Kersdag-verhaal van ’n kat op ’n paal Print E-mail
News - Artikels
Sunday, 26 January 2025 08:00
Untitled Document

’n Kersdag-verhaal van ’n kat, wat op ’n lamppaal vasgekeer was, het uiteindelik soos ’n sprokie in Faerie Glen geëindig.

Teen Kersdag was ’n jong wyfiekat al vir ses dae, sonder enige kos of water, bo-op ’n lamppaal in Mabopane vasgekeer. Dit het aanhoudend gereën en talle reddingspogings is gefnuik. Raymond Mogane is die een wat uiteindelik vir Tebogo Maredi van die Soshanguve- diereskuiling gekontak het.


Die kat is op die paal vasgekeer
Foto’s: Soshanguve-diereskuiling

Dit was nie moontlik om teen die paal op te klim nie, omdat daar ’n aangrensende transformator was waarmee gepeuter is en verskeie drade rondom die boks het dit onveilig gemaak om die kat te probeer bereik.


Die brandweer daag op

Eskom het rondom 5 nm op Kersdag ’n span uitgestuur en die elektrisiteit is afgeskakel, net om te vind dat die paal te lank was vir die brandweer se langste leer om bo by te kom. Raymond het besluit om self op te klim. Hy is ’n ervare klimmer van takelwerk en het sy eie harnas en toue saamgevat.


Raymond op die leer

So het Raymond tot by die leer se bopunt geklim en is van daar af met sy harnas en toue verder tot hy die kat met een hand kon bykom. Sy was glo so uitgeput dat sy haar nie eers probeer teësit het nie.


Die kat is veilig op vaste aarde

Halfpad teen die leer af, het Tebogo die kat in ’n vanghok gesit sodat sy nie kon ontsnap nie. Hulle was teen 8.30 nm uiteindelik terug op vaste grond. Tebogo het ’n stukkie tuna en water gereed gehad, maar die kat was so moeg en oorweldig dat sy net ’n klein stukkie van die vis gevreet het en geen water gedrink het nie.


Tebogo op pad na die dierekliniek

Tebogo het haar teen 11 uur Kersnag by die Olympus-dierekliniek in Faerie Glen besorg, waar die personeel haar dadelik ondersoek het. Alles was reg en kat se kind het geen beserings gehad nie.


Veilig by die dierekliniek op Kersnag

Maggie Steenkamp was die mens wat gereël het dat die dierekliniek vir Tebogo en die kat gereed staan. Dr Jamie Taylor van dié kliniek het besluit om pleegouer vir die kat te wees en haar veeartsrekening te betaal.

Tebogo het gesê dat dié suksesvolle reddingspoging ’n toonbeeld van ware gemeenskapsgees was.

 

© 2025 Die/The Bronberger