|
|
Angie Kleijn
Baie is bekend oor Erich Mayer, die landmeter, argitek en kunstenaar wie se magdom sketse en skilderye van toeka se plaasopstalle en geboue vandag die enigste bewys van vervloë volksboukuns is.
Veel minder is bekend oor sy vrou, Marga, wat hom gehelp het om sy ontwerpe – selfs vir reuse muurpanele – uit te voer. Dit is danksy haar dat hy ontwerpe vir pottebakkers- en weefwerk gedoen het. Hierdie is die verhaal van die dekade wat dié twee saam spandeer het.
Erich het in Augustus 1927, toe hy reeds in sy 50’s was, aan Margaretha Gutter verloof geraak. Eunice Lenore Basson skryf oor dié twee se gekompliseerde verhouding in haar proefskrif, ‘Die bydrae van Erich Mayer tot die vestiging van ’n estetiese bewussyn en die bevordering van ’n kunsidentiteit in Suid-Afrika tot aan die einde van die 1930’s’.

’n Portretfoto van Erich Mayer, geneem deur Sara Buijskes
Bron: Wikipedia
Marga is in 1898 as die oudste van 14 kinders in Nederland gebore. Sy het haar as huishoudkundige in Nederland bekwaam en het kort voor die Anglo-Boereoorlog saam met haar gesin na die Vrystaat getrek.
In 1926, ’n jaar voor sy Erich ontmoet het, het sy ’n pos by die huishoudkundeskool by Hartebeespoortdam aanvaar. Marga en Erich is vroeg in 1928 getroud en, in plaas daarvan om in ’n huis te gaan bly, het Marga se pa, ’n wamaker en smid, dié twee se eie ontwerp vir ’n karavaan op ’n motoronderstel gemonteer.

Marga Mayer-Gutter op 13 April 1976 by die herdenkingsuitstalling van Erich se werk
Bron: journals.co.za
Reis
Die plan was om vir twee jaar lank met dié karavaan dwarsoor die land te reis op soek na voorbeelde van kunshandwerk en ook sodat Erich ongestoord en vry in die natuur kon werk. Eunice skryf dat Marga en Erich grootliks van wild en voëls, wat hulle in die veld geskiet het, geleef het en groente en vrugte op dorpe waar hulle aangedoen het, gekoop het. Hulle het twee keer tot by die Limpoporivier gereis en in 1930 was hulle op ’n toer na Port Elizabeth. Van daar af is hulle vir nege maande met die tuinroete deur Knysna en George na Stellenbosch en Kaapstad.

’n Selfportret deur Erich Mayer
Bron: Strauss Art
Van Kaapstad af het hulle teen die Weskus opgereis, deur Namakwaland na Kakamas, Kimberley en Bloemfontein. Met dié en ander reise het Erich die sketse van geboue, wat vandag net in volksvertellings beskryf word, gemaak: van kapsteilhuise in Namakwaland en grasmat koepelhutte van die noordweste tot eenvoudige bosveldhuise.
Eunice sê dat Erich se swerwersgees hom heel moontlik van belangrike opdragte en groepuitstallings uitgesluit het en hom daarvan weerhou het om homself as ’n belangrike kunstenaar in die ontwikkelende kunswêreld te vestig.

Nog een van Sara Buijskes se portretfoto’s van Erich Mayer
Bron: Sara Helena Violet Buijskes
Erich
Erich Ernst Karl Mayer het in 1898 in Suid-Afrika aangekom. Hy is op 19 April 1875 in Karlsruhe in Duitsland gebore en het in Berlyn skoolgegaan. Daar was nie geld om kuns te studeer nie, maar hy het ’n beurs gekry om hom as argitek te bekwaam. In 1896 moes hy sy studies weens gesondheidsredes staak en omdat hy na ’n warmer klimaat op soek was, het hy twee jaar later op Vrede in die Vrystaat as landmeter begin werk.
Die Anglo-Boereoorlog het kort daarna uitgebreek en Erich het in 1899 by ’n Boerekommando aangesluit. In 1900 is hy by Mafikeng gevange geneem en het as krygsgevangene op St Helena beland, waar hy die skuilings wat die boere opgerig het, geskets het. Hy is ná die oorlog, in 1902, na Duitsland teruggestuur, maar het die winters van 1902 en 1903 in Tunisië, Noord-Afrika deurgebring. In 1904 was Erich terug in Suid-Afrika.
In 1907 en 1909 het hy kuns in Duitsland gaan studeer en in 1910 is hy permanent terug, eers in Port Elizabeth, toe op Potchefstroom en daarna in Pretoria waar hy as koerantkunstenaar gewerk het.
Toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek is die arme Erich weer gevange geneem en is byna twee jaar lank in Pietermaritzburg aangehou. Ná sy vrylating in 1916 het hy kunsuitstallings begin hou.

’n Brief wat Erich op 26 Maart 1953 vanuit Parklaan 712, Pretoria-Noord aan Sara Buijskes geskryf het om haar vir die portretfoto’s te bedank
Bron: Sara Helena Violet Buijskes
Pretoria
Ná Marga en Erich se huwelik en omswerwinge het hulle vir die eerste keer in 1931 ’n vaste adres in Pretoria bekom toe hulle ’n huis in Muckleneuk gehuur het. Eunice skryf dat Erich in die 1930’s vier belangrike amptelike opdragte ontvang het: ’n muurpaneel in die restaurant van die nuwe poskantoorgebou in Johannesburg; die mure van die Normaalkollege in Johannesburg se dameskoshuis-eetsaal; ’n muurpaneel vir die Hoërskool Krugersdorp; en die ontwerp van ’n tapyt vir die gebou van die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris in Londen.
Dié opdragte het vir die Mayers welkome finansiële verligting in die depressiejare van die 1930’s gebring toe hulle vir die eerste keer ’n eie huishouding opgesit het en nog baie huisraad en ander benodighede moes aanskaf.
Tog het die egpaar steeds finansieel gesukkel en moes Marga as welsynwerkster by die departement in Pretoria werk, terwyl Erich op plase gaan skilder het. Eunice skryf dat dit nie net Erich se brose longtoestand was wat hom in die winter bosveld toe laat gaan het nie. Sy sê hy het ontvlugting in sy skilderwerk gesoek, dikwels weg van sy huislike verantwoordelikhede as broodwinner.

’n Erich Mayer-skets van ’n plaas naby Nieuwoudtville
Bron: Ditsong Nasionale Kultuurhistoriese museum
Keramiek
In 1931 het Erich en Marga by die keramiekafdeling van Thomas Cullinan, bekend as direkteur van die Premier (Transvaal) Diamantontginningsmaatskappy, se ander aanleg, Consolidated Rand Brick, Potter and Lime Company Limited, betrokke geraak.
Gladys Short en Joan Methley het vanaf 1925 by dié Olifantsfontein-aanleg gewerk waar Thomas Cullinan ’n pottebakkery, Transvaal Potteries, begin het. Daar het Gladys en Joan ’n keramiek-ateljee bedryf en hulle het Marga in Pretoria besoek toe Erich op ’n plaas geskilder het.


Kookskerm en matjieshuis, Erich Mayer, 1930
Bron: Ditsong Nasionale Kultuurhistoriese museum
Marga was by verskeie kunshandwerkprojekte onder die armblankes in Pretoria en omgewing betrokke en Gladys en Joan het haar genader oor idees vir ’n eg Suid-Afrikaanse styl in die toegepaste kunste en kunsnywerheid.
Erich wou dadelik betrokke raak omdat duisende keramiekteëls met sy ontwerpe ’n bestendige inkomste sou bied. Van sy ontwerpe is aanvanklik in dié ateljee se ontwerpboeke opgeneem vir uitvoering op teëls en groter panele vir amptelike bou-opdragte.
In 1932 het Erich weer begin artikels skryf en illustrasies doen vir die tydskrif ‘Opsaal’. Hy het ook ’n kortverhaal gepubliseer wat hy self geïllustreer het en het ’n gereelde rubriek, ‘’n Praatjie oor kuns’, geskryf.

Erich Mayer se potlood en waterverf-werk van die Uniegeboue onder konstruksie in 1913
Bron: yumpu.com
Huwelik
Volgens Eunice het die soort bestaan wat Erich gevoer het nie werklik ruimte vir ’n bestendige huwelik of ’n standvastige vriendekring gelaat nie. Sodra daar druk op hom was om verantwoordelikheid vir sy vrou of huwelik te aanvaar, het hy weggestap soos die volgende inskrywing in Marga se dagboek, toe sy ná ernstige mangelontsteking aangesterk het, wys:
“Kort na sy vertrek, kry ek vanuit Potgietersrus ’n brief van Erich wat my grootste skok en ontsteltenis in my lewe was. Hy skryf dat deur my siekte het sy senuwees weer baie agteruit gegaan en sy skilderwerk ly daaronder. Hy dink dit sal beter wees as elkeen sy eie gang gaan. Ek was verpletter.”

’n Byekorf-tipe hut wat die wit Namakwalandse boere steeds in die eerste kwart van die 20ste eeu gebruik het – Erich Mayer-skets
Bron: Ditsong Nasionale Kultuurhistoriese museum
Eunice verduidelik dat Marga twee miskrame gehad het en tyd in die hospitaal spandeer het. Haar dagboekinskrywings sinspeel op ’n toenemende vereensaming in haar huwelik:
“Erich het in die bosveld of in die Vrystaat op plase van vriende gaan skilder. Hier het hy goeie versorging gekry en kon met ’n skildery vir sy losies vergoed . . . Gedurende 1932 het ek elke dag heen en weer na die ou Tivoli-gebou geloop en het van £1.10 die week gelewe! Ek kan nie ons huis sluit nie. Ek moet daar wees as Erich nou en dan huis toe kom.”

Die kapsteil-struktuur regs en die koepel-struktuur links – Erich Mayer-skets
Bron: Ditsong Nasionale Kultuurhistoriese museum
Weefskool
Marga het die Pretoriase Spin- en Weefskool in 1933 in Pretoria tot stand gebring. Dié weefskool is uit nood gebore omdat daar soveel werklose blanke vrouens was wat vanaf 1932 op ’n ongereelde grondslag by die kunshandwerkprojekte wat Marga bestuur het, betrokke was.
Marga het ’n spinwiel in haar woonkamer gehad en haar aanvanklike idee was om handgespinde breiwol teen ’n laer prys as masjiengespinde wol te bemark om vir werklose vrouens ’n inkomste te bied. Sy het briewe aan verskeie sendingstasies, waar daar dalk ou weeftoerusting kon wees, geskryf en het die oorblywende Emily Hobhouse-weefskole asook die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie, die Rooi Kruisorganisasie en die Benevolent Society vir hulp en toerusting genader.
Marga se weefskool het gegroei, sy het komiteelede gewerf en die generaal van die Unie se vrou, burgemeestersvrou en ander belangrike vrouens in Pretoria het op die komitee gedien. In 1933 het die sekretaris van die departement van arbeid tien sjielings ’n week aan elke weefster bewillig en 12 weefsters het na die ou hospitaalgebou in Potgieterstraat verhuis.

’n Huisie in die Soutpansberg-distrik – Erich Mayer-skets
Bron: Ditsong Nasionale Kultuurhistoriese museum
Kort daarna het hulle na die afsonderingshospitaal aan die westekant van Pretoria verskuif waar 32 vrouens in diens geneem kon word. Hierna is die naam van die weefskool na die Lady Clarendon Spinning and Weaving School verander.
Erich het die finansiële en skeppende moontlikehede vir die weef van sy eie ontwerpe raakgesien en het by die weefskool betrokke geraak. So is inheemse motiewe vir die eerste keer in Suid-Afrikaanse weefkuns gebruik en daar het weer ’n bietjie finansiële verligting vir Erich en Marga gekom.
Oorsee
Erich het op 14 September 1934, toe hy 58 jaar oud was, na Italië vertrek met die doel om tot Mei 1936 in Europa te bly waar hy sy studies in die skilderkuns, veral in Florence, wou voortsit. Dié tyd was die hoogtepunt van die weefskool se aktiwiteite en Erich het Marga agtergelaat om die bestellings alleen aan die gang te hou.
Hy was diep teleurgesteld toe hy sien dat weinig klasse aangebied is – die oorlog in Abessinië (Ethiopië) het twee dae voor sy aankoms in Florence uitgebreek. So het hy eerder kort kursusse by kunsakademies in Duitsland bygewoon.

Een van Erich se potloodsketse, 1921
Bron: 5thaveauctions.co.za
In 1936 het die destydse minister van verdediging, spoorweë en hawens, Oswald Pirow, met Marga kontak gemaak. Hy wou weefskole as heenkome vir dogters, wie se ouers aan die SA spoorweë en hawens verbonde was, vestig.
Die minister het Marga op staatskoste Duitsland toe gestuur om inligting in te win oor die vrouearbeidskampe en die verrigting van landsdiens deur dogters om depressienood te verlig. Sy het kortstondig by Erich aangesluit waar hulle saam in Duitsland gereis het.
Marga het gou gesien dat die sogenaamde vrouelandsdienskampe direk by oorlogsvoorbereiding betrokke was. Die vrouens moes lang skofte in fabrieke werk, weg van hulle huis en kinders – ’n mens kan maar sê dit was dwangarbeid. Marga het nooit enige terugvoer van die minister ontvang oor haar verslag oor die haglike omstandighede in dié vrouekampe nie.

Erich se skildery van die lewe in ’n interneringskamp op St Helena
Bron: Robin Woodruff; http://sainthelenaisland.info
Vrees
Sy het teen die einde van Julie 1936 na Suid-Afrika teruggekeer en Erich was in Augustus terug. In dié tyd het Erich vir langer tye op plase gaan woon, deels weens die dreigende Tweede Wêreldoorlog en Erich se diepgesetelde vrees om vir die derde keer geïnterneer te word. Die egpaar is uiteindelik in 1938 geskei.
Die weefskool het tot niet gegaan toe die Tweede Wêreldoorlog in November 1939 uitbreek en die regering sy subsidie aan die weefskool onttrek het. Die 32 vrouens wat daar gewerk het kon ’n beter inkomste by die ammunisiefabrieke in Pretoria kry. Die skool moes ontruim word en die perseel is as ’n ammunisie-opslagplek gebruik.

Een van Erich se ontwerpe vir Suid-Afrikaanse pottebakkerswerk
Bron: Ditsong Nasionale Kultuurhistoriese museum
Erich se planne oor verblyf was in 1939 baie vloeibaar. Hy het oor die hele Transvaal gereis en kunsuitstallings gehou. In 1943 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n eremedalje aan hom toegeken.
Hy is op 10 Augustus 1960 in die ouderdom van 84 jaar in Pretoria oorlede. Dit is nie duidelik wanneer Marga oorlede is nie. Die laaste inligting wat ons oor haar kon vind is toe sy op 13 April 1976 in die kunssaal van die nasionale museum ’n toespraak oor haar lewe saam met Erich gelewer het. Dié toespraak was by die minister van nasionale opvoeding, Piet Koornhof, se opening van ’n herdenkingsuitstalling van Erich se werk.