|
’n Roerende Netflix-film, ‘Pangolin: Kulu’s Journey’, is gemaak oor ’n jong ietermagog en die mens wat sy rehabilitasiepad saam met hom gestap het. Dié ietermagog is in September 2022 by die Jan Ellis-vulstasie op die hoek van die Ou Bronkhorstspruitpad en Cullinan/Rayton-pad (R515) uit die smokkelhandel gered.
Die fliek is op 21 April vrygestel en die rolprentregisseur is die Academy Award-wenner, Pippa Ehrlich, bekend vir Suid-Afrika se eerste oorspronklike dokumentêre Netflix-film, ‘My Octopus Teacher’.
 ’n Netflix-film, ‘Pangolin: Kulu’s Journey’ Foto: Netflix
Die 90-minute-lange film oor “die soogdier op aarde wat die meeste gestroop word” volg Kulu se verhaal oor ’n jaar en sewe maande tydperk en speel by die Lapalala Wildernis-reservaat in die Waterberge, Limpopo af.
Die ietermagog is meer bedreig as renosters, moeiliker om te beskerm en kan binnekort uitsterf as die stropery so aanhou. Daar is ’n oorweldigende groot mark vir ietermagog-skubbe in Asië, veral in Sjina, omdat daar geglo word dat die skubbe medisinale waarde het.
 Kulu met Gareth se beskermende hand sigbaar Foto: Netflix
Voorsitter van die nie-winsgewende organisasie, Afrika Ietermagog Werkgroep, Ray Jansen, ’n professor aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, het destyds gesê dat ietermagog-skubbe fyngemaal word tot ’n poeier en in verskeie kulturele medisinale en geestelike kure in Asië, veral in Sjina, gebruik word.
Ray het jare gelede reeds meer as 60 verskillende kommersiële produkte, wat dié poeier bevat, in Sjina geïdentifiseer. Die produkte word op industriële vlak in reuse hoeveelhede vervaardig en verkoop.
 Gareth Thomas en Kulu Foto: Netflix
Ray, wat in die Rayton-omgewing woon, het sy lewe verskeie kere reeds gewaag om lokvalle vir ietermagog-smokkelaars te stel. Gareth Thomas, wat in die fliek saam met Kulu verskyn, het Ray ontmoet en ’n vrywillige ‘ietermagog-stapper’ geword. Hy was op 28 September 2022 saam met Ray toe Kulu by die Jan Ellis-vulstasie uit die smokkelhandel gered is en dit was die begin van die hartsverbintenis wat tussen Gareth en Kulu ontstaan het.
Ray het destyds vir Die Bronberger vertel dat inligting op 27 September ontvang is oor ’n individu, wat op soek was na kopers vir ’n ietermagog in sy besit. Daar is gereël dat die verdagte die potensiële koper (die agent) by die Jan Ellis-vulstasie ontmoet en hy is in hegtenis geneem.
 Kulu ry op Gareth se skouer in die Lapalala Wildernis-reservaat Foto: Netflix
’n Afdeling 252A magtiging is vooraf verkry wat agente toelaat om lokvalle te stel en geheime operasies uit te voer om oortredings te verhoed, te identifiseer of te ondersoek. Eenhede wat daardie dag betrokke was, het gestrek van CNI Binnelandse Dwelmhandel-hoofkantoor, die Ernstige Georganiseerde Misdaadondersoek-eenheid van Germiston, K9-eenhede van Pretoria en die Oos-Rand en die IUCN SSC Ietermagog Spesialisgroep.
Ná Kulu gered is, is hy by die Cullinan-polisiestasie ingegee, vanwaar hy vir mediese behandeling deur die Johannesburgse Veeartseny Hospitaal vir Wild gestuur is.
 Kulu Foto: Netflix
’n Ietermagog sal nie langer as twee weke ná hy gevang is lewe nie weens verhongering, stres en beserings. Stropers probeer om vir dié diertjies rys en brood te voer, maar hulle het nie ’n bewegende kakebeen nie en het geen tande nie. Hulle vreet net miere, maar sal nie dooie miere of kos wat hulle nie self gevind het, vreet nie.
Die Afrika Ietermagog Werkgroep was verantwoordelik vir Kulu, ’n Temminckse ietermagog, se rehabilitasie en vrylating. Dié werkgroep bewaar en beskerm al vier Afrika-ietermagog-spesies deur veeartsenybehandeling en rehabilitasie. Die vier spesies in Asië het al bykans uitgesterf en is as krities bedreig geklassifiseer.
 Kulu op 28 September 2022 by die Jan Ellis-vulstasie Foto: Verskaf
By die werkgroep se veilige hawe in die Lapalala Wildernis-reservaat word werkswinkels met wetstoepassingsowerhede en private sekuriteitsrolspelers gehou. Die groep ontwikkel ook vennootskappe en skep openbare bewusmaking en opvoedingsinisiatiewe. ’n Impak-veldtog volg na die vrystelling van die Netflix-film, wat Kulu in die harte van skoolkinders in Limpopo-gemeenskappe sal laat inkruip. Dié veldtog poog om verhoudings met gemeenskapsleiers, tradisionele genesers, boere en plaaslike organisasies te skep.
|