|
Raygun, die swerwende bobbejaan wie se roete Pretorianers met opwinding vanaf die Steve Biko-hospitaal tot op Zwavelpoort gevolg het, is wreed doodgemaak. Leerlinge van Botleng Secondary School op Delmas het hom op 7 Februarie met klippe en stokke aangerand en sy tande uit sy bek geskop. Hulle het hom vasgebind, motorbande om sy lyf gesit en hom toe doodgebrand.
 Raygun laat hom nie vang nie Foto: Owl Rescue Centre
Raygun se Pretoria-roete van 52 km oor vyf dae is deur Brendan Murray van die Uilreddingsentrum in samewerking met Leanne Hezlett van die Suid-Afrikaanse Wildrehabilitasiesentrum gevolg. Hulle is bygestaan deur dr Rob Campbell van Val de Grace Vet CREW en Wian Plowman met ’n hommeltuig van die Lugondersteuningeenheid.
Brendan het vertel dat die Uilreddingsentrum van Raygun te hore gekom het toe hy op 29 Januarie op Steve Biko-hospitaal se dak heen-en-weer gehardloop het. Dié hospitaal se mense het die polisie gebel en wou gehad het dat iemand die bobbejaan moet gaan doodskiet.
Brendan het opgedaag en het ’n vanghok met baie piesangs in op die hospitaal se dak gestel. Raygun het glad nie daarvoor geval nie.
 Raygun by Steve Biko-hospitaal Foto: Owl Rescue Centre
Op 30 Januarie is Raygun naby die Pretoria-dieretuin gesien. Brendan het toe nog gehoop dat hulle hom in ’n vanghok kon vang sodat hy na veiligheid geneem kon word. Hy het gesê dat hulle hom nie graag met ’n verdowingspyl in die stad wou skiet nie.
’n Bobbejaan kan twee tot drie kilometer ver beweeg voor die verdowingsmiddel inskop en in daardie tyd kan hy oor geboue se dakke beweeg, wat dit moeilik maak om hom te volg. Hy kan in ’n bedwelmde toestand op ’n tien-verdieping gebou se dak beland en sy balans verloor.
 Raygun in Arielweg, Faerie Glen Foto: Pretoria Animal Buddies
Op 31 Januarie het Raygun in ’n oostelike rigting deur Silverton beweeg en Brendon het gesê dat hulle Raygun se pad sal moet blokkeer as hy in Mamelodi se rigting draai. Hy is later daardie dag in Meyerspark gesien. ’n Inwoner het voetstappe op sy dak gehoor en die bobbejaan in sy tuin ontdek. Hy is ook by die museum vir ou motors in Meyerspark gesien.
Op 1 Februarie is Raygun in Nicolettestraat, Rabistraat, Gracelaan en toe in Frangipanistraat, wat parallel met die N4-snelweg loop, gesien. Hy is oor dié snelweg, verby Silver Lakes en het vir ’n rukkie op Hoërskool Die Wilgers se dak baljaar.
 Raygun sit op loop Foto: Owl Rescue Centre
Brendan het gesê dat hulle hom daardie dag met ’n verdowingspyl probeer skiet het, maar dat die poging onsuksesvol was. Later is hy in Faerie Glen gesien, op die punt om Solomon Mahlangurylaan oor te steek.
Van daar af is Raygun deur Olympus tot op Zwavelpoort. Lede van die Pretoria-Oos Gesamentlike Operasionele Komitee het op 2 Februarie bevestig dat Raygun ooswaarts deur die kleinhoewes beweeg.
Brendan het gesê dat hulle slegs op Sondag 2 Februarie, toe Raygun die hoewegebied uiteindelik bereik het, 726 WhatsApp-boodskappe en 168 oproepe van die publiek ontvang het. Raadslid vir wyk 101, Malcolm de Klerk, het gesê dat instansies wat Raygun se roete help volg het, gestrek het van Alpha Sekuriteitsforum, Lakes Sekuriteitsforum, Equestria Sekuriteitsgroep en die Ou Ooste Veiligheidsforum tot Volunteer Emergency and Medical Response Unit (Vemru).
Raygun het glo in Bronkhorstspruit se rigting beweeg in sy soeke na ’n nuwe bobbejaantrop. Wanneer manlike bobbejane teen agt tot nege jaar oud geslagsrypheid bereik, word hulle uit die trop geskop of verlaat self die trop. Brendan sê dat Raygun ongelukkig ’n verkeerde draai geneem het en 40 km vanaf Zwavelpoort by die hoërskool buite Delmas beland het.
 Raygun se graf Foto: Owl Rescue Centre
Toe Brendan Raygun se liggaam wou gaan haal, het ’n klein skare hom genoop om die toneel te verlaat. Hy het ’n paar kilometer verder gewag tot die mense weg is, vinnig ingejaag en dit wat van Raygun oor was, opgelaai.
Inwoners het vir Brendon vertel dat ’n toordokter daar was om Raygun se hande en kop af te kap en sy borskas oop te sny om sy hart uit te haal. Brendon het Raygun se oorskot by die Uilreddingsentrum op die plaas Bokfontein, Hartbeespoort begrawe.
|