Storie van die swastika op die stasie Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 21 February 2025 08:00
Untitled Document

Angie Kleijn

Meer as 90 jaar ná die Pretoria-stasiegebou voltooi is, het restourasiewerkers op ’n swastika, wat al die jare binne-in die kloktoring geskuil het, afgekom.

Die Pretoria-stasie was die eerste openbare gebou wat Herbert Baker in Suid-Afrika ontwerp en gebou het. Voor dit het hy meestal huise en kerke gebou en daar word geglo dat hy ’n paar tegnieke, wat hy by die Uniegeboue gebruik het, by die stasie getoets het.


Herbert Baker
Foto: Wikipedia

Die stasie-gebou is in 1910 voltooi, maar Herbert is in 1909 reeds aangestel om die Uniegeboue te ontwerp. Die Uniegeboue se hoeksteen is in November 1910 gelê en die bouwerk is in 1913 voltooi.

Suid-Afrika het in 1910 ’n unie geword en daar is besluit om die ekstra fondse wat die Transvaalse regering gehad het vir ’n Pretoria-stasie te gebruik, eerder as om dit aan die nuwe sentrale regering oor te gee.


Pretoria-stasie
Bron: Heritage Portal, April 2015

’n Kompetisie is gehou om ’n argitek vir die stasie te vind, maar toe nie een van die inskrywings goedgekeur is nie, is daar besluit om Herbert Baker, wat een van die kompetisie se beoordelaars was, as argitek aan te stel. Die nuwe stasiegebou sou die ou stasie, wat in 1893 vir die eerste stoomtreine in Pretoria gebou is, vervang.


Die kloktoring op Pretoria-stasie se dak
Bron: Heritage Portal, April 2015

Brand
Die brand by die Pretoria-stasie het op 19 Februarie 2001 uitgebreek. Iewers buite Pretoria was daar ’n sinjaal-probleem en die 6 000 pendelaars, wat binne-in die gebou gewag het, het al ongeduldiger geword.

Daar word geglo dat ’n klein groepie – 12 is van brandstigting en vandalisme aangekla – stasie-eiendom beskadig en personeel begin aanval het. Hulle het onder andere die gordyne, matte en stoele in die wagkamer aan die brand gesteek.


Die swastika in Pretoria-stasie se kloktoring
Bron: Pretoria Station Update, Desember 2001, Intersite Eiendomsbestuursdienste

Die brand het deur twee dakvensters aan albei kante van die wagkamer na die plafon beweeg. Dit het vinnig deur die ou daklyste versprei en het amper die hele dak, 1 800 vierkante meter, vernietig. Dit het brandweermanne met 14 brandweerwaens tot 4 vm geneem om die brand te blus.


Pretoria-stasie se dak is in ’n brand in 2001 verwoes
Bron: Pretoria Station Update, Desember 2001, Intersite Eiendomsbestuursdienste

Restourasie
Die eerste stap in die restourasieproses was intensiewe navorsing oor die gebou en Herbert Baker se aanvanklike tekenings is nagespoor. Inligting oor dié proses is later deur Intersite Gauteng-noord gepubliseer – die maatskappy wat alle metropolitaanse spoorwegstasies namens die Suid-Afrikaanse Spoorwegpendelkorporasie bedryf en ontwikkel.


Hoofman William Neptune van die Passamaquoddy se uitrusting en hoofbedekking is 
met swastikas versier
Foto: Wikipedia

RFB Konsulterende Argitekte was een van die kontrakteurs en restourasie het in Junie daardie jaar begin. Een van die eerste take was om die kloktoring en sy weerwaaier te herstel. Die rooi koper weerwaaier met ’n lokomotief aan die bopunt het in 1983 afgeval en is nooit gevind nie. Dit is met ’n replika vervang asook die horlosie, wat oorspronklik van gietyster gemaak is en 1,5 meter in deursnee was.


Heinrich Schliemann in 1866
Foto: Wikipedia

Terwyl die werkers bo-op die dak was, is die pragtige koper koepel vir die eerste keer in meer as 90 jaar skoongemaak en gepoleer. Dit is toe dat die ongewone ontdekking gemaak is – ’n swastika in reliëf bokant die horlosie.


Romeinse mosaïek in La Olmeda, Spanje
Foto: Wikipedia

Die ontdekking is deur Anton Jansen gemaak – bewaarder, geskiedkundige en spesialis restoureerder van geskiedkundige geboue, wat in 1968 op ’n kleinhoewe genaamd Belofte op Rietfontein in die Bronberg-gebied ingetrek het.

Anton was ten tye van dié ontdekking voorsitter van die Simon van der Stel-stigting, Pretoria. Hy het later hoof uitvoerende beampte van die Tshwane-geboue-erfenisvereniging geword.


Ingang na ’n Balinese Hindoe-tempel
Foto: Wikipedia

Swastika
Vandag ken ons die swastika as simbool van die Duitse Nazi-party, wat dit as embleem gebruik het. Min mense weet dat die gebruik van dié simbool oeroud is. Die oudste swastika-simbool waarvan navorsers bewus is, dateer uit 10 000 vC en behels ’n ingewikkelde kronkelpatroon van swastikas op ’n laat paleolitiese beeldjie van ’n voël wat uit mammoet-ivoor gekef is. Dié beeldjie is in Mezine in die Oekraïne gevind en daar word bespiegel dat hy selfs uit 17 000 vC kan dateer.


’n Hindoe-tempel, Garh Ganesh, in Rajasthan, Indië
Foto: Wikipedia

In die berge van Iran is daar swastikas op klipmure wat na raming ouer as 7 000 jaar is. Spieëlbeeld-swastikas is op keramiek in die Devetashka-grot in Bulgarye gevind en is as 6 000 vC gedateer.

In Asië verskyn swastika-simbole rondom 3 000 vC in die argeologiese rekords in die Indus-vallei bevolking. Die simbole verskyn ook in die brons- en ystertydperk-kulture rondom die Swartsee en Kaspiese See.


’n Swastika op ’n tempel in Korea
Foto: Wikipedia

Simbool
In Persië se Zoroastriese geloof was die swastika ’n simbool van die draaiende son, ewigheid of voortdurende skepping. Dit is ook een van die mees algemene simbole op Mesopotamiese muntstukke. Sommige navorsers dink dat die swastika vanaf die Indiese subkontinent weswaarts na Skandinawië, die Skotse Hooglande en ander dele van Europa beweeg het. In Engeland is Neolitiese of bronstydperk-klipsnywerk van dié simbool op Ilkley Moor gevind.

Swastikas is ook op potskerwe in argeologiese uitgrawings in Afrika in die gebied van Koesj en op pottebakkerswerk by die Jebel Barkal-tempels gevind. Dit kom ook voor in ystertydperk-ontwerpe van die noordelike Kaukasus, in Neolitiese China en in die Majiayao-kulture. Swastikas is ook in die Koptiese tydperk in Egipte gebruik.


Dié mosaïek swastika is in ’n Bisantynse kerk in Israel oopgegrawe
Foto: Wikipedia

Woord
Die woord ‘swastika’ het ’n Sanskrit herkoms: ‘su’, wat ‘goed’ beteken; ‘asti’, wat ‘dit is’, ‘daar is’ of ‘om te wees’ beteken; en ‘ka’ wat ‘maak’ beteken. Saam dui dit op ‘die maak van goedheid’ of ‘merker van goedheid’.


Pretoria-stasie in vervloë dae
Bron: South African Builder

Die woord ‘swastika’ is in 1871 met die publikasie van die Duitser, Heinrich Schliemann, se werk in Europese literatuur opgeneem. Heinrich het in 1868 na Ithaca, Griekeland gegaan met die doel om die antieke stad Troy te vind deur Homer se ‘Iliad’ as riglyn te gebruik. Mense het gedink dat dié gedig ’n mite was, maar Heinrich het Troy so gevind en ook die oorblyfsels van antieke beskawings wat voor en ná Troy gekom het.


Die petroglief met swastikas in die Geghamberge, Armenië, 8 000 – 5 000 vC
Foto: Wikipedia

So het Heinrich meer as 1 800 antieke voorbeelde van swastika-simbole met sy uitgrawings naby die Egeïese See gevind. Daarna het hy aanhou swastikas vind met sy reise deur die wêreld – van Tibet tot Paraguay en Afrika se Goudkus.


’n Swastika op ’n Griekse muntstuk uit Korinthe, sesde eeu vC
Foto: Wikipedia

Politiek
In 1891 het die Duitse skrywer, Ernst Ludwig Kraust, die swastika na die politieke arena van Duitse nasionalisme gebring, terwyl hy dit steeds met Helleense en Vediese onderwerpe verbind het.

‘Arianisme’ was voorheen ’n linguistiese term wat die Indo-Europese taalgroep beskryf het. Met die belangstelling in eugenetika in die laat 19e eeu is dié term verander in ’n beskrywing van ’n antieke ‘meesterras’ met ’n duidelike lyn na Duitsland.


’n Swastika by die Middeleeuse toringboog in Khimoy, Tsjetsjnië
Foto: Wikipedia

Dit het gou die basis van ’n nuwe etnisiteit geword met die swastika as simbool van sogenaamde Ariese meerwaardigheid. Duitse groepe soos die Reichshammerbund en die Bavarian Freikorps het die swastika gebruik om hulle ‘nuutgevonde’ identiteit as meesterras uit te beeld.

Hitler het die swastika as simbool vir die Nazi-beweging gekies en ná die Tweede Wêreldoorlog is dié simbool verag en op baie plekke verban. Tog is dit vandag nog ’n simbool vir goddelikheid en geestelikheid in Indiese gelowe soos Hindoeïsme, Boeddhisme en Jaïnisme. Dit het ’n simbool van voorspoed in lande soos Nepal, Indië, Thailand, Mongolië, Sri Lanka, China en Japan gebly en word steeds in Hindoe-trouseremonies gebruik.

 

© 2025 Die/The Bronberger