’n Slinkse baberplan gefnuik Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 21 February 2025 08:00
Untitled Document

Frankfort se baberkompetisie, wat jaarliks in die jonger jare van die vorige eeu gehou is, was sommer ’n groot gedoente.

Die mense het van oor die hele land opgeruk om te kyk wie die grootste baber uit die troebel waters van die Wilgerivier kan opdiep. Want baie groot pryse kon los gevang word.

Die eienaars van Frankfort se spoggerigste motorhawe het ’n splinternuwe Studebaker as eerste prys geskenk. Die tweede grootste baber is met ’n nuwe Austin beloon en dan was daar nog ’n magdom ander pryse ook.

Oom Jan, van die plaas Betty, vertel dat hy nog die jaar goed kan onthou toe ’n kêrel al die pad van Natal af gery het om aan die baberkompetisie deel te neem. Die knaap was só in sy noppies toe hy die nuwe Studebaker wen, dat hy sy ou skedonk net daar in Frankfort se hoofstraat gelos het en die pad terug Natal toe met sy blinknuwe vuurwa gevat het.

Kansvatter
Oom Jan onthou ook die keer toe ’n wille kansvatter so byna vir hom ’n nuwe Studebaker los gekroek het. Op die dag van die groot kompetisie daag die vent daar op met vrou en kinders en baba as ondersteuningspan en visstokke en aas en alles, gereed om die Studebaker-babervis hok te slaan.

Die spannetjie was al mooi by hulle plekkie op die oewer van die Wilge toe een van die beamptes, wat moes toesien dat alles ‘kosjer’ is en volgens die reëls verloop, besluit om weer ’n ogie by die gesinspan te gooi. Oom Jan dink die betrokke beampte was een van die De Wets van Lindley se wêreld.

Ewenwel, die De Wet het die man se visgerei deeglik nagegaan en die nodige vermanings uitgedeel dat die kinders nie te veel mag raas en droogmaak nie en so.

Verneem
Maar die De Wet was ook ’n vriendelike en ’n bedagsame man en soos dit ’n man van dié geaardheid betaam, stap hy oor na die vroutjie en verneem of sy darem alles het wat nodig is om die lang dag in die ongenaakbare Riemlandse son te oorleef.

En net om te wys hy is ook ’n man wat die wel en weë van sy medemens na aan die hart dra, verneem hy na die welstand van die ou kleintjie.

Dis toe hy by die stootwaentjie inloer – versigtig om nou nie die slapende ou babatjie te hinder nie – dat De Wet agter die kap van die bose byl kom.

Hy sien ’n ding wat hom tot in sy diepste wese moes geskok het: Daar – netjies toegemaak onder die babakombersie met ’n gehekelde baadjietjie aan en ’n blommetjies-kappie op die kop – lê die oupagrootjie van alle babers ewe knus. Die bek onder die blommetjies-kappie maak so oop-en-toe, oop-en-toe soos baberbaba na asem soek.

En dis toe dat De Wet glo verstom na die vader van die slinkse plan kyk en laat waai met: “My magtag ou swaer, hy het so wragtig jou snor!” Gerhard Kleijn – Februarie 2007

 

© 2025 Die/The Bronberger