Het jy gehoor? / Have you heard? - Jan 2010 PDF Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Thursday, 21 January 2010 10:05
Untitled Document

Mooiklowers en motoriste was erg omgekrap oor die stinkende stroom riool wat iewers by Mooikloof Ridge ontspring het en langs Garstfonteinweg in ’n westelike rigting gevloei het. Dit was ’n geval van motorruite dig toe hou en asem ophou. Ons wonder hoeveel inwoners is bewus van ’n soortgelyke geval waar die oorsprong by ’n perseel in Mooikloof is en die stinkende stroompie al langer as ’n jaar sporadies langs Atterburyweg-verlenging afloop . . .

xxx

Riaan Taylor het laat weet dat RLU sekuriteit in samewerking met Conserv Kleinfontein op Sondag 20 Desember ’n verdagte gevang het danksy inligting van plaaswerkers dat mense in die bos skuil by Rhino Park. Met die hulp van RLU se honde is verdagtes gevang en ’n Toyota Land Cruiser, wat die Saterdag voor dit in Brits gesteel is, is in die bosse gevind.

xxx

Knap ná die artikel in Die Bronberger het hulle ook die voorreg geniet om ’n jong piet-my-vrou in die tuin vir sowat ’n week daagliks te kon sien, sê Dries en Sarie Herbst van Bashewa. Dit is ’n jong voël en dit was baie interessant om te sien hoe ’n Jan Frederik langs die groot piet-my-vrou op ’n tak kom sit en haar op die borsie pik. Die Jan Frederik is seker die pleegouer. Die piet-my-vrou het toegelaat dat ’n mens tot so naby as drie meter vanaf die tak waarop sy gesit het kon kom. Een dag het sy selfs op die rugleuning van ’n houtbankie op die braaidek digby die huis se skuifdeur kom sit.

xxx

Pieter Snyders het laat weet dat die aansoek vir ’n prospekteerderslisensie op gedeeltes 10, 11, 51 en 129 van die plaas Rietfontein 366 JR, lêer nommer 30/5/1/1/2/511, deur die Departement van Mineraal en Energiesake afgekeur is. Die applikant sal ’n nuwe aansoek moet indien as hulle steeds in dié omgewing wil prospekteer. In Maart verlede jaar het ons berig dat inwoners en bewaringsorganisasies erg ontstig is oor die aansoeke van vier mynmaatskappye, Rio Tinto, Vhashokane Minerals, Golden Diamond en African Compass Trading, om te prospekteer vir bykans alle minerale wat in Suid- Afrika ontgin word. Die gebied wat geraak word strek van net suid van Rayton af en sluit onder meer die Cullinan-Rietfontein bewarea, Renosterfontein, Kleinfontein, Tweedracht en Kleinzonderhout in.

xxx

Dit lyk of die berigte van grootskaalse grondeise die ore van ’n paar ongeduldiges in die Zwavelpoort- gebied bereik het en of hulle meen die sukses van die eise behoort ’n uitgemaakte saak te wees. Op dié verkeersteken langs die Zwavelpoort-teerpad het een ongeduldige met geel verf uitgespel wie hy/sy dink die eienaars van die grond is. Dis onwaarskynlik dat die huidige, wettige eienaar op dié manier sou wou aantoon dat dit ‘our land’ is.

xxx

’n Tydelike hulpsentrum is by Kungwini se Shere-kantore daargestel om inwoners met munisipale rekening-probleme by te staan. Dié stap is deel van die skikkingsooreenkoms tussen Kungwini Plaaslike Regering en die Kungwini Wes Alliansie wat inwoners in Wyke 1, 2 en 3 verteenwoordig. Personeel sal glo op die hoogte wees met die bepalings van die skikkingsooreenkoms. Verder sal pamflette versprei word by sentrale punte wat duidelikheid sal gee oor hoe die tariewe uitgewerk is. Andre van der Walt, raadslid vir wyk 2, beskou die verwikkeling as ’n positiewe stap in die verbetering van verhoudings tussen inwoners en die stadsraad. Die sperdatum vir die 30% afslag is 12 Februarie. ’n Spesifieke telefoonnommer en e-pos adres was ongelukkig nie beskikbaar met Die Bronberger se saktyd nie. Die inligting behoort wel beskikbaar te wees op www.ido2.co.za. en www.kwa.co.za.

 

© 2019 Die/The Bronberger