Van reën gepraat . . . Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 17 April 2025 08:00
Untitled Document

Van reën gepraat . . .
In ’n watergaatjie op een van die Kalahari se verbruikersvriendelike klein dorpies bestel ons iets om die langpad se dors te lawe.

Ons is die enigste klante in die plek. Die kroegman, kom kok, kom eienaar van die kroegie stel homself voor as Jannie – skud behoorlik blad soos dit hoort. “Lekker gereën, nê,” val hy weg so al asof ons ou vriende is.

Die Duitse hopsdrankie in my hand lê nog nie eers halfmas in die glas nie toe weet Jannie reeds bykans alles van ons af en ons weet heelwat oor hom. Jannie was al die jare polisieman op die dorp voor hy die kuierplek aangeskaf het en hy het ’n plaas hier deuskant naby die Boesmangat.

’n Omie in kakieklere kom in, neem plaas op ’n kroegstoeltjie en plak sy hoed met ’n regte luiperdvelband op die toonbank neer. Die hoed het skaars grond gevat of ’n koue produk van die SAB verskyn langs dit. Jannie stel ons voor aan oom Tiens en daar word weer blad geskud,

“Lekker gereën, nê oom Tiens,” hef Jannie weer aan.

“Gereën, sê jy, gereën? Dit reën mos g’n niks daar op my plaas nie. Nooit g’n niks nie,” sê oom Tiens ewe driftig.

“Maar oom Tiens,” antwoord Jannie, “ek het dan vroegoggend daar langs gery om vir Jonim te loop haal om met die pleisterwerk te kom help en ek het amper vasgesit in die modder op oom se pad.”

“Gumf!” laat hoor oom Tiens verontwaardig. “Dan moet dit seker maar die buurman se afloopwater wees.” Gerhard Kleijn – Februarie 2006.

Agterkant
Gert Mossie vertel dat die enigste kuierplekkie op die baie klein plattelandse dorpie van sy jongdae ’n erg pittige kroegman met die naam van After gehad het. Eintlik was sy naam Arthur, maar dit het te moeilik op die plaaslike tong geval en hy word toe sommer After.

Op ’n dag stap ’n deftige vreemde kêrel met pakkie suit en das en sokkies en al die kroeg binne en bestel ’n uitheemse, duur soort drankie. “Nee, hy het nog nooit van so ’n ding gehoor nie, wat van ’n brêndie en Coke?” vra After.

Die deftige vent vervies hom en sê: “Hierdie is regtig die gatkant van die aarde.”

“Haai siestog,” sê After, “en jy beweeg seker net hier deur.” Gerhard Kleijn – April 2004

 

© 2025 Die/The Bronberger