Het jy gehoor? / Have you heard? - Feb 2010 PDF Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Wednesday, 24 February 2010 08:22
Untitled Document

Nog ’n muur in Zwavelpoort het in die slag gebly toe ’n sekere jonge dame vroegoggend vir ’n groepie spelende blouapies in Achillesweg uitgeswaai en dwarsdeur die muur gejaag het. Sy het beheer oor haar motor verloor ná sy in die grondwal langs die varsgeskraapte pad vasgery het. Verlede maand het ’n motoris deur Mooikloof se noordelike muur gery.

xxx

Andria Cronje se volgende kruiewerkswinkel is op 13 Maart, en sy gee graag ’n gratis werkswinkel weg vir ’n gelukkige Bronberger-leser. Stuur ’n e-pos met “Bronberger-kruie-wenner” as onderwerp, gevolg deur jou naam en kontakbesonderhede na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

xxx

Ons hoor Joost van der Westhuizen gaan die aanbieder wees by die kroning van Cullinan se mej Groot Gat Godin. Het die organiseerders van die Groot Gat fees dalk op Joost besluit omdat hy self die konsep ‘groot gat van jou maak’ so goed verstaan?

xxx

In ’n onderafdeling van die Wet op Rusverstoring word gemeld dat nie net geraas nie, maar ook stank tot rusverstoring kan lei. Nou volg dit dat ’n ou kan praat, solank jy net sag praat en ook net nie iets onwelriekends praat nie.

xxx

Die volgende Goliat van Gat Fees vind plaas op 20 Maart by die Pioniersmuseum terrein, Silverton. Die afdelings waarin jy kan wen sluit die volgende in: grootste pampoen, mooiste pampoen en lelikste pampoen. Vir meer inligting bel vir Henri Combrink by 082-552-9428.

xxx

Zwavelpoort se witkruisarende is na jare se afwesigheid vroeg in Februarie weer gesien. Dié arende moes ander blyplek soek nadat ontwikkeling teen die hange van die Bronberg te naby aan hul nes op die rotse begin kom het.

xxx

Die vrou kom sit langs my waar ek besig was om TV-kanale met die afstandbeheer te wissel. Sy vra: “Wat is op die TV?” “Stof,” antwoord ek - en toe begin die moeilikheid . . .

xxx

Gedeeltes van Zwavelpoort het vir twee dae, op 3 en 4 Februarie, sonder krag gesit. Zwavelpoorters wat so gelukkig is om nie aan die nare Telkom Dect telefoonstelsel verbind te wees nie, ondervind egter gereeld kabeldiefstal. Sommige inwoners het besluit om self hul kabels te herstel – iets wat Telkomwerkers eers twee maande later uitgevind het toe hulle uiteindelik opgedaag het om die herstelwerk te doen.

xxx

Diegene wat probeer het om Die Bronberger se kantoor rondom die middel van Februarie, ongelukkig reg in die sperdatumtyd, te bereik sou die foon net hoor lui het. Die Telkom Dect-stelsel was weereens buite werking. Hopelik is dié probleem iets van die verlede as ons kantore skuif. Kyk uit vir ons nuwe kontakbesonderhede in die Maart-uitgawe.

 

© 2019 Die/The Bronberger