Ses ure om donkie uit septiese tenk te kry Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 17 April 2025 08:00
Untitled Document

Reddingswerkers van Tshwane-metro se nooddienste het ses ure lank gestoei om ’n donkie uit ’n septiese tenk op Bashewa te red.


Die donkie onder in die septiese tenk
Foto’s: Tshwane-metro nooddienste

Die noodroep het op 12 Maart net voor 5 nm ingekom en personeel en hulpbronne, insluitend ’n brandweerwa, watertenkwa en tou-reddingseenheid, van Erasmuskloof- en Innesdale-brandweerstasie is na die kleinhoewe uitgestuur.


Die uitgrawings

’n Groot betonblad bo-oor die tenk moes eers versigtig verwyder word voor die donkie gered kon word. Een van die bure het ’n trekker-laaigraaf gestuur om die blad te lig en die reddingswerkers het loopgraaf-reddingstegnieke gebruik om ’n skuins gang langs die tenk se betonmuur te grawe sodat hulle by die donkie kon uitkom. Die proses is deur groot klippe, wat in die pad was, bemoeilik.


Die trekker-laaigraaf lig die betonblad

Die slyk in die septiese tenk moes verwyder word. Emmers, wat aan toue vasgemaak is, is neergelaat om die slyk boontoe te bring. Eers teen 10 nm kon die reddingswerkers bande om die donkie se agter- en voorpote gebind kry sodat hy stadig met die trekker-laaigraaf uit die tenk gelig kon word.


Die son het reeds gesak terwyl die werkers aanhou grawe

Die donkie is met ’n wateroplossing ontsmet en die reddingswerk is teen 11 nm afgehandel. Donkie se kind het geen beserings opgedoen nie.


Die slyk moes met emmers verwyder word


Bande is om die donkie se agter- en
voorpote gebind

 

© 2025 Die/The Bronberger