|
Angie Kleijn
’n Treffende foto van vier immigrante-broers in Pretoria het ’n Hollandse navorser se nuuskierigheid so geprikkel dat sy in argiewe begin rondkrap het om uit te vind wie dié broers was en hoe hulle in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) beland het.
Die enigste broer wat in die ZAR agtergebly het, se lewensverhaal is nou vervleg met dié van die republiek se eerste museum en die eksentrieke mediese dokter wat die Pretoriase Dieretuin gestig het.
 Die Swierstra-broers in 1899 in Pretoria, van links na regs: Nanne Johannes; Bartholomeus Nicolaas; Tjerk Johannes; en Cornelis Jacobus Bron: digidoka: Geri van den Boom
Geri van den Boom vertel dat sy ’n hele ou foto-album op ’n aanlyn-veiling gekoop het om die foto van die vier broers in Pretoria in haar besit te kry. Die album het eens aan Johannes Nannes Swierstra (1835), ’n timmerman van Friesland, en sy vrou Joukje, ’n nooi Meijer, behoort. Die gesin het in 1887 na Amsterdam verhuis en ’n winkel in tee, koffie en kakao oopgemaak. Hulle het ses seuns gehad en die eerste seun wat na die ZAR vertrek het om daar as entomoloog te gaan werk, was Cornelis Jacobus Swierstra. Drie ander broers – Nanne Johannes, Bartholomeus Nicolaas (Bart) en Tjerk Johannes – het Cornelis gevolg en tussen 1896 en 1898 vertrek.

Personeel van die Transvaal-museum in Maart 1909. Agter, van links na regs: Thomas Jenkins; Alwin K Haagner (superintendent van die Nasionale Dieretuin), Fred O Noome (taksidermis);
en AS Kea. Voor, van links na regs: M Collins; Cornelis Swierstra (assistent direkteur);
dr Jan Willem Boudewijn Gunning (direkteur); R Leendertz (botaniese assistent); en S Viljoen Bron: Wikimedia
Broers
Geri se navorsing wys dat Nanne Johannes waarskynlik reeds in die land was toe sy vrou en hulle kind in 1903 na Britstown in die Noord-Kaap vertrek het. Sy kon niks oor Nanne in die Suid-Afrikaanse argiewe opspoor nie, maar hy het in 1912 weer saam met sy gesin in Heerlen, Holland opgeduik. Hy was ’n lid van die behuisingsvereniging, Eigen Haard, en was ’n boekhouer by die spoorweë.
Bart het Pretoria reeds in 1900 verlaat. Hy is terug Amsterdam toe waar hy as munisipale beampte in die openbare werke-afdeling aangestel is. Hy was vir die herstel en onderhoud van hawes en brûe verantwoordelik en het van klerk tot hoofklerk en later bevelvoerder gevorder.
 Tjerk Swierstra Bron: digidoka: Geri van den Boom
Tjerk is in 1896 agter Cornelis aan Pretoria toe. Hy was glo net ’n klein rukkie daar en wou nie in die ZAR woon ná die Britte dit oorgeneem het nie. Vanaf 1914 het hy by adjunk-kommissies in die Amsterdamse munisipaliteit gewerk en was ’n administratiewe beampte, meestal werksaam by die doeane of belastingdienste.
Cornelis, die broer wat in Pretoria agtergebly het, is op 22 Oktober 1873 in Amsterdam gebore toe sy familie in Doustraat, Gerard 120 gewoon het. Hy het entomologie by die Universiteit van Amsterdam studeer en het in 1894 Pretoria toe getrek. In 1896 het hy by die Staatsmuseum onder die eerste voltydse direkteur, dr Jan Willem Boudewijn Gunning, begin werk.
 Kantoor van die Amsterdamse bevelvoerder van Openbare Werke: hawes en brûe Bron: digidoka: Geri van den Boom
Dr Gunning Dr Gunning is op 3 September 1860 in Hilversum, Noord-Holland as die tweede seun van die bekende Hollandse teoloog, Johannes Hermanus Gunning, en sy vrou, Johanna Jacoba, gebore. Jan het as mediese dokter aan die Universiteit van Amsterdam, Leiden-universiteit en Jena-universiteit gekwalifiseer.
Hy het in 1884 ’n mediese praktyk in die Oranje Vrystaat oopgemaak. Daar het hy op 10 November 1884 met Susanna Neethling getrou. Hulle het Kaap toe getrek waar hy as mediese dokter praktiseer het tot hy in 1897 as die eerste direkteur van die Staatsmuseum in Pretoria aangestel is, ’n pos wat hy tot sy afsterwe op 26 Junie 1913 gevul het.
 Cornelis Jacobus Swierstra op ’n later ouderdom Bron: s2a3.org.za/bio
Die Staatsmuseum is in 1892 deur Willem Johannes Leyds gestig en was aanvanklik in ’n kamer langs die kloktoring op die boonste vloer van die ou Raadsaal op Kerkplein. In 1894 het die regering die museum na ’n gebou by die Pretoriase varsproduktemark, min of meer waar die Staatsteater vandag is, geskuif.
Dié gebou het gou te klein geword om die versamelings te huisves en in Desember 1898 het die regering besluit om ’n nuwe gebou in Boomstraat te bou. Die argitek was Sytze Wopkes Wierda en dr Nicolaas Mansvelt het die hoeksteen op 22 Julie 1899 gelê.
 Cornelis Jacobus Swierstra in1909 Bron: Wikimedia
Oorlog Die Anglo-Boereoorlog het op 11 Oktober 1899 uitgebreek en die bouproses is onderbreek. Intussen is ’n groeiende aantal dieretuin-diere in die agterplaas van die museum by die varsproduktemark gehuisves.
As direkteur van die Staatsmuseum, het dr Gunning inwoners naby aan die museum gevra om oor die geraas en reuk van die diere in die museum se agterplaas te begin kla. Hy het toestemming gekry om sy diere na die perseel in Boomstraat te skuif en die eerste diere het op 21 Oktober 1899 ingetrek.
Cornelis, die Swierstra-broer wat onder dr Gunning gewerk het, het dié trek nie meegemaak nie. Hy het in 1899 ’n ZAR-burger geword en is in Oktober daardie jaar vir militêre diensplig in die Hollandse Korps opgeroep om in die Anglo-Boereoorlog te gaan veg.
 Dr Jan Willem Boudewijn Gunning Bron: Wikimedia
Toe die Britte Pretoria op 5 Junie 1900 ingeneem het, was die museumgebou amper klaar en die onvoltooide gebou is deur die Britse magte as kantore gebruik. Dr Gunning het versoek dat Cornelis in sy pos by die museum heraangestel word en in September 1900 was Cornelis vir die entomologiese, etnografiese en geskiedkundige versamelings verantwoordelik.
Die museumgebou is uiteindelik in 1902 voltooi en die amptelike opening met volledige uitstallings was op 15 Desember 1904.
 Die Transvaal-museum oorkant die stadsaal Bron: Wikimedia
Trou Intussen is Cornelis met Niesje, ’n nooi Kwak, getroud. Dit was op 8 Mei 1900 of 1901 in Pretoria. Niesje is op 4 Maart 1879 in Amsterdam as die dogter van Jan Kwak en sy vrou, Willempje Posch, gebore.
Cornelis en Niesje het ’n seun en dogter gehad, Joukje Gezina (Geonsina) en Cornelis Jacobus. Niesje het Cornelis se belangstelling in insekte gedeel en teen die einde van 1906, die jaar toe Cornelis assistent-direkteur van die museum geword het, het sy ’n hele aantal kewers, skoenlappers en motte vanuit die Pretoria-distrik aan die museum geskenk. In 1908 het sy weer insekte uit verskeie ordes, wat sy in die omgewing versamel het, geskenk.
 Die vervalle ou museum op die dieretuin-perseel Bron: artefacts.co.za – Annelise Lange
In Januarie 1908 het Cornelis ’n stigterslid van die Transvaalse Biologiese Vereniging geword en later, in 1916, ’n stigterslid van die verenging wat dit opgevolg het, die Suid-Afrikaanse Biologiese Vereniging.
Hy was in 1906 en weer vanaf 1915 ’n lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die Bevordering van Wetenskap. Cornelis het in 1908 ’n lid van die Royal Society of South Africa geword en in herkenning van sy werk met insekte is hy as ’n genoot van die Royal Entomological Society aangestel.
 Dr Nicolaas Mansvelt lê die hoeksteen van die Staatsmuseum op 22 Julie 1899 Bron: artefacts.co.za, bygedra deur Lila Komnick uit ‘Collections of the Library of Parliament’
In 1909 het Cornelis sy ‘Check list of Lepidoptera-Rhophalocera of the Transvaal, with notes on some species’ in die ‘Annals of the Transvaal Museum’ Vol.1(4) gepubliseer. Sy ander bydraes het gegaan oor rotsgraverings in die Transvaal (1909), beskrywings van drie nuwe skoenlapperspesies (1909) en oor die museumdirekteur, dr HG Breijer, se skoenlapperversameling vanuit Mosambiek (1915).
 Die ou museum se hoofingang in Boomstraat Bron: artefacts.co.za met dank aan Vriende van Tshwane Erfenisnavorsingsentrum
Tragedie Tragedie het getref toe Cornelis se geliefde Niesje op 30 Julie 1911 in Pretoria oorlede is. Sy was maar 32 jaar oud. Die jaar daarna het Cornelis met Antonia Johanna Franken getrou, saam met wie hy ook ’n seun en dogter gehad het: Johan Leendert en Margaretha Elisabeth Anna. Cornelis en Antonia is in 1933 geskei.
Cornelis was van 1922 tot sy aftrede in 1946 die Transvaal-museum se direkteur en is in 1936 as die eerste president van die Suid-Afrikaanse Museumvereniging aangestel. Hy is op 11 Maart 1952 in Pretoria oorlede. ’n Rare voël, Pternistis swierstrai, endemies aan Angola, is na hom vernoem.
 Die museum by die ou varsproduktemark Bron: Pretoria Historia
Museum Wat het oor die jare met die ou museum by die dieretuin gebeur? Teen 1930 is historiese, etnografiese en argeologiese versamelings daar uitgestal. Die meeste versamelings is geskenk en die naam van die skenker was deel van die uitstalling.
Teen 1952 het die museum met ’n volledige Voortrekker kultuurhistoriese uitstalling gespog. Die Anglo-Boereoorlog versameling is in 1972 bygevoeg.
 Die verflenterde ‘museum’-bord by die ou Staatsmuseum Bron: dutchfootsteps.co.za
Die ou museum, wat toe as die Nasionale Kultuurhistoriese Museum bekend gestaan het, is in 1991 as hoofkantoor toegemaak. Uitstallings in die oostelike deel is daardie jaar erg beskadig toe ’n pyp gebars het. Nog ’n pyp het in Julie 1992 gebars en onherroeplike skade is aangerig.
Op 1 April 1999 is die ou museum met verskeie ander museums, soos die Transvaal-museum, verenig in die omskepte ou Munt oorkant die stadsaal. Die Transvaal-museum is in April 2010 na die Ditsong Nasionale Natuurhistoriese Museum hernoem.
|