en Elma Louise Hildegonda Jelks. Andries was die stigter-voorsitter van Yskor, wat toe die Suid-Afrikaanse Yster en Staalkorporasie was, en ook een van die eerste Suid-Afrikaanse direkteurs van Barclays Bank. Onder sy vriende was daar baie politici, soos generaal Jan Smuts.


Die hoeksteen by Welgelegen lees: “Gelegen door Frida Mostert, 26 Desember 1912. Bouwmeesters Herbert Baker & Fleming”
Bron: artefacts.co.za; foto: Roger Fisher

Mausoleum
In 1912 het Andries vir Herbert Baker aangestel om sy huis, Welgelegen, op die plaas Rietbult in die Balfour-distrik van Transvaal te bou. In 1933 het hy vir Gerard Moerdijk, die uitgesproke ondersteuner van antieke Egiptiese argitektuur en argitek van die Voortrekkermonument, gevra om ’n Mostert-mausoleum op Rietbult te bou.

Reeds in sy testament van 1925 het Andries instruksie gegee dat die mausoleum voor sy dood gebou moet word. Die testament lees dat hy in ’n kelder op die plaas te ruste gelê moet word en dat dié kelder ten minste 100 liggame moet kan huisves.


’n Skets van kerkplein, Pretoria deur William M Timlin met die Paleis van Justisie,
regs en die poskantoor links
Bron: artefacts.co.za

“Dit is my wens en begeerte dat my liggaam ná my dood gebalsem moet word en in ’n kiaatkis (met staalbedeksel aan die binnekant) gesit moet word en dat ek in die bogenoemde kelder begrawe moet word deur ’n aangeduide dominee van die Nederduits Gereformeerde Kerk,” het sy testament gelui.

Moerdijk het Andries in Maart 1933 besoek met voorlopige sketse van die beplande mausoleum. Daarna het hy kwotasies vir die klipmesselwerk gekry en het voorgestel dat WF Barker, glo die beste klipmesselaar in die Unie, gebruik moet word. P Ley & Co het die sarkofaag voorsien, gemaak uit die versoekte blok graniet vanuit Parys, Vrystaat.


Barberton van ouds in die jare toe Andries daar gedelf het
Bron: ‘Photo History of Barberton 1884 – 1984’; Barberton stadsraad

Stipulasie
Andries se heel laaste testament is 6 Februarie 1937 gedateer. Teen dié tyd moes die mausoleum al klaar gewees het, want hy stipuleer: “Alle liggame wat in die mausoleum geplaas word moet gebalsem word en in toepaslike kiste geplaas word en geen as van verassing mag in die mausoleum geplaas word nie.”

Daar was ’n inseëningseremonie, wat beteken dat die mausoleum, wat van sandsteen van die plaaslike Rietbult steengroef gebou is, ook as kapel kan dien. Andries is op 16 Februarie 1939 in die ouderdom van 70 jaar op Balfour oorlede.


Die eerste transportroete na Barberton
Bron: ‘Photo History of Barberton 1884 – 1984’; Barberton stadsraad

Die mausoleum is ongeveer 200 meter van die Kaaps-Hollandse opstal wat Herbert Baker ontwerp het. Die mausoleum het hoë vensters met ingevoerde diep-blou glasuring. Die teëldak is van blou-grys klip en die vloer van swart marmer. Andries se sarkofaag is aan die verste kant van die ingang sigbaar.

Daar is laaie in die mure ingebou om die kiste van toekomstige Mostert-nageslagte te huisves – iets wat nie meer sal kan gebeur nie, omdat die grond nou aan buitelanders behoort en die familie nie meer toegang tot die fasiliteite het nie.


Mauritz Mostert, Peter se seun
Foto: wildmoz.com

Nasate
Andries en Ida se seun, Andrew Mauritz Mostert, is op 8 Augustus 1897 in Johannesburg gebore. Hy is met Kathleen Anne, ’n nooi Joyce, getroud. Andrew was verantwoordelik vir die eerste toeriste safari’s in die Kruger Nasionale Wildtuin en het tussen 1926 en 1937 die enigste toerisme-kontrak gehad. Hy was ook die eienaar van vier van die plase wat die oorspronklike kern van die Timbavati-wildtuin (toe as die Umbabat-natuurreservaat bekend) gevorm het.


Peter Andrew Mauritz Mostert
Foto: ancestry.com

Andrew is op 27 Julie 1962 op Welgelegen, Balfour oorlede. Andrew se seun, Peter Andrew Mauritz Mostert, was ’n ekoloog en stigter van verskeie ekologiese rade en het in 1956 aan die stigting van Timbavati gewerk.

Peter se seun, Mauritz, het groot gedeeltes van sy jeug op sy pa en oupa se plase in Timbavati spandeer en was daar toe die Kruger Nasionale Wildtuin se grensdrade op Timbavati se oostelike grens opgerig is.


Cari Mostert
Foto: wildmoz.com

Hy was ’n ekspedisiegids in Suid-Afrika en Botswana en ’n koördineerder vir dokumentêre vervaardigers, wat saam met ‘National Geographic’ werk. Mauritz is ’n skilder, skrywer, fotograaf en illustreerder. Hy is met Laurens van der Post se dogter, Cari, ook ’n skrywer, getroud en hulle werk saam aan Wildmoz, ’n webwerf wat op wilde diere, Afrika-volksverhale, stories, kuns en bewaring fokus.

 

© 2025 Die/The Bronberger