Die gif van perdebye kan gesondes laat sterf en siekes genees Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 20 March 2025 08:00
Untitled Document

Die aggressie van perdebye het verlede jaar groot nuus gemaak toe die 63-jarige Elsabe Juyn, ’n regsassistent en direkteur van die Patriot vir Minderhede-beweging, op die gesin se plaas in die Dinokeng-gebied dood is. ’n Swerm perdebye het haar getakel en haar man, Marius Coertze, ’n prokureur, het tevergeefs mond-tot-mond asemhaling toegepas.

Die kenners sê dat ’n perdeby ’n mens gewoonlik net steek wanneer hy bedreig voel of as jy naby sy nes kom. Anders as bye, kan perdebye meer as een keer steek en die gesteekte plekke kan vanweë die gif opswel. Mense wat vir die gif allergies is, kan flou word, nie asem kry nie en blase op hulle vel kry.

Die Duitse perdeby, Vespula germanica, ook bekend as die geelbaadjie-wespe, is ’n indringerspesie in Suid-Afrika wat hulle kartonagtige neste ondergronds maak. Hulle hou ’n bedreiging vir plaaslike insekte, soos heuningbye, in. Dié aggressiewe perdebye was ook in die nuus toe hulle boere in die Wes-Kaap verhinder het om hulle oeste van druiwe en vrugte te pluk.


Vespula germanica
Foto: Wikipedia

Soorte
Daar is meer as 30 000 verskillende soorte perdebye en die horde wetenskaplike klassifikasies sal ’n leek gewis verwar. ’n Mens kan maar sê dat as ’n vliesvlerkige ’n smal middellyf en ’n angel het en as hy ’n nes bou, hy as ’n perdeby tel. Volgens wukihow.com gaan die oorgrote meerderheid spesies nie daadwerklik probeer om jou te steek nie.

Die drie hoofkategorieë sluit sosiale perdebye, alleenlopers en parasitiese perdebye in. Sosiale perdebye woon in ’n kolonie van honderde individue. Die oorgrote meerderheid perdebye is egter alleenlopers. Parasitiese perdebye is gewoonlik ook alleen, maar gebruik hulle angels om eiers in prooi te lê.

Die kenners sê jy moet na die nes kyk as jy wil weet met watter soort perdeby jy te doen het. Dit moet jy natuurlik van ’n veilige afstand af doen, want perdebye sal aanval as jy te naby aan die nes kom.

Nes
Die aggressiewe Duitse perdeby maak sy nes op die grond; dan is daar ondergrondse neste en neste in boomtoppe, op vensterbanke en oorhangende dakke wat deur die Saksiese en middelwesp gemaak word. Daar is selfs koekoeke wat ander perdebye se neste gebruik.

Wukihow.com sê dat ‘papierperdebye’ se neste lyk of dit van papier gemaak is, ‘geelbaadjies’ se neste lyk soos hopies rots met heuningkoeke op en nog ’n paar ander alleenlopende modderbouers bou kleiner strukture uit modder.

Sosiale perdebye se voedsel bestaan uit suikers en proteïene. Die volwassenes kry suikers uit vrugte, boomsap en blomnektar. Die larwes het meer proteïene nodig en word in hulle selle deur werksters, wat insekte en stukkies vleis uit karkaste vir hulle bring, gevoer. So kry hulle vloeibare kos (uit die werkster se krop) en vaste kos.

Die larwe kan terselfdertyd ook ’n vloeistofdruppel met hoë voedingswaarde uitskei wat die werksters inneem. Die werksters voed nie net die larwes nie, maar ook die koningin, mannetjies en jong werksters.


’n Papiernes
Bron: Skermgreep van video

Voordele
Volgens Seirian Sumner hou perdebye baie voordele vir die mensdom in en een daarvan is plaagbeheer, omdat hulle ’n verskeidenheid ongewerweldes, van kakkerlakke tot vlieë, jag. Perdebye as ’n groep is belangrik vir die handhawing van gebalanseerde ekosisteme.

Sosiale perdebye is opportuniste, wat ’n verskeidenheid prooi jag, maar alleenlopende perdebye is spesialis-roofdiere en het ’n groot potensiaal as bio-beheermiddels. Seirian sê dat daar vreemd genoeg net vier soorte alleenlopende perdebye in die handel vir biologiese pesbestryding beskikbaar is. Sy sê dat die mensdom op soek moet wees na meer volhoubare benaderings tot die landbou as skadelike chemikalieë.

Seirian skryf dat perdebye bestuiwers is en dat sommige plante – 164 plantspesies in ses families – heeltemal van perdebye afhanklik is vir bestuiwing. Die meeste hiervan is orgideë wat ontwikkel het om vroulike perdeby-feromone na te boots. Sommiges lyk selfs soos die agterkant van ’n perdeby.


’n Moddernes
Bron: pestcontrolhacks

Antibiotika
Seirian sê dat die gif van die alleenlopende en sosiale perdebye antibiotika bevat, wat hulle prooi vars en siektevry hou. Die larwesafskeidings van sosiale perdebye is ook ryk aan antimikrobiese middels, wat die werkers oor hulle lywe smeer en in nesmaak gebruik. Baie van dié middels het potensiële voordele vir menslike gesondheid omdat dit siektes, wat deur bakterieë veroorsaak word, bestry.

Sy sê dit werk spesifiek goed teen Mycobacterium abscessus, ’n bakterie wat weerstandig teen baie soorte antibiotika is. Perdebyneste het ook antibiotiese eienskappe wat Streptococcus mutans, ’n bakterie wat met tandbederf verband hou, bestry.

Volgens Seirian neem die alleenlopende modderbouers noodsaaklike minerale in hulle klei-neste in, wat dit ryk bronne van yster, sink, magnesium en kalsium maak. Dit is hoekom kinders en swanger vroue in dele van landelike Afrika aan dié neste smul.

Sy sê dat die opwindendste mediese potensiaal van perdebye iets genaamd ‘mastoparan’ is. Dit word in die gif van sosiale perdebye gevind en is ’n familie van amfipatiese peptiede wat by voorkeur kankerselle bo gesonde selle teiken. Seirian sê egter dat dit nog nie prakties toepasbaar is nie.

 

© 2025 Die/The Bronberger