’’Die erwe van ons vadere’’ Print E-mail
News - Toeka se dae
Sunday, 26 January 2025 08:00
Untitled Document

Angie Kleijn

Daar is min families wat kan sê dat hulle die afgelope 165 jaar steeds op dieselfde plaas boer. Die Oppermans van Witpoort is juis só ’n familie en Hendrik Opperman het vir ons vertel hoe dit gebeur het dat ’n deel van die plaas wat in 1860 afgemeet is, vandag ’n moderne melkery is wat met sonkrag werk.


Die familie-begraafplaas op Witpoort
Foto’s: Verskaf

Hendrik sê dat Rudolph Willem Jacobus (Dolf) Opperman die plaas te perd ’afgery” het. Die destydse reëls het bepaal dat ruiter en perd vir ’n uur lank in al vier die windrigtings in moes loop en dat ’n bakenklip op elke hoek geplant moes word.


Henopper Melkery

’President Paul Kruger het daardie landmeter-generaal se transportakte self onderteken en dit is vandag nog in ons familie se besit,” vertel Hendrik. Die landmeter het glo gesê: ’Oom Dolf, jou bakens was oos en wes van jou plaas ingeskuif.” Hy wou glo nie prosedeer nie.


Hendrik se seun, Jaco, en sy vrou, Nelia, met hulle vier kinders agter, 
van links na regs: Henko; Marijke; Elzette; en MC

Dolf is op 4 Junie 1834 in die Oos-Kaap as die seun van Daniël Jacobus Opperman en Maria Margaretha Elizabeth, ’n nooi Prinsloo, gebore. Hy was die vierde van ses Opperman-broers wat saam met hulle pa en ma die Groot Trek deurgemaak het. Hulle pa Daniël is in 1846 by Ohrigstad aan malaria oorlede toe hy saam met die Trichard-trek daar was.

Dolf het met Johanna Gertzina Catharina Bronkhorst (23 November 1838 – 22 Mei 1909) getrou. Hy is op 18 Julie 1916 oorlede en dié twee se grafte lê vandag nog in die familiebegraafplaas op Witpoort.


Hendrik se oupagrootjie, Rudolph Willem Jacobus (Dolf) Opperman, en sy vrou, Johanna Gertzina Catharina, ’n nooi Bronkhorst

Dolf se oudste broer, Philippus Albertus Opperman, is met die ander Bronkhorst-suster getroud. Dié broer is ook die oor-oor grootjie van Hendrik se vrou Grietha, ’n nooi Venter. Grietha het haar doopname by die ses Opperman-broers se ma, Maria Magrietha Elizabeth, gekry.


Met die Slag van Witpoort, van links na regs: Groen Flip Opperman,
Groot Hand Eendjies en Baltus Erasmus

Dolf het die plaas aan sy seun, Philippus Albertus (Groen Flip) Opperman, laat vererf. Hy was getroud met Christina Maria Hermann, wat na haar ouma Booysen vernoem was. Hendrik se oupagrootjie aan dié kant was Jacobus Johannes Hermann.


Hendrik se pa en ma, Danie en Annetjie Opperman

Hy het in die Anglo-Boereoorlog by Langseekoeigat, Boesmanskop naby Devon gesneuwel toe ’n Kakie se koeeël hom in die oog getref het, ná die koeeël kommandant Joaghim Prinsloo noodlottig getref het. Die volgende skoot was vir Hendrik se oupa Groen Flip bedoel, maar ’n Boer op die flank het die Kakie doodgeskiet.


Hendrik en Grietha se troue op 8 Augustus 1970

Groen Flip het die plaas Witpoort op sy beurt aan sy seun, Daniël Jacobus Opperman (13 Maart 1917 – 6 Augustus 1998), wat Hendrik se pa was, nagelaat. Dit is hy wat met sy oudste broer en drie susters geruil en gekoop het om meer gedeeltes van die oorspronklike Witpoort-plaas te bekom.

Hendrik en Grietha is op 8 Augustus 1970 getroud en het Witpoort op 15 Augustus 1970, net ná hulle wittebrood, betrek. Hendrik het gedeelte 18 van Witpoort 551 JR en later, in 1978, ook 501 ha van Dorstfontein by sy pa gekoop. 


’n Troufoto van Hendrik se oupa Flip en ouma Christina Opperman (1895)

Hendrik se doopname is Hendrik Jacobus Potgieter Opperman en hy vertel dat die Potgieter-naam afstam van die Voortrekkerleier, generaal Andries Hendrik Potgieter. Uit Hendrik en Grietha se huwelik is twee seuns en ’n dogter gebore, waarvan die oudste Daniël Jacobus (Jaco) in 1995 saam met Hendrik begin boer het.


Hendrik se oupa Hendrik en ouma Anna Potgieter sit in die middel. ’n Klein Hendrik staan regs voor

Jaco is met Nelia, ’n nooi Verster, getroud en uit hulle huwelik is twee seuns en twee dogters gebore. Jaco en Nelia se oudste seun, Hendrik Jacobus Potgieter (Henco) Opperman, wat na sy oupa vernoem is, boer ook al by Henopper Melkery en het op 11 Januarie met Elzette Coetzee getrou.


Oupa Flip en ouma Christina Opperman met hulle eerste vier kinders. Agter links is hulle oudste dogter, Cecelia Jacoba, en langs haar is Jacobus Johannes. Onder links is klein Rudolph Willem Jacobus en die dogtertjie regs voor is Johanna Gertzina Catharina.
Hulle het later nog vier kinders gehad

Dié drie geslagte woel en werskaf saam op die familieplaas, waar hulle besig is om ’n sonplaas met 200 panele op te rig. Hulle het ’n batterykamer, wat 72 batterye en drie omskakelaars bevat, gebou om die sonpanele, wat ’n paar jaar gelede op die dakke geplaas is, ook by dié stelsel te laat aansluit.


Hendrik se oupa Flip

Hendrik sê dat Witpoort, Onbekend, Bapsfontein, Knoppiesfontein, Dorstfontein, Boschkop, Kameelzijnkraal, KleinZonderhout en Waaikraal vandag eintlik steeds ’n hele gemeenskap op sy eie is met Laerskool Witpoort, wat in 1904 gestig is, ’n polisiestasie, kerke, boerderye en ’n eeu-oue Geloftefeesterrein.


Hendrik en Grietha Opperman

“Ons is op die voorstoep van Pretoria en die middelpunt van ’n sirkel wat getrek kan word met buitelyne van die Oos-rand, Kempton Park, Pretoria, Cullinan, Rayton, Bronkhorstspruit, Witbank en Delmas, Eloff, Sundra, Welgedaght, Springs en Benoni. Ja ons is die middelpunt van daardie sirkel,” sê Hendrik.

 

© 2025 Die/The Bronberger